Dag 1386-1388

 

“Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God

in julle nie het nie” (Joh. 5:42, OAV)

Ons het die vorige Manna afgesluit met die akkumulerende ontvouing van die goddelike natuur, soos dit verduidelik word in 2 Pet. 1:3-10. Dit het geëindig met die belangrikheid van broederliefde en naasteliefde. Ter afsluiting van ons kort studie oor die allerbelangrikheid van liefde in ons geestelike wandel, wil ons dan net net enkele dinge oor hierdie twee begrippe verduidelik.

Broederliefde sluit almal in that is born from the same womb, met ander woorde, almal wat wedergebore is. Daar word ‘n veelheid uitsprake gemaak in die Nuwe Testament hieroor. Dis interessant dat Heb. 13:1 uitspel: “Die broederliefde moet bly.” Die belangrikheid van die woordjie “bly” is in ‘n vorige Manna uitgepluis, veral die sentraliteit van die woordjie in Joh 15:4-7, wat die kerndoel is van die sinergie van die liefde: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek (bly) in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly en my woorde (bly) in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”

In 1 Pet. 1:22 bied die apostel ‘n interessante nuwe perspektief tot broederliefde: “As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart …” Alhoewel ons nou verstaan dat die volheid van die liefde reeds deur die Gees in elke wedergeborene gedeponeer is (Rom. 5:5; 2 Pet. 1:3), is daar bepaalde voorwaardes vir die vrystelling van hierdie liefde. Allereers moet jy in gehoorsaamheid aan die waarheid loop. Ons weet Jesus is die waarheid (Joh. 14:6), maar dit is ook veel meer as dit – Jak. 1:18 (KJV) gee hierdie ongelooflike sleutel: “Of His own will begat he us with the word of truth, that we should be a kind of firstfruits of his creatures.” Deel van die Bruid se herstelde identiteit in Christus, sodat ons waarlik uitstalprodukte van sy goddelike natuur kan wees (2 Thes. 1:10), is ‘n herstel van ons identiteit van waarheid. Hy het ons wederbaar TESAME MET “die Logos van Waarheid” wat nou IN ons is! In gehoorsaamheid aan die stem van die Heilige Gees maak jy die werke van die liggaam dood DEUR die Gees (Rom. 8:13), en manifesteer jy as geesmens nou al hoe meer die waarheid van God se wese soos jy daarin wandel, en bring dit “die waarheid in Christus” (1 Tim. 2:7) al hoe meer na vore. Hierdie waarheid as wesensaard van God reinig die siel van dit wat ware broederliefde teenstaan: agterdog, jaloesie, minderwaardigheid, grootheidswaan, selfsug, gulsigheid, grypsugtigheid, skaamte, irritasie, meerderwaardigheid, minagting, vrees, slegte begeertes jeens, twisgierigheid, onvergewings-gesindheid, leuenagtigheid, toornigheid, naywer, ‘n kompetisiegees, die lysie is ellelank.

Ons sielsdimensie word gereinig deur die Heilige Gees wat hierdie werkinge van die vleeslike mens doodmaak (let wel die orde – dis nie jý wat daarvan probeer ontslae raak nie), en derhalwe laat dít die broederliefde vuriglik vloei. Die ekklesia van broers moet uiteindelik 1 Pet. 3:8 beliggaam: “En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik.”

Die apostel Johannes het uiteraard veel oor broederliefde te sê. Soos Joh. 3:16 die ikoniese vers oor die liefde van God vir die mens is, is 1 Joh. 3:16 die ikoniese vers van hoe ons liefde teenoor ons broers moet wees, in geen onseker verduidelikingsterme nie: “Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.”

In die daaropvolgende vers 17, word ‘n eenvoudige merker vir hierdie bereidheid om jou lewe vir jou broer af te lê met ‘n eenvoudige alledaagse beginsel en realiteit verduidelik: “Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?”

Dit is ‘n retoriese vraag, want die antwoord is voor die hand liggend – die liefde van God het nog nie in hierdie persoon gestalte gekry nie. Hierdie is ‘n maklike (dog dikwels moeilike) maatstaf van die broederliefde in jou, wat ek graag in ‘n volgende syspoormanna sou wou ontgin in Bybelse lig en konteks, gegewe heelwat problematiek wat dit meebring in die praktiese uitleef van hierdie beginsel. Ons sal in ‘n volgende Manna hierdie taai tameletjie pak.

1 Joh. 4:21 sluit hierdie deel oor die broederliefde gepas af, met ‘n kategoriese uitspraak, waar die apostel dit voorhou as die kwintessens van ons verhouding met God: “En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.” Sela.

Om dan oor te gaan van broederliefde na naasteliefde vergroot net eersgenoemde se gedefinieërde binnekring. Dit beteken nie ‘n blindelingse “lief vir alles hier” soos André Schwartz sing nie, nee – jou naaste is nie die ganse mensdom nie. Die definisie vir “naaste” is met die loop van eeue een van die mees betwiste onderwerpe, veral wanneer mense dit nie uit Bybelse oogpunt beredeneer nie, maar uit ‘n geloofs-eksklusiewe, humanitêre, politieke of rassistiese oogpunt. Daar is byvoorbeeld gelowiges wat ‘n sterk rasgedrewe geloofsoortuiging het wat hul met ritse verse uit die Bybel staaf (byvoorbeeld http://dieversteekteverse.blogspot.co.za/2010/03/wie-is-jou-naaste.html), maar wat duidelik nie bepaalde kontekste waarin die Skrifte gebruik word, verreken nie.

