Dag 1380-1382

 

“Daar is geen ander gebod groter as dié nie.”

(Mark. 12:31, OAV)

 

Ons het in die vorige Manna uitgekom by ‘n groot geheimenis wat bepaald ‘n totale reformasie van ongekende krag en sinergie kan meebring, wat die totale wêreld sal kan verander – die wyse waarop die rhemawoorde in mekaar woning vind, is NET as ons in die liefde gewortel en gegrond is. Dáárin setel die krag! Die ontsaglike belangrikheid van liefde in die Ou Teatament is in Manna Dag 1379 onder die loep geneem. Nou gaan ons kyk na hoe die Nuwe Testament hierdie kernsaak voorhou en “bedink wat liefde is”.

Die heel eerste verwysing na liefde in die Nuwe Testament is heel gepas dan ook ‘n proklamasie van God oor sy Seun Jesus tydens sy doop: “En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” (Matt. 3:17). Kort daarna bring Jesus ‘n verruiming van die Ou Testamentiese wetsbepaling van Lev. 19:18 en stel Hy dit onomwonde in Matt. 5:43-44: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg…” (Kyk ook Matt. 19:19; Luk. 6:35.)

Wat bekend staan as die groot liefdesgebod word uitgespel in Matt. 22:37-39 – “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” In Mark. 12:31 word daarby gevoeg: “Daar is geen ander gebod groter as dié nie.” Mark. 12:33 voeg hierby die frase: “uit die hele krag”, en stel dit dan onomwonde teenoor die ganse Ou Testamentiese kultus van boetedoening: “om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers”. Sela asseblief hieroor.

Liefde as ‘n geestelike wetmatigheid in die Nuwe Testament strek veel wyer as die uitoefening daarvan in die ou verbond. Trouens, ek en jy is “verlos … uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kol. 1:13), maar die uitverkiesing tot die liefde was reeds in die voortyd: “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees” (Ef. 1:4).  Jesus praat derhalwe selfs van ‘n “nuwe verbond” met ‘n gespesifiseerde fokus: “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Joh. 13:34-35). [Sien ook Mark. 12:31; Joh. 3:23; Rom. 13:8-10; Gal. 5:14; 1 Joh. 3:11; 2 Joh. 1:5-6; geen wonder nie Jak. 2:8 noem die wet van die liefde die “koninklike wet”.]

Hierdie nuwe gebod vir die nuwe verbond is genestel in God se wesensaard van liefde – want inderdaad: “God is liefde.” (1 Joh. 4:8). Hy is weliswaar, soos die bekende geestelike liedjie van Attie van der Colf ook dit uitspel “die Bron van liefde”. In Rom. 5:5 word hierdie wonderbaarlike waarheid dan meegedeel: “die liefde van God (is) in ons harte uitgestort … deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is”. Dink net vir ‘n wyle hieraan – die totaliteit van God se wesensaard, liefde, is reeds in totale volheid in die “geroepenes van Jesus Christus … al die geliefdes van God, (die) geroepe heiliges” (Rom. 1:6-7) se harte uitgestort! Dié verbysterende enormiteit van die omvang van hierdie liefde van die Een wat die ganse wêreld liefhet (Joh. 3:16), woon nou in ons. Trouens, in sy eerste sendbrief skryf Johannes, die apostel van die liefde: “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom. Hierin het die liefde by ons volmaak geword …” (1 Joh. 4:16-17). Hoe absoluut merkwaardig! Ons kom later hierna toe terug.

Dit is met ander woorde nie meer ‘n kwessie om te probeer om vir mense lief te word nie, nee – dis veel eerder om die middelmure van skeiding (Ef. 2:14) IN ons af te breek en net die ontsaglike reservoir van liefde uit ons te laat vloei.

