
“al die lede van die een liggaam, al is hulle baie,
(is) een liggaam, so ook die Christus …”
(1 Kor. 12:12, OAV)
In die laaste Manna het ons die misterie van die twee getuies van Openbaring 11 taamlik eenvoudig opgeklaar – hulle is nie twee spesifieke persone nie, maar ‘n simbool van die krag wat lê in die Gesalfde, Christus, wanneer twee of drie getuies saamstem. Voordat hierdie belangrike gegewe net ‘n bietjie verder toegelig gaan word, moet ‘n spesifieke probleemaspek rondom die twee getuies vinnig hanteer word.
In die loop van die geskiedenis was daar velerlei gelowiges wat hulself die posisie toegeëien het as die vervulling van Bybelse karakters, veral dié wat as voorlopers, simboliese gestaltes of apokaliptiese figure in die Bybel voorkom. Ek het al persoonlik met mense te doen gekry wat vas glo dat hul deur God aangestel is as Josua en Serubbábel (Sag. 3 & 4), of Dawid, of Kores, of Paulus, of ‘n paar wat hulle voorhou as Op. 11 se twee getuies, of Op. 10, 11 & 16 se “sewende engel”; ‘n ander verwarde een het selfs verkondig dat hy die persoonlike mandaat van die Antichris besit! Maar verreweg die meeste Bybelse gestaltes wat sogenaamd vervulling sou vind, is “Elía wat sou kom” (Matt. 11:14).
Mense met geestesafwykinge, soos obsessiewe religieuse gedagtes, delusies of ander sindrome, psigoses of megalomania, is nie nou hier ter sprake nie; hierdie mense is normale, rasionele gelowiges wat vas glo dat hul deur God uitgekies is om ‘n bepaalde rol te speel, en dat dié rol gedetermineer word deur ‘n historiese Bybelfiguur wat nou sy/haar verskyning maak om God se (dikwels apokaliptiese) agenda te vervul. Hulle sien bykans sonder uitsondering hul roeping as profeties, meer dikwels geskoei op die Ou-Testamentiese prototipiese profeetgestalte.
‘n Gelowiges wat homself as die eietydse Elia gesien het, is byvoorbeeld (rondom 1901) John Alexander Dowie; hy het sy bediening hoofsaaklik geskoei op genesingswonderwerke. Volgens Burgess, McGee & Alexander (reds.) se Dictionary of Pentecostal and Charismatic Movements: “he revealed that he had been divinely commissioned as the first apostle of a renewed end-times church” (p. 249).
In dieselfde jaar het Frank Sandford homself ook as die nuwe Elia voorgehou. Met sy dood in 1948 (wat helaas nié ‘n opvaart hemel toe was nie), het die ander groot moderne proponent van die Elias se bediening goed op dreef gekom – William Branham. Hy het homself beskou as die eindtydse engel van die verbond (Mal. 3:1) in die gestalte van Elia (al is dit twee verskillende “persona”). Branham het ‘n baie groot navolging gehad, en vandag is daar steeds bedieninge onder sy naam en vaandel. [Vir ‘n onderskeidende taksering van sy interessante en komplekse bediening beveel ek Andrew Strom se boek, The Enigma Of William Branham, aan.] Branham is in 1965 in ‘n motorongeluk oorlede.
‘n Volgende Eliafiguur wat in die geestelike wêreld groot aanhang geniet (het), veral as gevolg van ‘n volgehoue mediapropagandaveldtog deur radio, televisie, tydskrifte en ander gedrukte materiaal, was Herbert W. Armstrong (1892 – 1986), stigter van die Worldwide Church of God. Hulle het geglo: “God only works through ‘one man at a time’ and that he was God’s selected representative on earth for his time”. [Sien Joseph Tkach se boek Transformed by Truth, veral hoofstuk 12, en Wade Cox se boek: Elijah?.] Armstrong se bekendste produk, die gratis tydskrif: The Plain Truth, het veral Britse Israelisme gepropageer, die oorsprong van die misleiding genaamd die Israelvisie hier in Suid-Afrika. [Sien Manna Dag 176, 623-625 en 1058 – 1060.]
Daar is verskeie ander persone met dieselfde aanspraak, byvoorbeeld Bernard Jordan, wat sy naam later verander het na Biskop Elijah Bernard Jordan (deur die media gedoop: the prophet of profit), en selfs ook Benny Hinn (op die TBN-televisieprogram Praise-a-Thon, Lente, April 1999), het publiek voorgehou dat hulle God se gestuurde Elia was.
Soortgelyke geskiedenisse van ander prototipiese Bybelfigure kom wyd voor, en uiteraard is dit ‘n growwe misleiding. Waarom kan ons dít onomwonde beweer?
Die antwoord op hierdie probleem lê in Armstrong se diktum: “God only works through ‘one man at a time’ and I am God’s selected representative on earth for this time”. Daar lê groot verleiding in om met ‘n grootste historiese figuur skouers te skuur en sy/haar sogenaamde salwing te ontvang. Derhalwe word daar in die Charismatiese en Pinkstergeledere dikwels groot gewag gemaak van hierdie of daardie een se ontsagwekkende groot salwing.
