“who served his own generation in the plan of God”
(Hand. 13:36, ACV)
Die twee-en-twintigste kenmerk van die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel waarmee ons die laaste paar weke mee besig is, het met meting te doen, spesifiek dan die meting van die goue altaar, oftewel die reukofferaltaar van Openbaring 11. Dit het gelei tot ‘n ondersoek van die twee getuies, wat volgens vers 4 ook “die twee olyfbome” (van Sag. 4:3, 11 & 14) is. Maar interessant word hulle ook in dieselfde vers “die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan”, genoem.
Net twee van die gemeentes wat in Openbaring hoofstuk twee en drie genoem word, verkry van God ‘n skoon geestelike oudit. Hulle is geweeg en NIE te lig bevind nie (Dan. 5:27)!
God weeg in heerlikheid. Die woordjie vir heerlikheid in Hebreeus is kabod, en in Grieks doxa, en albei se wortelbetekenis is “heavy”! As jy “ontbreek … aan die heerlikheid” van God (Rom. 3:23), word jy te lig bevind. God kan dus byvoorbeeld in een denkbeeldige geestelike skaal ‘n handjievol gelowiges se gewig van heerlikheid meet en dit kan veel, veel meer weeg as ‘n hele stad vol ongelowiges. Hierdie “alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Kor. 4:17) sou ewe gemaklik in ‘n ander “meetbare” kommoditeit gebruik kan word, bv dan in lenge, hoogte, dimensie, wat ook al. Die meting van die tempel en die lofofferaltaar is dieselfde tipe onderneming, ‘n ander tipe maar soortgelyke bepaling van die “volle maat” (2 Sam. 8:2), “sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Ef. 3:19). Dit is van hierdie volle maat of gewig van heerlikheid waarvoor Jesus gebid het in Joh. 17:22: “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het …”, en: “Ek is in hulle verheerlik” (vers 10).
Terug by die twee ekklesias in Op. 2-3 wat nié enige ernstige vermaning of berisping ontvang het nie, maar net aanprysing, aanmoediging en wonderlike beloftes, naamlik die ekklesia van Smirna en die ekklesia van Filadelfía. Al die gemeentes wat genoem word, word gekenskets deur ‘n kandelaar: “die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes” (Op. 1:20). Vyf van die gemeentes loop die gevaar dat hul hul kandelaar kan verloor (Op. 2:5). In Op. 11:7 word hulle gedefinieer op grond van hul getuienis: “En wanneer hulle hul getuienis voleindig het …” Hierdie twee gemeentes is dus albei getuies, en saam vorm hulle die simboliese verteenwoordiging van die oorblyfsel. Vir ‘n vollediger uiteensetting van die begrip oorblyfsel gaan lees weer Manna Dag 1173 – Dag 1176, maar hier is ‘n kort opsomming daarvan:
- Deur al die eeue is daar ‘n oorblyfsel wat die getuienis dra van God se raadsplan op aarde. Hul hoë roeping en verkiesing is soos Dawid s’n, “who served his own generation in the plan of God” (Hand. 13:36, ACV), deel van ‘n getuienis deur die eeue van God se voltrekkende agenda.
- Die oorblyfsel is die klein groepering van gelowiges deur die eeue waarbinne God sy Goddelike saad gestort het, en wat hulle in ‘n getuienis bewaar het in die absolute hoop en geloof dat God se meesterplan deur die eeue onteenseglik besig is om tot volvoering te kom.
- Die sogenaamde oorblyfsel (of remnant dan) beteken veral dat God in hulle die saad van Sy universele bloudruk bewaar deur “die woord van hulle getuienis” (Op. 19:10).
- Daar is deur die eeue ‘n ontsagwekkende poging van die koninkryk van duisternis “to make war with the remnant of her seed, those keeping the commandments of God, and having the testimony of Jesus” (Op. 12:17, ACV).
Dwarsdeur die eeue is daar ‘n getroue groepering, die oorblyfsel, altyd min in getal, wat God bewaar het om sy saad te dra. In die sogenaamde kerkeeue, sedert die eerste dag tot die sesde dag na die eerste Adam, of dan die eerste en die tweede dag na die laaste Adam (Hos. 6:1-3; 2 Pet. 3:8; 1 Kor. 15:45), het die oorblyfsel die getuienis van Jesus bewaar (ja, selfs diégene in die ou verbond – lees weer die hele hoofstuk elf van die boek Hebreërs). MAAR HULLE IS NIE die gemanifesteerde seuns van God nie (Rom. 8:19). Die gemanifesteerde seuns van God, die “manchild” (Rotherham), kry eers later gestalte, in Op. 12:5 & 13. Dit is hulle wat “weggeruk na God en sy troon” is – hulle regeer met ander woorde – daar regeer hulle “al die nasies met ‘n ystersepter” (vers 5). [Ons het al die jare inlegkunde gepleeg met Ef. 2:6, wat eksplisiet sê ons is “saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus”, maar wat absoluut nié impliseer ons regeer nou reeds nie.]
Tot nou toe in die geskiedenis het die ideaal van heerskappy uit die troon van God in en deur verlostes helaas nog nie gebeur nie. Hierdie regeerders ontvang eers hulle koningskap ná die geklank van die sewende trompet, waar die misterie van Christus IN ons “voleindig is” (Op. 11:7): “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus …” (Op. 11:15). Tot nou toe in die geskiedenis het dit nog nie formeel realisering verkry nie. Die twee getuies ontvang hulle bediening en krag en outoriteit onder die gesag van die sesde trompet wat geblaas het. (Dit is daarom ook nie vreemd dat dit gepaard gaan met die meting van die goue altaar nie, want Op. 9:13 stel dit duidelik: “En die sesde engel het geblaas, en ek het ‘n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is …”)
Hierdie twee getuies, die tipologiese oorblyfsel deur die eeue, het gesterf, en volgens die tipologie van Op. 11:12 het hulle “opgevaar na die hemel in die wolk”. Let wel – hulle is opgeneem in die wolk van getuienis (Heb. 12:1), en beslis nie na die troon van God nie. Die twee getuies, die oorblyfsel, is deur die eeue deur “die dier wat uit die afgrond opkom”, wat “teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak” (Op. 11:7), oorweldig. Die Manchild word nooit overcome nie – hulle regeer oor alles!
