Dag 1389-1391

 

“Hieraan weet ek dat U ‘n welbehae in my het …”

(Ps. 41:11, OAV)

 

Liefde is die waarmerk van die goddelike natuur. Dit word onomwonde en in absolute terme in die volgende Skrifte uitgespel – bedink elkeen in weerwil van die blote bekendheidswaarde van die sterk uitsprake, asseblief:

  • “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” (1 Joh. 4:7-8)
  • “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?” (1 Joh. 4:20)

Die sleutel tot die ontvouing van hierdie “volmaakte liefde” (1 Joh. 4:18) is dat dit ingeplant word in ons wese. 1 Joh. 4:9 lui soos volg: “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.” Maar dit is in bykans alle vertalings ‘n foutiewe voorsetsel wat hier voorgehou word, met die uitsluiting van die Mirror Bible, wat hierdie geheimenis vooropstel: “The love of God is unveiled within us in the Son …”

Hierdie bepaalde liefde, ook in Grieks die agapē-liefde genoem, is ‘n woordjie wat interessant genoeg afgelei is van agoo (to lead) + pao (to rest), dus om gelei te word tot volkome rus in God. Trouens, dit is die sabbat, of dan in ons Nuwe-Testamentiese verstaan: om in jou posisie in Christus te wees! Hierdie agape-liefde van God wat in jou geplant word met jou wedergeboorte kry ryklik dimensie en skakering as ‘n mens dit lees teen die grein van Tit. 3:3-6. Vers 3 sê ons was ook vroeër op ‘n dwaalweg, met ons sinlike natuur het ons in boosheid gelewe en het mekaar gehaat. Maar volgens vers 5 gebeur daar ‘n spesifieke ingryping van God in die mens se lewe, naamlik dat Hy die mens “red”. Ons lees hierdie begrip dikwels baie eenvoudig, absoluut té eenvoudig, omdat ons dit gelykstel aan ‘n blote keuse om te kies om die genade van Jesus te ontvang as teenvoeter vir die menslike verlorenheid as gevolg van sonde, dít wat ons algemeen na verwys as bekering wat volg op die aanvaarding van die evangelie van redding (Ef. 1:13). Maar redding beteken veel meer as net verlossing. Die Griekse woordjie vir “gered” in hierdie konteks beteken “to save, that is, deliver or protect (literally or figuratively): – heal, preserve, save (self), do well, be (make) whole” (Strong).

God se meganisme om die mens totaal heel te maak, geskied volgens vers 4 deur sy liefde vir die mens wat in werking gestel word. Dis interessant dat die woord wat hier gebruik word vir liefde nie die woordjie agape is nie, maar die woordjie wat vertaal kan word as philanthrōpía, wat direk beteken: “a lover of mankind”. Filantropie word deur alle algemene woordeboeke uitsluitlik gekoppel aan ‘n medemenslike liefde deur weldoeners van die mensdom, uitsluitlik ‘n aksie van mens tot mens wat gekenmerk word deur mensliewendheid en welwillendheid jeens die mens in die algemeen, ongeag groep, geloof, etnisiteit, of wat ook al. Hierdie filantropisme is in ‘n groot mate totaal los van enige geestelike prerogatief. Selfs in The Complete WordStudy Dictionary word die Goddelik-geïniseerde liefde van God geensins as philanthrōpía gesien nie, terwyl dit duidelik uit die agape-liefde van God gebore is: “Philanthrōpía, which is transliterated in Eng. as ‘philanthrophy,’ is that disposition which does not always think of self, but takes thought for the needs and wishes of others. It denotes that apparent and ready goodwill usually manifested in a friendly, considerate demeanor, and (especially in the practice of hospitality) readiness to help, tenderheartedness, cherishing and maintaining fellowship. The philanthropist serves his fellow citizens, protects the oppressed, is mindful of the erring, gentle to the conquered, and self-renouncing in reference to his rights.” Bedink dit alles vir ‘n oomblik uit die oogpunt van God se guns en welwillendheid jeens jou. En bedink dit dan jeens alle ander mense in die wêreld.

Getransponeer tot God as Filantroop kan ons menigvuldige soortgelyke uitsprake uit die Bybel verkry wat wys dat God die Oorsprongfilantroop is. Net ‘n paar ter illustrasie waaraan ons kan weet “dat U ‘n welbehae in my het” (Ps. 41:11):

  • “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh. 3:16)
  • “Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.” (Jer. 31:3)
  • “Ek het julle liefgehad, sê die HERE. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad?” (Mal. 1:2)
  • “Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek …” (Hos. 11:4)
  • “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!” (Luk. 2:14)
  • “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.” (1 Joh. 4:9-10)
  • “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Rom. 8:32)

Terug by Tit. 3:3-6 – in vers 4 en 5 van die onderhawige gedeelte verduidelik Paulus dan dat “die goedertierenheid van God” asook “sy liefde tot die mens” verskyn het / geopenbaar is / aan die lig gekom het, en dat sy “barmhartigheid”, “the measure of his mercy” (BBE), inslag by ons gevind het. Dit alles het gebeur deur “die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees”.

Laat ons bietjie hierdie twee uitdrukkings van naderby beskou. Ons moet veral bepaal of die uitdrukking: “die bad van die wedergeboorte” (“the washing of regeneration” – KJV) verwys na die doop met water, wat volgens ons vorige Mannas duidelik een van die elemente is wat wedergeboorte meegebring het. [Onthou jy? Doping met water + doping met Gees = wedergeboorte.]

