Dag 1374-1375

 

“Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets,

sal ek soos goud te voorskyn kom.”

(Job 23:10, OAV)

 

Die vorige Manna het steeds gehandel oor ‘n eksegese van Openbaring 11, spesifiek rondom die gebeure betreffende die twee getuies. Dit het gelei tot ‘n nuwe verstaan van die wese van die oorblyfsel. Ons het toe ook afgesluit met die gedeelte wat die eietydse kerksisteem beskryf as Sodom (en Gomorra) en Egipte. Daar is uitgewys hoe die einste geloofsuitoefening en –manifestasie wat deel van God se plan was, en die impartasie van menigvuldige Goddelik-georkestreerde herlewings, wat in die Gees begin het, uiteindelik in die vlees geëindig het. Die dier uit die diepte van die Adamiese natuur het uiteindelik die getuienisse in die stad van godsdiens stil gemaak.

Net dalk nog ‘n enkele gedagte oor die simboliese waarde van die begrip ‘Egipte’, waarmee die eietydse kerksisteem benoem word in Op. 11:8. Egipte is die simbool van geestelike gevangenisskap en verdrukking onder die dwingelandy van religieuse sisteme wat gelowiges se lewens wil reguleer, beheer en manipuleer. Hul tyd, geld en talente/roeping word deur die kerk verswelg en misbruik tot opbou van die sisteem.

In die Hebreeuse piktografie beteken die lemma ‘Egipte’ “the twice-narrow place”. Dit is ‘n plek van benoudheid en kloustrofobia waarin jy vasgevang is. In Ps. 118:5 (CJB) sug Dawid: “From my being hemmed in I called on Yah …” Let wel: Egipte is ‘n toestand van die gees. As die gelowige nié kan insien dat die godsdienstige sisteem hulle inperk nie en nié die gevolge van hierdie gebondenheid onderskei nie, is hulle onteenseglik in Egipte.

Die volgende twee verse, Op. 11:9-10, vra spesifieke interpretasie in die lig van wat hierbo verduidelik is: “En mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal hulle lyke drie en ‘n halwe dag lank sien en nie toelaat dat hulle lyke in die graf gelê word nie. Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir mekaar geskenke stuur, omdat dié twee profete die bewoners van die aarde gepynig het.”

Hulle wat verheug is oor die oënskynlike totnietmaking van die oorblyfsel se getuienis, word hier “die bewoners van die aarde” genoem, of eerder dan: aardbewoners, “all the people who belong to this world” (NLT), duidelik vleeslike Christene, gelowiges wat “aards, natuurlik, duiwels” (Jak. 3:15) is. Dié godsdienstige mens wat “uit die aarde aards” (1 Kor. 15:47) is, soek nie die volvoering van Christus-in-my nie, maar soek ‘n aardse beloning, rykdom, vooruitgang, seëninge, oorvloed, total well-being. Die getuienis van die twee getuies het die gewete van hierdie vleeslike gelowiges getormenteer. Jesus se woorde in Joh. 15:18 is steeds die waarheid: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.”

Daar is dus ‘n algemene gevoel van feesviering en jolliepatrollie in die vleeslike kerk, sensasioneel, vermaak-georiënteerd, wat gerig is op die plesier van die massas en wat die skares kan trek, vol mensgemaakte programme en bestuurde opwinding. Die ware profetiese stem is vir die meeste vreemd en ‘n pyniging, want die massas soek net ‘n stem wat die gehoor kan streel (2 Tim. 4:3). Elke “deelgenoot … van die ontroues” sal derhalwe “gepynig” (Luk. 12:46) word deur die stem van die oorblyfsel (Hag. 1:12).