Die company of witnesses deur die eeue het gestalte gekry deur die gees van profesie, wat “die getuienis van Jesus is” (Op. 19:10). Maar die Manchild is die volvoering van daardie profesie, en wat ons kan noem die getuienis van Christus! Sela.
Anders as wat ons nog altyd gedink het, is dit belangrik om te besef dat die kompanjieskap van die twee getuies, of die oorblyfsel dan, as ‘t ware die weg open tot ‘n ‘n nuwe spesie op aarde, die gemanifesteerde seuns van God, of die Bruid, die Manchild.
Hierdie heerlike tydvak wat gestalte begin kry het met die eerste sooie wat in die gees gespit is sedert 1899 tot 1907, van die krygsgevangenes van St. Helena to by Azusa Street in Los Angeles, Amerika en in 1948 wêreldwyd ‘n absolute hoogtepunt bereik het met Geesontdekking en –herlewings. Dit was ‘n tydperk van tekens en wonders en wonderwerke. Die krag van God het deur die magtige werkinge van die Heilige Gees deur allerlei genadegawes oorvloedig gewees. Daardeur het die oproep tot gemanifesteerde seunskap gekom.
Maar daardie epog van die tweede dimensie het aan sy einde gekom met die draai van die vorige eeu. Die volgende groot gebeurtenis op God se kalender dan is die geboorte van die “godeseun” (Dan. 3:25), die Manchild.
Ons gaan nie nou in verdere detail in rondom die twee getuies van Openbaring 11 en die magdom inligting wat simbolies hanteer moet word nie – dit was belangrik om net vir nou die regte fondasie rondom hierdie belangrike verwysing te vestig.
Wat wel op dié tydstip hier rondom nog steeds vir ons van belang is, is dat Op. 11:8 van die twee getuies sê: “en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is”. Ons gaan dit gebruik om te wys dat die twee getuies nie net dui op positiewe ontvouing van God se verlossingsplan nie, maar dat die korporatiewe implikasies van die twee getuies se dood ook veel vir ons ter lering en stigting bied. Alhoewel daar geweldig geestelike dinamika was met die vestiging van die eerste en tweede dimensie, en dit ‘n groot skare getuies in die wolk van getuies opgerig het, het dit die korporatiewe ekklesia met die loop van jare helaas terselfdertyd mettertyd geestelik arm en korrup gemaak.
Israel, die Ou Testamentiese Bruid, is in haar apostatiese toestand deur die Ou Testamentiese profete getakseer met die (vir hulle) afgryslike begrippe: Sodom (en Gomorra) en Egipte. Die stad van God, Jerusalem, waar die grootste gebeurtenis van Jesus se kruisiging plaasgevind het, het geestelik só besoedel geraak dat dit lyk na die stede wat God se toorn verdien. Kyk na die volgende voorbeelde:
- “Hoor die woord van die HERE, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra!” (Jes. 1:10)
- Oor Jerusalem word gesê: “Ag, hoe het die getroue vesting ‘n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag—en nou moordenaars! Jou silwer het skuim geword; jou wyn is vervals met water. Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na …” (Jes. 1:21-23)
- “As die HERE van die leërskare vir ons nie ‘n klein oorblyfsel oorgelaat het nie—soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het.” (Jes. 1:9)
As ons dit in ander terme moet vertaal, sou dit beteken dat die einste geloofsuitoefening en –manifestasie wat deel van God se plan was, en die impartasie van menigvuldige Goddelik-georkestreerde herlewings, wat in die Gees begin het, uiteindelik in die vlees geëindig het (Gal. 3:1). Die dier uit die diepte van die Adamiese natuur het uiteindelik die getuienisse in die stad van godsdiens stil gemaak. Hierdie stad is bevolk “met mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim. 3:5). In Jes. 29:13-14 word dit mooi in reliëf gestel: “En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.”
In Jes. 5 beredeneer God hierdie wetmatigheid van apostasie (= ‘n wegkeer van God, of ‘n vervleesliking in religieuse gedaante) deur Israel as voorbeeld te gebruik, maar dit kan van enige saak/bediening/beweging/kerk/groep/wat ook al, waar wees – God plant hul as edele wingerdstok, daar is veel goeie vrug, maar na verloop van tyd – sonder dat daar gewaak word oor die opregtheid van hart – dra die prieel wilde druiwe, en gee God dit oor aan die vergetelheid en die oordeel. Dit beteken nie die aanvanklike planting was nie God se wil nie, of dat daar nie goeie dinge wat in God se wil is daaruit voortgespruit het nie. Die teendeel is dikwels waar.
Dus, ten spyte van die absolute geestelike hoogtepunte van die tweede dimensie het dit met die loop van tyd uitgeloop in dodelike godsdiens. Religion, het die sanger Bono gesê, is what remains when God has left the building.
- Sela: Verduidelik die twee getuies simbolies aan iemand.
- Lees: Job 28-36
- Memoriseer: Job 19:23-24 (wat ‘n lieflike profetiese Skrif oor die kiemsel van hierdie lering)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die beendere van Josef: die ‘founding history’
van ElijahAfrica.