Dag 138

 

“Ek het ‘n droom gehad, en my gees is onrustig om die droom te verstaan.” (Dan 2:3, OAV)

In die volgende twee mannas gaan ons stilstaan by algemene riglyne rondom die interpretasie en verstaan van geestelike drome en visioene. 

Eerstens: Omdat drome maklik geroof word (Job 20:8), is dit baie belangrik dat ons ‘n regte ingesteldheid daarrondom sal ontwikkel: neem jou drome as geestelike persoon ernstig op (1 Kor 2:14-15). Vra God eksplisiet om só met jou te praat. Hou ‘n joernaal langs jou bed waarin jy onmiddellik as jy wakker word (of deur die Gees wakker gemaak word) die droom kan neerskryf. As dit nie gebeur nie, is die kanse uiters skraal dat jy in die oggend die droom sal kan onthou, selfs al het jy dit horisontaal-onder-duvet ‘n paar keer vir jouself oor en oor vertel. Die droom word dikwels geroof as gevolg van jou luiheid (Spr 19:15; Pred 10:18) en derhalwe kan jou geestelike huis nie gebou word nie.  

Tweedens: God gee die interpretasie van drome en visioene. Soos Daniël (2:17-18) moet ons na God toe gaan om die geheimenis van drome te ontsyfer, al bespreek ons dit – soos hy – met vriende. Moet nie algemene konsensus tussen geestelike vriende oor jou drome soek nie. Hulle mening oor jou drome is hoogstens interessant, maar dikwels eerder misleidend. Maak soos Gideon wat, toe hy luister na die uitleg van ‘n droom, die interpretasie by God gaan toets het (Rigters 7:13-15). Inderdaad, soos Daniël (2:21b-22) dit uitspel: “Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.” God dus is “die Openbaarder van die geheime” (vers 29) en daarom kan Daniël onomwonde verklaar: “En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur ‘n wysheid wat in my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die uitlegging …gemaak sal word” (vers 30). In vers 45 word hierdie eerste beginsel by geestelike droomuitleg raak gestel: “Die grote God het …bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.” Onthou Spr 28:5: ”die wat die HERE soek, verstaan alles”.

Derdens: drome is simbolies, en die meeste van die tyd (95%) persoonlik van aard. As jy van ander persone droom, gaan dit nie noodwendig oor hulle en iets wat God vir hulle wil sê deur jou droom nie (baie misleiding vind so plaas) – persone in jou droom verteenwoordig dikwels iets baie spesifiek rondom/vir JOU. Vra jou dus af: wat verteenwoordig hierdie persoon in my lewe? Met die loop van tyd ontwikkel jy ‘n persoonlike droomsimboliek. As ek byvoorbeeld droom oor my pa, het dit met die loop van tyd duidelik geword hy verteenwoordig God in my drome. As ek van my ouerhuis droom, dui dit derhalwe op die apostoliese huis waartoe ek behoort, ElijahAfrica. My seuntjie Josua verteenwoordig byvoorbeeld my bediening. Ek het ‘n ernstige probleem met enige droomsimboliekwoordeboek wat vaste betekenisse aan sekere items, kleure, en so meer, heg. Die Bybel gee dikwels simboliese betekenisse (bv blou as die kleur van die Heilige Gees), maar vir jou kan blou bes moontlik ‘n totaal ander betekenis dra. Vra God vir die betekenis!

  

  • Sela: Neem een van jou opgetekende drome en probeer die beginsels hierbo toepas.
  • Lees: 1 Sam 24; Ps 146; Luk 21
  • Memoriseer:  1 Sam 24:16
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd: Algemene riglyne tov die interpretasie van drome.