Die ongelooflike hiervan is dat selfs die kapasiteit vir liefde van jou jeens God, met ander woorde jou individuele liefde vir God, is reeds ook in jou hart uitgestort – dit kom óók van Hom af. As dit waarlik so is, is Joh. 14:21 & 23 ook onteenseglik waar: “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar …  As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” Stip dit aan – as die liefde van God in jou woon, soos wat ons weet dit reeds die geval is, bring dit die volgende ipso facto mee:

  • die Vader sal jou liefhê
  • die Seun sal jou liefhê
  • Jesus sal Homself aan jou openbaar
  • jy sal die woord bewaar [LET WEL: nie omdat jy die Woord bewaar, is dit ‘n teken dat jy Hom lief het nie, nee! Omdat jy Hom liefhet, sal jy nie anders kan as om sy Woord te bewaar nie! Dit kom dan vir jou absoluut natuurlik.] En:
  • die Vader en sy Seun maak deur die Gees woning by jou (Kol. 1:8 noem dit tereg “julle liefde in die Gees”. Ons het volgens 2 Tim. 1:7 dan ook ‘n gees van liefde.).

Nie net bespreek Johannes 15 die geheimenis van wat dit beteken om deel van Christus Jesus te wees (aan die hand van die uitgebreide Homeriese vergelyking van Jesus as die wynstok, die individuele lede van Christus as die lote en die landbouer as God) nie, dit fundeer ook dat hierdie gegrondveswees in liefde die bakermat van hierdie geheimenis is. Nie net “bly” Jesus in God se liefde nie (Joh. 15:10), ons word ook in die vorige vers gemaan: “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.” (vers 9). Die woordjie in Grieks vir “bly” is menō, en beteken volgens Strong: “abide, continue, dwell, endure, be present, remain, stand, tarry”.

‘n Paar verse daarna word hierdie wetmatigheid van die lewe streng deur Jesus voorgehou as iets wat nie net tussen ons en Hom moet wees nie, maar dat dieselfde standaard van liefde wat God vir ons het die standaard van die liefde tussen die lede van die Liggaam moet wees: “Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee … Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.” (Joh. 15:12, 13 & 17).

In vers 26 van Joh. 17, in die intimiteit van Jesus se hoëpriesterlike gebed tot die Vader, word ‘n absolute sleutel voorgehou waarmee bepaal kan word of ons wél in sy liefde bevind kan word: “En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.” Wat sou dit beteken? Watter Naam van God sou dit spesifiek wees? Hierdie vers hang saam met ‘n vroeëre een in dieselfde gebed: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar.” (Joh. 17:6).

In sy boek: Who Art Thou, Lord?: The Good News Jesus Preached skryf Charles Van Divier Darnell: “Some … hold to the notion that God’s name itself is sacred and carries some mysterious, supernatural power.” (p. 177). Hierdie beskouing kom bes moontlik van die Joodse rabbi’s af wat Eks. 3:14-15 op ‘n kreatiewe wyse ge-misread het, om ‘n term van Harold Bloom te gebruik. Die Skrifgedeelte lui soos volg: “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur. Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.” YHWH (die tetragrammatiese afkorting wat dui op YAHWEH) moet vir ewig God se naam wees. “Vir ewig” in Hebreeus is lĕ-ʿōlām, wat die rabbi’s van ander vokale voorsien het as lĕ-ʿallēm, wat, interessant genoeg, beteken: verborge. Derhalwe het hulle hierdie vers gesien as ‘n opdrag om God se naam te verhul in plaas van om dit presies uit te spreek (Babylonian Talmud, Kiddushim 71a; TDNT 5:269). Dusdoende het die mite met die loop van die eeue beslag gekry dat daar geheime magiese krag in die blote Naam lê. Hierdie idee het veral posgevat nadat dit gepropageer is deur die Rabbynse tradisie wat genoem word die šēm ha-mĕfôrāš, afgelei uit Rigt. 13:18. In plaas van om die woordjie “Wonderbaar” in dié vers só te vertaal, word dit vertaal as mĕpāraš, “onuitspreeklik”, wat beteken die Naam van God is te heilig om uit te spreek, te verborge om te ken.

