Dag 1392

 

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën

en sy kruis opneem en My volg.”

(Matt. 16:24, OAV)

 

Ons is tans besig om liefde as die manifesterende waarmerk van die goddelike natuur te verken.

Hierdie ontwykende kommoditeit, “the measure of his mercy” (Tit. 3:5, BBE) is God se meganisme om die mens totaal heel te maak en dit word die gelowige se deel as die manifesterende staat van ware wedergeboorte.

Die vorige Manna het geëindig deur te sê die wedergeboorte, of liefs meer korrek: die geestelike geboorte is weliswaar die waarmerk van die goddelike natuur.

Daar is relatief min Skrifte in die Bybel waarin hierdie begrip voorkom, maar die een wat weinig aandag kry, is Matt. 19:28 – “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.”

Die konteks van hierdie uitspraak is geweldig belangrik. Dit gebeur binne die konteks van Jesus se hartroerende gesprek met die ryk, jong man wat as gevolg van Jesus se onverwagte woorde oor wat hy kan doen om die ewige lewe te kry, besluit dié prys is te hoog, en dan van Jesus af weggaan.

Alhoewel die klem weliswaar duidelik is op die feit dat die ryk, jong man ryk is, en dat Jesus (in vers 23) duidelik klem lê daarop dat “‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan”, en dit selfs vergelyk met ‘n gelade simboliese beeld – ‘n kameel deur die oog van ‘n naald (vers 24) – is dit NIE die primêre klem nie. Dat die dissipels dit ook nie heeltemal reg verstaan het nie, is te siene in hul verslae uiting: “Wie kan dan gered word?” (vers 25).

‘n Mens mis maklik die goue draad van hierdie diskoers. Die fokuspunt van wat Jesus aan die ryk, jong man verduidelik, word duidelik vooropgestel: “Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.” (vers 21). Nadat Jesus die dissipels in hul moedeloosheid bedien nadat hulle sê: “Wie kan dan gered word?”, antwoord Jesus: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.” (vers 26). Petrus verstaan dan skielik die hooflyn van Jesus se argument, en vra dan: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees?” (vers 27). Hierop antwoord Jesus die onderhawige versgedeelte in vers 28: “Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.” Dit eggo Jesus se sterk uitspraak oor die kern waaroor ‘n verhouding met Hom gaan, soos onomwonde uitgespel in Matt. 16:24 – “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”

  • Sela: Wat dink jy beteken “Volg My”?
  • Lees: 40-42
  • Memoriseer: 42:1
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Karin Aucamp: Die Spoor in die Ancient Path