Die werkwoordjie “was” (loutrou) kom net twee keer in die Nuwe Testament voor – hier, en in Ef. 5:26: Hy het die gemeente geheilig “nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord” (“with the washing of water by the word” – KJV). In die Afrikaans skep die woordjie “waterbad” ‘n eksplisiete verkeerde woordkeuse as ‘n selfstandige naamwoord, asof daar verwys word na die doopvont of doopbak of swembad – dit is geensins die geval nie. In laasgenoemde Skrif dui die werkwoord “was” daarbenewens ook letterlik op die aksie van ablusie, ‘n wegwas van vuiligheid of ‘n skoonwas van iets. Dit is bepaald nié Hand. 22:16 se “laat jou doop en jou sondes afwas” nie. Doop as sodanig dui nie op die afwas van sonde nie – dit is die bloed van Jesus wat dít doen: “die bloed van Jesus Christus … reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:7). [Sien ook Joh. 1:29; 1 Kor. 6:11; Ef. 1:7; Heb. 9:14; en 1 Pet. 1:19.] Maak dit dan vas – doop reinig nie; die bloed van Jesus is al wat kan reinig. Die sondes afwas, soos vir Paulus gesê is, dui hoogstens daarop dat saam met die proses van doop daar ‘n bepaalde reiniging plaasvind wat hoogstens emblematies met die doop gekoppel kan word, soos 1 Kor. 6:11 byvoorbeeld uitspel: “julle het jul laat afwas, … julle is geheilig, … julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God”. In 1 Pet. 3:21 word die volgende uitspraak deur die apostel gemaak: “waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete”. Die woordjie red moet nie hier vertaal word as verlos asof daar verlossing in die doop lê nie, maar as uitred, in die sin wat Thayer dit verklaar: “keep safe and sound, to rescue from danger or destruction”. Daar setel dus onteenseglik ‘n sterk beskermingswaarde in die doop van die gelowige. Sela.

Dus kan ons duideliker insien dat “the washing of regeneration” presies net dit sê, dat daar perpetuele vernuwingsprosesse van die verstand (Rom. 12:2) plaasvind, en derhalwe voortdurende reiniging met voortdurende vernuwing. Daarom spesifiseer Tit. 3:5 “die vernuwing deur die Heilige Gees”. Dit dui hier dus duidelik nié op doping met die Heilige Gees nie. The Complete WordStudy Dictionary verduidelik dit as: “a renewing or a renovation which makes a person different than in the past”. Die Mirror Bible stel dit besonder mooi: “Our minds were thoroughly cleansed and rebooted into newness of life.” (Tit. 3:5).

Die wedergeboorte is met ander woorde nie ‘n eenmalige proses wat plaasvind met die doping met water en die doping met Gees nie, alhoewel HIERDIE RITUELE IS WEL DIE AANVANG VAN DIE WEDERGEBOORTE. Daarná vind daar perpetuele reining met die Woord plaas, soos Jesus in Joh. 15:3 dit uitgespel het: “Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.” Vroeër het Hy aan Petrus verduidelik toe hy vra om weer heeltemal, spreekwoordelik die “hande en hoof”, gewas te word: “Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein …” (Joh. 13:9-10). By wyse van spreke bedoel Jesus dat ons noodwendig soms as gereinigdes in die stof van die vleeslike natuur loop, en Adamiese gedagtes ons soms nog bewoon, en daarom hoef ons geensins weer gedoop te word nie, maar net simbolies ons voete (waar ons ongevraagd en verkeerdelik geloop het) was om ontslae te raak van die aanklewing van verganklikheid en dood. Kortom – ons word geheilig deur die waarheid van sy woord (Joh. 17:17).

Om dan nou Tit. 3:6 af te handel – God het die Heilige Gees “ryklik uitgestort … op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser”. Die ryk voorsetsel deur wat hier gebruik word, impliseer dat ons die Gees ontvang het deur Jesus, die Seun. Lees dit asseblief ook dat die Seun deur die Gees

gekom het. Derhalwe is die Here Jesus nou bloot by ons in ‘n ander Gestalte – die Gees, oftewel “die Here wat die Gees is” (2 Kor. 3:18)!

As ‘n mens nou 1 Joh. 5:1 in die ontvouende beredenering inbring, is daar interessante implikasies: “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is.” Hier word ‘n ander definisie van wedergeboorte gebied as wat ons gewoonlik taamlik simplisties uit Joh. 3:3 en 5 afgelei het – jy moet glo dat Jesus die Christus is. Met ander woorde, jy moet verstaan en glo dat Jesus Homself vermeerder het in die Christus deur die Hoof te word van ‘n gesalfde Liggaam, en derhalwe moet jy glo dat elkeen wat deel is van die inkarnasie van God in hom/haar, deel is van die Christus. As jy DIT glo, is jy geregenereer, of dan soos wat ons dit genoem het tot dusver: wedergebore. Die vernuwing van jou denke het in die begin bloot die saad van Christus (Gal. 3:16) ontvang, maar die voortdurende vernuwing van jou denke deur die was van die water van die woord het gelei tot ‘n nuwe verstaan. En as gevolg van die bedrock van liefde wat God in jou ingeplant het, is die eksterne teken van jou wedergeboorte of regenerasie, naamlik dat jy ook elkeen sal liefhê wat uit Hom gebore is. Liefde hier is ironies genoeg nie meer ‘n keuse nie, maar ‘n manifesterende staat van ware wedergeboorte, weliswaar die waarmerk van die goddelike natuur.

  • Sela: Lê die dwingende verband tussen liefde en wedergeboorte.
  • Lees: 31-39
  • Memoriseer: 32:7
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Hoe raak ek van my donker natuur ontslae?