Dit is nie waar nie, volgens byvoorbeeld 1 Kon. 8:43; Ps. 9:10; 91:14; Jes. 52:6; Jer. 48:17; Eseg. 36:23 en Op. 2:13. Baie geloofsgroeperinge, soos byvoorbeeld die Nuwe Judaïste, hou allerhande Name voor en dreig dat gebed in enige ander naam nie verhoor sal word nie.

Terug by Joh. 17:6. Die woordjie “naam” hier dui volgens die Ou Testamentiese tradisie van Naamgewing op die attribute of karakterkenmerke van God, soos R. C. Sproul se bekende boek: The Character of God: Discovering the God Who Is dit mooi verduidelik het. Jesus het God se karakter, wet, wil, plan, wat ook al, aan die mensdom bekend gemaak. Soos Baker’s New Testament Commentary dit mooi stel: “The Son is the Father’s Exegete.”

Die Griekse woordjie phaneroō, wat vertaal word as “openbaar” (of “manifest”), beteken volgens die gestroopte betekenis “to shine forth”. Jon Courson’s Application Commentary –New Testament sê van hierdie woordjie: “It doesn’t mean so much declaration as it does illustration.” As Jesus dus sê: “I have manifested Your name,” sê Hy NIE “Ek het verbaal daaroor gepreek nie”, maar eerder: “Ek het dit uitgeleef en sodoende gedemonstreer.”

Met hierdie moontlike struikelblok uit die weg geruim, kan ons terugkeer na ons verkenning van die liefde soos gedemonstreer deur Jesus. Joh. 17:26 – “En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees …” – sou dus vertaal kon word soos volg: “En Ek het u karakteraard aan hulle gedemonstreer en geleef, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, ook in hulle kan wees.” Dit gaan dus daaroor dat die dissipel van Jesus “die goddelike natuur” (2 Pet. 1:4) sal verkry. In hierdie lig verstaan mens beter wat bedoel word in 1 Thes. 4:9 –  “Oor die broederliefde het julle nie nodig dat ons julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê.”. Dít kon nét deur Jesus plaasgevind het. Maar watter troos is dit nie! Jesus het God se liefde in ‘n eiesoortige lewenswyse vertaal in die taal van die liefde, He explained Him, en ons het deur sy voorbeeld geleer, in sy woorde: “Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” (Joh. 13:15). Dit word in 2 Thes. 1:3 “wederkerige liefde” genoem.

Die liefde is van alle dinge die grootste (1 Kor. 13:13). Al moedig Paulus ons aan om in geestelike gawes te beweeg, lei hy dit in met ‘n belangrike kwalifisering vir alle beoefening van gawes: “Jaag die liefde na …” (1 Kor. 14:1). Liefde is die eerste vooropgestelde vrug van die Gees (Gal. 5:22). Die waarheid moet in liefde betrag word (Ef. 4:15), ons geloof werk net deur die liefde (Gal. 5:6), ons moet in alles dan navolgers van God wees soos geliefde kinders en in liefde wandel (Ef. 5:1-2; Rom. 14:15), die Liggaam word net in liefde opgebou (Ef. 4:16), ons dien mekaar deur die liefde (Gal. 5:13), die liefde maak ons “een van siel, een van sin” (Fil. 2:2). 1 Thes. 1:3 praat dan gepas van “die arbeid van julle liefde”. Dit word raak in  Heb. 6:10 opgesom: “Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien.”

As ons nou op hierdie punt eers moet halt roep, is dit met met hierdie kragtige aansporing in 2 Thes. 3:5 – “Mag die Here julle harte rig tot die liefde van God …”

  • Sela: Besef jy die geweldige omvang van die “koninklike wet” van die liefde?
  • Lees: 13-21
  • Memoriseer: 19:7
  • Delf dieper: Lees een van die boeke hierbo genoem.