Die vertrekpunt is eenvoudig – as jou naaste almal in die wêreld ingesluit het, sou die begrip nie nodig gewees het om te munt nie, anders sou jy net eenvoudig kon praat van die ganse mensdom, en nie ‘n spesifieke groepering as naaste tipeer het nie.

Sou jou naaste dan net diegene wees wat spesifiek deel is van jou gesin, familie, vriende, medestedelinge, universiteitskennisse, kollegas, ensovoorts ensovoorts? Waar trek mens die streep as daar ‘n streep te trek is? En is al die verhoudinge noodwendig dié van naaste sonder enige keuse of kompromie? Dit klink ook nie logies nie. Bly jou laerskoolmaats vir ewig en altyd jou naaste? Só ‘n beskouing word onsinnig. Is dit almal wat fisies naby jou is/bly?

Paulus se uitspraak in 1 Kor. 5:11 maak dan hierdie onderskeide nog meer problematies: “maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie”. Daar is dus bepaald gevalle waar selfs broers nie deel van jou naaste is nie? Of wat maak ons met hierdie gedeelte uit die evangelies: “;2En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.” (Matt. 18:15-17)? Die apostel van die liefde, Johannes, is baie adamant oor hierdie saak: “As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.” (2 Joh. 1:10-11). Dit plaas ‘n ernstige vraagteken oor wie jou naaste dan is.

Dit help geensins dat ‘n mens hier bespiegel oor wie jou naaste is nie – die volgende onverwagte persoon met wie jou pad kruis, kan dalk jou verstaan van wie jou naaste is totaal omvergooi! Jesus self egter bied die antwoord in Luk. 10:25-37: “En daar het ‘n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te sê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy? En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself. Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe. Maar hy wou homself regverdig, en sê vir Jesus: En wie is my naaste? En Jesus antwoord en sê: ‘n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê. En bygeval het ‘n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby. En net so het ook ‘n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan. Maar ‘n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel, en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ‘n herberg geneem en vir hom gesorg. En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom. Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het? En hy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het. Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so.” Duidelik het dit niks te make met diegene wat fisies naby jou is nie.

Hierdie gelykenis wat Jesus vertel in antwoord op die vraag: “wie is my naaste?”, gee – soos trouens geen een van die gelykenisse – ‘n eenvoudige, duidelike, ‘regte’ antwoord nie. Die aha-moment van die vertelling lê nié in die oënskoulik maklike antwoord: die barmhartige Samaritaan, nie, nee!

Die kruks van die verhaal setel myns insiens in die opmerking wat ten grondslag van die gelowige wetsgeleerde se hartsgesindheid lê, soos wat dit uitgespel word in vers 29: “Maar hy wou homself regverdig.” Ander vertalings hou dit soos volg voor: “to acquit himself of reproach” (AMP), “put himself in the right” (BBE), “desirous to appear blameless” (LONT), “looking for a loophole” (MSG), “to declare himself righteous” (RYL-NT) en “to vindicate himself” (TLV). Die begrip ‘om jouself te regverdig word ‘n paar hoofstukke later deur Jesus verklaar: “En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God.” (Luk. 16:15). Geregtigheid is duidelik nie eiegeregtigheid nie, en GEEN wet kan jou regverdig of kwytskel nie – “aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie” (Rom 3:20).  Daarom dat die persoon wat die vraag vra spesifiek as ‘n “wetsgeleerde” benoem word, en Jesus pertinent vra: “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” Duidelik praat Jesus hier van die gees van die wet (Rom. 7:6).

Maar onthou – die vraag het eintlik nie gegaan oor wie is jou naaste nie – die hiperteks handel oor die groot gebod van die liefde, wat Jesus deur sy gelykenis onteenseglik koppel aan geregtigheid, en dit lei na die demonstrasie van ‘n bepaalde hartsgesindheid. Jou naaste word nie bepaal deur ‘n spesifieke groepering mense wat jy moet liefhê nie; jou hartsgesindheid en die mate waarin die volmaakte liefde van God uit jou hart vloei, bepaal jou naaste! Sela! Dit is presies omgekeerd as wat ons nog altyd geleer is. Die vraag is dus nie wie is my naaste nie; die vraag is – wat is die kondisie van my hart – hoeveel van God se liefde is ek in staat om uit my te laat vloei.

Nou kan ‘n mens besef dit is nie noodwendig ‘n humanitêre free for all nie. Soms is die liefde tough en oënskynlik ongenaakbaar, ter wille van die hart wat ‘n dieper doel moet bereik. Natuurlik kan ek nie altyd vir alle bedelaars gee, of vir mense wat heeltyd van my vra nie, ter wille van my liefde vir hulle! As Jesus in Joh. 5:42 sê: “Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie”, beteken dit eenvoudig dat liefde die enigste maatstaf vir God is.

  • Sela: Verduidelik aan iemand wie jou naaste is.
  • Lees: 31-39
  • Memoriseer: 31:15a
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde waarin

geregtigheid woon is … Jý