“dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan”
(Op. 14:4b, OAV)
In ons poging om iets beter te verstaan van ‘n vers wat oor die wedergeboorte handel, Matt. 19:28, het ons die konteks van die teks 12
, en gevind die hele perikoop gaan oor ‘n frase van net twee woorde wat enorme gewig in die evangelies dra, naamlik: “Volg My.”
Voordat ons verder die toeligting rondom die wedergeboorte gaan ondersoek, is die volgende afdraaipaadjie ‘n belangrike verkenning wat ons veel sal leer.
Miskien sal jy onthou dat ons in Dag 3 van die Manna, aan die heel begin, reeds gefokus het op die individuele oproep van Jesus: “Volg My … Volg jý My.” (Joh. 21:19 & 22). In ‘n sin is dít die allerbegin van elke persoon se roeping – dat God self jou individueel oproep om Hom te volg. Die Bybel is vol menigvuldige voorbeelde hiervan. Van Kaleb word byvoorbeeld in Num. 14:24 gesê: “Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg …” Josua noem dat hy “volgehou het om die HERE my God te volg” (Jos. 14:8). Ons lees dat Salomo “nie volgehou (het) om die HERE te volg soos sy vader Dawid nie” (1 Kon. 11:6). Elia waarsku die volk: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!” (1 Kon. 18:21).
Jesus het nie lang redenasies met sy voorgenome dissipels gevoer nie. Hy het na hulle gestap, hul in die oë gekyk en gesê: “Volg My” (Matt. 9:9).
In Op. 14:1 & 4b lees ons van die simboliese 144 000, en van hulle word die volgende gesê: “En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderd vier en veertig duisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe … dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam”.
Daar is in die loop van eeue heelwat vreemde doktrines gekoppel aan hierdie konsep van die uitverkore 144 000, maar die meeste daarvan is onsinnig en neem met die interpretasie daarvan nie die simboliese aanbod van die apokaliptiese boek konsekwent in ag nie. Die boek Openbaring is ‘n geestelike boek, en soos al die ander simbole in die teks word die twaalf letterlike stamme ook simbolies ingespan. Elke naam van elke stam dui allereers op die Bruid se verskillende geestelike karaktereienskappe. (Ons kom later in groter detail na hierdie belangrike lering terug.) Soos wat jy deur die verskillende fases van geestelike ontwikkeling en groei gaan, elke stam-identiteit ‘n ander faset van die goddelike natuur, word jy stelselmatig deel van die heerskappy van die Bruid. Die getal twaalf is die getal van Goddelike heerskappy en derhalwe verteenwoordig 144 000 matematies 12 x 12 x 1000, dit wil sê perfekte Goddelike regering tot in die duisendste geslag, met ander woorde vir ewig. Uiteraard moet daar meer gelowiges in die Bruid deur die eeue wees wat oorwin het as bloot hierdie magiese getal; dit is derhalwe nie die getal van die aantal mense nie, maar ‘n simboliese getal wat hul karakter verbeeld.
Wat kenmerk hierdie unieke groepering mense? Lees weer die Skrif uit Openbaring hierbo – hier word drie pertinente kensketsinge voorgehou, maar een is vir ons hier van spesifieke belang – hierdie groepering “is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan”. ‘n Verhouding met God of Jesus vereis dat jy Hom volg waar Hy ook al gaan! Die woordjie in Grieks vir volg, is akoloutheō, wat volgens Thayer beteken: “to follow one who precedes, join him as his attendant, accompany him … to join one as a disciple, become or be his disciple”. Direk vertaal beteken dit letterlik: “to be in the same way with” (Strong). Dit korrespondeer mooi met Eliëser se woorde in Gen. 24:27 – “Wat my aangaan, die HERE het my op die weg gelei.” 1 Pet. 2:21 stel dit pragtig: “Christus … het … julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg”.
Maak dit asseblief vas vir jou – hierdie “uitnemender weg” (1 Kor. 12:31) is grootliks ‘n innerlike weg van gehoorsaamheid. Uiteraard is dit geen gemaklike pad nie. Moet nooit vergeet dat die pad wat ons geroep is om te loop soortgelyk is aan die pad van die Lam. ‘n Lam se hoogste roeping is die feit dat hy ‘n offergawe is. Die roep van die hoë roeping is grootliks die bereidheid om jouself en wat jy wou gehad het, jou behoeftes en node, prys te gee. Fil. 3:10 spel dit soos volg uit: “gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word”. Hulle wat uiteindelik oorwin, word gekenmerk daaraan dat hulle “tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad (het) nie” (Op. 12:11). Die ganse Skrif is deurspek met hierdie boodskap van prysgee, vermindering, verlies, gebrek, en so meer. Maar dit is nie lyding net ter wille van lyding nie – die bereidheid om alles prys te gee en bo alles eerder Sy wil te soek, bring ‘n geweldige seëning voort. Jeus se wandel van volkome gehoorsaamheid bied ons die voorbeeld van die vrug wat daardie gehoorsaamheid meebring: “Jesus … wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het”.
Dit bring ons dan netjies terug tot die Skrif wat ons in die vorige Manna begin ondersoek het: “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.” (Matt. 19:28). Let op die twee swaartepunte van die argument is in hierdie enkele vers vasgevat: “julle wat My gevolg het” sal
“ook op twaalf trone … sit”.
Duidelik praat Jesus hier met die twaalf dissipels, maar hulle word deurgaans in die Skrif voorgehou as prototipe van alle dissipels [Joh 17:20-21: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo— dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”] Net soos die twaalf stamme van Israel simbolies gebruik word as byvoorbeeld die twaalf poorte van die Nuwe Jerusalem (Op. 21:12), word die twaalf dissipels (later apostels genoem) eweneens simbolies gebruik: “En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam.” (vers 14).
Die woord wat hierdie twee swaartepunte verbind, is die enigmatiese woordjie wedergeboorte, wat in Grieks die woordjie paliggenesia is. The Complete WordStudy Dictionary verduidelik dit as “regeneration, restoration, renovation, rebirth” en stel dit gelyk aan Hand. 3:21 (Amp) se “the complete restoration of all”. Duidelik word dit in hierdie konteks veel wyer bedoel as bloot persoonlike wedergeboorte. Maar dit bly vreemd dat hierdie spesifieke woord gebruik word om ‘n konsep van sulke dramatiese omvang – soos wedergeboorte – wyer van toepassing te maak.
In die volgende Manna ondersoek ons die belangrike implikasies hiervan.
- Sela: Wat dink jy is die implikasies hiervan?
- Lees: 43-48
- Memoriseer: 48:1 (wat ‘n mooi sinchronisasie!)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die 144 000. Is jy deel vd Oorblyfsel?