“Hoe goed kry jy jou pad om liefde te soek!”
(Jer. 2:33, OAV)
In die vorige Manna het ons uitgekom by ‘n groot geheimenis wat bepaald ‘n totale reformasie van ongekende krag en sinergie kan meebring wat die totale wêreld sal verander! Ons het geëindig met Ef. 3:17 “sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is …” Die wyse waarop die rhemawoorde in mekaar woning vind, is NET moontlik as ons in die liefde gewortel en gegrond is. Vir hierdie en die volgende paar Mannas sal ons die ontsaglike belangrikheid van liefde onder die soeklig plaas.
Tot en met Lev. 19:18 is alle verwysings van Génesis af oor liefde hoofsaaklik tussen mense wat mekaar liefhet. Nêrens is daar byvoorbeeld sprake van God se liefde (dit kom vir die eerste keer eers voor in Deut. 6:5), of wat ‘n mens naasteliefde kan noem nie. Hierdie vers spel vir die eerste keer God se verordening rondom hierdie ontwykende konsep uit: “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” Die naaste word redelik wyd geïnterpreteer, want ‘n paar hoofstukke later word ‘n sterk uitspraak gemaak oor wat die Israeliete se ingesteldheid moet wees teenoor vreemdelinge (met ander woorde mense uit ander nasies wat in jou gebied is): “Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in Egipteland.” (Deut. 10:19).
In Deut. 30:6 word vir die eerste keer eksplisiet gestel dat die mens nie in staat is om natuurlik lief te hê nie, en watter meganisme God daargestel het om die kapasiteit moontlik te maak: “En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.” Hierdie is ‘n absolute sleutelteks waarnatoe ons weer sal terugkeer.
Vanaf Hoogl. 2:4 word daar ‘n liefdesverhouding tussen God en mens voorgehou: “Hy het my in die wynhuis ingebring, en sy vaandel oor my was die liefde.” Met die koms van die groot profete word ook histories beslag gegee aan hierdie liefde van God teenoor die mens: “Die HERE het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.” (Jer. 31:3; ook Hos. 11:4)). In Hos. 6:6 erken die Skepper: “Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie …” Die liefde word dan die maatstaf van die mens se verhouding met God en die res van die mensdom, en ten nouste gekoppel aan geregtigheid: “Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde …” (Hos. 10:12). Die liefde moet beoefen word (Hos. 12:6); “wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8). Sag. 7:9 vat die Ou-Testamentiese ingesteldheid teenoor die liefde netjies saam: “So het die HERE van die leërskare gespreek en gesê: … (B)ewys liefde en barmhartigheid die een aan die ander.”
- Sela: Kan jy die duidelike posisie aangaande die liefde in die Ou Testament raaksien?
- Lees: 10-12
- Memoriseer: 11:3
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Riaan Rauch: Jeshua verskyn in Liefde as die uitnemende weg