Die woordjie “salwing” soos dit dikwels gebruik word, kom net vier keer in die Bybel, in net drie Skrifte, voor. Let op dat elke keer as dit gebruik word, word dit in ‘n korporatiewe sin gebruik:
- “Salf hulle dan, soos jy hulle vader gesalf het, dat hulle vir My die priesteramp kan bedien. En hul salwing moet vir hulle ‘n ewige priesterskap in hulle geslagte wees.” (Eks. 40:15)
- “En julle het die salwing van die Heilige en weet alles.” (1 Joh. 2:20)
- “En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly.” (1 Joh. 2:27)
Hierdie saak van korporatiewe salwing moet reg verstaan word. Laat ons dit onomwonde reguit stel – alle salwing kom van die Gesalfde, Jesus Christus. Die ganse geskiedenis van Israel het gewentel om hierdie salwing te vestig, soos Dan. 9:25 dit stel: “om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde”. Vóór hierdie Gesalfde (Jesus die Gesalfde) die totale scenario van Ou-Testamentiese salwing kom verander het, was dit so dat enkele persone wel gesalfdes genoem is, veral omdat hulle byvoorbeeld fisies gesalf is [ampshalwe, soos die priesters (Eks. 40:15) en konings (1 Sam. 15:17) en profete (1 Kron. 16:22)], of as Ou-Testamentiese skadubeelde van die Messias (bv. Kores – Jes. 45:1) gesalfdes genoem is. Hier was die salwing eksemplaries en individueel, maar dit het alles gelei (“is opgebou”) tot dié Een oor wie in Jes. 61:1-3 geprofeteer is: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE en ‘n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking.”
Wanneer hierdie profesie vervul is in die ore van die uitverkore volk, die Jode (Luk. 4:18-21), word dit eksplisiet gestel: “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.” (Hand. 17:3). Jesus is die Bron van alle salwing. Maar let asseblief op: as ‘n mens Jes. 61:1-3 hierbo fyn lees, is die salwing nie ‘n salwing vir sigself nie, dit moet soos die salwingsolie van Serubbábel wees wat olie “laat uitstroom” (Sag. 4:12) na die Liggaam. Alle salwing-geskakeerdheid wat in die Gesalfde is, is ter wille van hulle wat die salwing ontvang! Die salwing word gegee sodat ‘n blye boodskap gebring kan word; die salwing word gegee om die gebrokenes van hart te kan verbind; die salwing word gegee om treurendes te troos; die salwing word gegee om “’n planting van die Here” teweeg te bring, “tot sy verheerliking”.
Die frase “tot sy verheerliking” is in Engels “that He may be glorified” (ACV), maar eerder: “to honor His name” (CEV). ‘n Naam dui op ‘n identiteit (Hoogl. 1:3 – “thy name (is) ointment poured forth” – KJV). Met ander woorde – die salwing van die Gesalfde is om Sy identiteit in die menigvuldige gesalfdes gestalte te laat kry!
Alles ontspring uit Jesus (Joh. 1:3), ook alle salwing. Die feit dat die salwing afloop oor die Hoof (Ps. 133:2), oor die hele Liggaam, bring mee dat die gesalfde gelowige maar net deel in die Hoof se salwing. Derhalwe is alle salwing korporatief van aard en behoort dit kollektief aan Jesus die Christus.
In sy uitstaande boek van meer as 75 jaar gelede, The Anointing of the Holy Spirit, vat T. Austin-Sparks dit baie raak saam: “Let me say the simplest thing about this, that the New Testament knows nothing of merely separate, individualistic anointings. I did not say individual anointing, I said individualistic anointings. Of course, you will have to understand the usage of words to appreciate that distinction. The anointing does come upon us individually as members. We are not all one member, but many, and every member is anointed, but there is a difference between an individual anointing and an individualistic anointing. That which is individualistic would mean that the member is a separate thing, something apart, detached. That is what we mean by individualism, which is one of the isms that is not recognised by the Lord. It goes into the category of false teaching; individualism. That is, that which makes any man or woman something in themselves apart, a law unto themselves, a separate entity; one by themselves doing their own work, thinking their own thoughts, even religiously and spiritually. There is no such thing in the eyes of the New Testament as individualistic anointing.”
Maar dit beteken dan ook nie dat elke gelowige deel is van ‘n grys algemeenheid van ononderskeibare korporatiefheid nie. Die ganse Skrif benadruk dit dat elkeen van ons na liggaam, siel en gees eiesoortig “kunstig geweef” is (Ps. 139:13-16). Soos vir Jeremia, het God sy eie bloudruk vir elke uitverkorene: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak.” (Jer. 1:5). In Jes. 49:1 word hierdie kenne van God duidelik in ‘n roeping ingefaktoriseer: “Die HERE het my geroep van die moederskoot af, van my geboorte af het Hy my naam genoem.” Daarom sal Paulus verklaar dat hierdie roeping ‘n spesifieke doel voor oë het: “God … wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het, om sy Seun in my te openbaar” (Gal. 1:15-16). Daardie unieke onderdeel van wie Jesus die Christus IN my is, my rhema-identiteit, word deur die korporatiewe salwing, die doping in Christus, verlewendig tot iets spesifiek individueel. Sela.
Die korporatiewe salwing dra as ‘t ware die spesiale individuele roeping. Daarom kon God oor Saulus sê: “want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel” (Hand. 9:15). Daarom kan Jesus vir sy dissipels sê: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel …” (Joh. 15:16); daarom noem Paulus in Rom. 1:1 homself “‘n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God”; daarom word Bárnabas en Saulus vir God se werk, waarvoor Hy “hulle geroep het”, afgesonder (Hand. 13:2).
Inderdaad is dit soos 1 Kor. 12:12 dit raak uitspel: “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook die Christus.” [Behalwe wanneer dit as eienaam vir Jesus gebruik word, word Christus ALTYD met die lidwoord die geskryf, iets wat jammerlik in ons vertalings ontbreek.] Dus: God does not only work through ‘one man at a time’.
- Sela: Het jy die korporatiewe salwing ontvang? Wat beteken dit?
- Lees: Job 19-27
- Memoriseer: Job 19:23-24 (wat ‘n lieflike profetiese Skrif oor die kiemsel van hierdie lering)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die doping in Christus