Dag 1366

 

“ … my twee getuies …”

 (Op. 11:3, OAV)

Uiteindelik kan ons nou kom by die twee opsienbarende getuies van Openbaring 11.

Deur die eeue was die identiteit van hierdie twee enigmatiese figure ‘n teologiese spekulasie van die eerste water. Baie teoloë, soos byvoorbeeld William Barclay se The Revelation of John en John Walvoord se Every prophecy of the Bible, eien hulle as letterlike persone, byvoorbeeld in die gestaltes van Moses en Elia, omdat hulle die twee figure was wat op die berg van verheerliking in die wolk van getuies gemanifesteer het (Matt. 17:3). Ander (soos Tertullianus, Irenaeus en Hippolitus van Rome) weer het hulle benoem as Henog en Elia, omdat hulle die twee persone is wat oënskynlik lewend opgevaar het die hemele in (Gen. 5:24; 2 Kon. 2:11). Ander groeperinge sien die twee meer simbolies, byvoorbeeld onderskeidelik  verteenwoordigend van die Kerk en Israel, die Wet en die Genade, Ou en Nuwe Testament (die Sewende-dag Adventiste), Genade en Waarheid, en so meer. Ander groepe, soos byvoorbeeld die Baha’I’-geloof, noem die twee getuies Muhammad en Alī ibn Abī Ṭālib.

Soveel mense, soveel menings.

Ons moet allereers besef hierdie twee getuies is nie sommer enige twee nie, nee. Hulle word pertinent genoem “My twee getuies” (Op. 11:3), met ander woorde, die Here Jesus (hier voorgestel as die Engelboodskapper) se twee getuies. Interessant dan ook dat die getal twee die getal is van “getuie(nis)”, of dan “witness” (Martin van der Merwe: Numbers Dictionary:A Prophetic Revelation). Deut. 19:15 stel dit onomwonde dat “op die verklaring van twee getuies … sal ‘n saak van krag wees”. Jesus stel dit eweneens onteenseglik as waarheidsbeginsel as Hy in Joh. 8:17-18 verduidelik: “En dit is ook in julle wet geskrywe dat die getuienis van twee mense waar is. Dit is Ek wat van Myself getuig; en die Vader wat My gestuur het, getuig van My.”

Lees nou asseblief weer Sag. 4:1-3. Sentraal in dié simboliese verpakking is die sewevoudige kandelaar of menorah (verteenwoordigend van Geeswerking), wat in die tweede dimensie (of dan die Heilige) staan. Hierdie sewe arms van die menorah ontvang hul olie van ‘n enkele opvangbak, en die olie word voorsien deur die twee olyfbome, een aan elke kant. Hierdie spesiale olie word nie eens as olywe gepluk, in ‘n olyfpers gedruk, soos wat normaalweg die proses is nie. Die olie vloei wonderbaarlik direk uit die olyfbome, of dan – mense)! Duidelik is ons hier in die simboliese Geesrealm waar die salwing vloei uit die getuies. Die lig wat dit meebring, is die illuminasie of verheldering van die gesalfdes se “verligte oë van die verstand” (Ef. 1:18).

Dit is nou derhalwe belangrik om te besef – die twee getuies van Op. 11 is nie twee spesifieke persone nie, maar ‘n simbool van die KRAG wat lê in die Gesalfde, Christus, as twee of drie getuies saamstem. Hierdie oënskynlik eenvoudige waarheid verkry hier enorme klem.

 Sela: Hoekom is hierdie geestelike beginsel van saamstem so belangrik en dra dit krag?

  • Lees: Job 16-18
  • Memoriseer: Job 16:14

Delf dieper:  Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Korporatiewe Salwing ‘As it is in Heav