Dag 137

 

“Want God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie.”  (Job 33:14, OAV)

Ons gaan nie ‘n detailonderskeid maak tussen drome en visioene nie. Breedweg kan ons sê dat hierdie wyses waarop God met jou praat ‘n visuele simbooltaal genoem kan word. Drome vind plaas terwyl jy slaap, terwyl visoene plaasvind terwyl jy wakker is; dit speel dus in jou geestesoog af as ‘t ware. ‘n Mooi voorbeeld van ‘n visioen is in Dan 10:4-7: “En op die vier en twintigste dag van die eerste maand, terwyl ek op die wal van die groot rivier was, dit is die Hiddékel, het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek ‘n man met linne bekleed, en sy heupe was omgord met goud van Ufas.   En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van ‘n menigte. En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam met my was, het die gesig nie gesien nie …”

Dieselfde beginsels vir ‘n droom geld ook vir visioene en ons hanteer albei as soortgelyk in hierdie bespreking.

Geestelike drome is ‘n wyse waarop God met jou praat en kan ‘n paar moontlike redes ten grondslag hê. Dit kan gaan oor onmiddellike sake en gepaardgaande opdragte, soos in Hand 16:9-10: “En Paulus het ‘n gesig in die nag gesien—daar staan ‘n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons! En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedónië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig.” Dit kan rigtinggewend wees rondom persoonlike en praktiese sake (Jakob se drome in Gen 31); dit kan profeties wees ten opsigte van toekomstige gebeure en dispensasies (soos Josef se drome in Gen 37:9-11); dit kan wees om geestelike waarhede en wetmatighede te kommunikeer (Hand 10:10-16); dit kan oor persoonlike roeping en destiny gaan (byvoorbeeld Salomo se droom in 1 Kon 3:5 en Faroa se droom in Gen 41:1-8); dit kan waarskuwend wees (die drome van Abimeleg in Gen 20:3-7, die wyse manne in Mat 2:12 of Pilatus se vrou in Mat 27:19); dit kan strategies wees (soos God die Mideaniete laat droom het oor Gideon, opgeteken in Rigters 7:13, of al Josef se drome oor Jesus se veiligheid in Mat 1 en 2); dit kan oor die lotgevalle van ‘n volk gaan (Jakob se droom in Gen 15 of die ekstensiewe droom wat in Dan 4 gedokumenteer word). Die hele boek Openbaringe is die optekening van droomvisioene waarop die eietydse kerk se eindtydleer gebaseer is.

  Drome moet egter altyd ook altyd geestelik onderskei word, want die vyand kan ook drome saai en sodoende verkeerde counsel tot stand bring (Deut 13:1-3). In Job 4:12-16 word hierdie onderskeiding uitgespel: “Verder is ‘n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het ‘n gefluister daarvan opgevang, by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val. Skrik het oor my gekom en siddering en het my hele gebeente laat bewe. Toe skuif daar ‘n gees voor my verby; die hare van my vlees het opgerys. Hy bly staan, maar ek kon sy gedaante nie herken nie—’n verskyning voor my oë!” 

  • Sela:  Bestudeer die gedeelte in Job hierbo in konteks en vra God onderskeiding in drome.
  • Lees: 1 Sam 23; Ps 145; Luk 20
  • Memoriseer:  Ps 145:18
  • Vir dieper delf: Lees Robin McMillan se artikel oor Jesus – the man of peace in The Morning Star Journal vol 16(2), Spring 2006 en bepaal die verband met Ps 17:15.