Die woordjie “gepynig” klink op die oor af onvanpas wreedaardig, maar dit is omdat die ryk Griekse geskiedenis van hierdie woordjie nie naastenby in die vertaling daarvan verreken word nie. Die woordjie wat vir “gepynig” [“torment” in bykans alle vertalings, ook “vexed”  (Bishops), maar nader aan die oorspronklike in “brought judgment” (HCSB), nog beter: “pricked the conscience” (MSG)”] gebruik word, basanismos, kom van die wortelwoord basanos wat toetssteen of touchstone in Engels beteken. Wikipedia verduidelik soos volg: “A touchstone is a small tablet of dark stone such as fieldstone, slate, or lydite, used for assaying precious metal alloys. It has a finely grained surface on which soft metals leave a visible trace.” Metafories is dit uiteraard enige saak waarteen die geldigheid, meriete of waarde gemeet of getoets kan word. (Dit is duidelik ook die primêre opdrag aan Johannes aan die begin van Op. 11 as hy aangesê word om die tempel te meet.) In vergange tye is die toetssteen veral gebruik om te toets of ‘n stukkie metaal weliswaar goud is, of simbolies gesien: om te toets of iets waarheid is, genuine is.

Jy kan dan mooi insien dat die twee getuies nie soseer die aardbewoners getormenteer het in die streng sin van die woord nie. In die Griekse leef- en denkwêreld het die gebruik van die betekenis van toetssteen mettertyd verruim geword, en het dit langsamerhand tormenteer geïmpliseer deurdat tronkbewaarders ook gevangenes getormenteer het om die waarheid uit hulle te kry (“being tested with torture”). Dus is die afgeleide woord van toetssteen ook metafories van toepassing gemaak op tronkbewaarders. Daarom lees ons byvoorbeeld in die evangelies in die gelykenis van die onbarmhartige slaaf dat sy baas hom “in toorn oorgegee (het) aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was” (Matt. 18:34). Die ALTNT-vertaling gee byvoorbeeld albei moontlikhede: “the torturers [or, jailers]”, terwyl byvoorbeeld die ESV, WNT, RSV en HCSB dit net as “jailers” voorhou. Die International Standard Bible Encyclopaedia sê hieroor: “Probably the imprisonment itself was regarded as ‘torment’ (as it doubtless was), and the ‘tormentors’ need mean nothing more than jailers.”

Op hierdie noot wil ons net ‘n effens aanverwante afdraaipaadjie stap ter verheldering van ‘n spesifieke saak. Daar staan geskrywe in Op. 20:10 – “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”

In Manna Dag 740 – 778 is uitvoerig geskryf oor die poel van vuur en swawel, en die verrassende gevolgtrekking dat die Bruid van Christus hierdie vuuroond van toetsing vorm! [Sien ook Delf Dieper hier onder.] As die seuns van God, die ware Liggaam, wat die standaard van “die mate van die volle grootte van Christus” (Ef. 4:13) is, word, word dit tergelykertyd ook die toetssteen “waardeur … die wêreld veroordeel” word, soos van Noag se standaard van gehoorsaamheid in Heb. 11:7 gesê word.

Maar die vraag bly nog altyd pla – waarom sal die duiwel en die dier en die vals profeet IN DIE BRUID AS VUUROOND “gepynig word tot in alle ewigheid”?

In die lig van die verduideliking van die oorsprong van die woordjie “gepynig” is dit dus nou baie duideliker. Die Bruid van Christus gaan nie tot in ewigheid hierdie bose gestaltes tormenteer nie, net soos die twee getuies nie die sinlike wêreld sal tormenteer nie. Satan, die dier en die vals profeet sal getoets word deur die Bruid as toetssteen, en derhalwe sal hul vir ewig verdoem word deur daardie waarheid in die veiligste hoogsekuriteitsgevangenis van alle tye: die ewige dood.

Dus – die twee getuies leef die getuienis van Jesus (en sy goddelike natuur IN hulle) uit, en die sinlik-vleeslike aardbewoners word deur daardie toetssteen in hulself “deur hul gewete bestraf” (Joh. 8:9), totdat “hulle gewete saam getuienis gee” (Rom. 2:15) van ‘n oortuiging getoets deur die Woord en die Gees, vir ‘n eie waarheid en suiwerheid.

  • Sela: Is jy al deel van die standaard van die vuuroond?
  • Lees: Job 37-42
  • Memoriseer: Job 38:7
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Bruid as Vuuroond