Dag 1399-1400

 

“the spiritual rock that traveled with them …”

(1 Kor. 10:4, OAV)

Manna 1397 het afgesluit met die voorbeeld van Moses wat die Rots geslaan het, en dat 1 Kor. 10:4 die volgende stel: “want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus”. Benewens die belangrike implikasies wat dit meebring dat Christus die Rots is (let wel nié Jesus nie), werp dit meer lig op die feit hoekom Moses se straf se uitsonderlik streng was – to God it was no light matter (Heb. 9:10, MSG).

Daar moes in die fisiese realiteit ‘n rots gewees het waaruit daar water gekom het, maar die water het streng gesproke uit die geestelike rots gekom – en DAARDIE ROTS is Christus. Die eerste keer wat dit gebeur het, was in Horeb (Eks. 17:6; 33:6), en die tweede keer dat dit gebeur het, was in die woestyn Sin en die nedersetting Kades (Num. 20:1). In die fisiese was dit uiteraard twee verskillende rotse op twee verskillende plekke in die realiteit. Maar iets wat amper in hierdie sinnetjie dikwels totaal misgekyk word, is die uitspraak: “‘n geestelike rots wat gevolg het”. ‘n Paar vertalings wat dit meer vooropstel, bied dit soos volg aan:

  • “a spiritual following rock” (ABP)
  • “a spiritual rock that followed them” (ACV)
  • “the holy rock which came after them” (BBE)
  • “the spiritual rock that went with them” (GNB)
  • “the spiritual rock that attended them” (JMNT)
  • “God’s fountain for them that stayed with them wherever they were” (MSG)
  • “the spiritual rock that traveled with them” (NLT)
  • “the supernatural Rock which followed them” (RSV)

In die fisiese realm was daar dus ‘n fisiese rots waaruit fisiese water gekom het, maar in die gees-realiteitsrealm, parallel daarmee, was dit die Christus uit wie die geestelike water gekom het. In die vers word die water genoem “geestelike drank”. Om daardie rede word gesê die Rots, Christus, het die Israeliete in die woestyn gevolg!

Maar dit lei ons nou tot belangrike insigte rondom die wedergeboorte wat in die eerste vier verse van 1 Korinthiërs ter sprake kom. Paulus praat met die Nuwe-Testamentiese gehoor om vir hulle die geheimenis van die wedergeboorte te verduidelik aan die hand van die tipologiese geskiedenis van hul voorvaders wat uit die land van slawerny gegaan het: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het …”

Wedergeboorte, het ons vroeër by herhaling genoem, neem ‘n aanvang met die keuse om as gelowige gedoop te word en deur handoplegging doping met die Heilige Gees te ontvang. Hier word die water en die wolk voorgehou as die fisiese verteenwoordiging van hierdie twee, nee drie dope (sal later verduidelik hoekom ons só sê). Het jy al ooit daaraan gedink waarom dit juis water is waarin gelowiges gedoop word? Hoekom was die ritueel nie dat jy met byvoorbeeld stof gegooi word, of in ‘n beesvel toegedraai word, of met varkmis of meerkatbloed gesmeer word nie?

En wat sou dit spesifiek beteken om in die wolk gedoop te word – wat is die verband met die doping in/met die Gees? Knoop dit solank aan jou oor, want ons gaan probeer om dit in die volgende Manna te beantwoord.

Maar eers nog ‘n argument ter ondersteuning van die paralelle bestaan en funksionering van die fisiese en die geestelike realm. In Manna Dag 1395-1397 het ons gesê daar is ‘n onherroepelike verband tussen die mens en die stof van die aarde waaruit hy geskep is. Maar anders as wat die meeste mense daaroor dink, was daardie oorspronklike aarde nie sigbaar nie, want dit was ewig. Gen. 1:1-2 se skepping van die aarde is in die voortyd, en dit het ‘n ewige aarde tot stand gebring, en derhalwe moes daardie aarde baie bepaald reëel, maar bepaald onsigbaar wees. ‘n Vers wat basies dieselfde sê as Gen. 2:1, is Ps. 33:6, maar hierdie vers bring iets anders na vore wat nie in Gen. 2:1 so eksplisiet gestel is nie: “Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.” (Duidelik is dit nie net verwysend na die hemele nie, want verse 5, 7 en 8 waarin vers 6 ingebed is, handel oor die aarde.)

Dit korrespondeer dan pragtig met die eerste geesmens Mens wat uit die stof van die aarde gemaak is, maar dit was ewige aarde, en derhalwe kon hy nie bloed in sy are gehad het nie, want vlees en bloed soos ons dit ken is nie deel van hierdie realm nie (1 Kor. 15:50). Hy moes bepaald lig in sy are gehad het as manifestasie van God se heerlikheid in hom – hierdie heerlikheid is waarneembaar in lig, is in ‘n vorige Manna bewys. Ná die sondeval het Mens die lig in hom verloor, en het dit bloed geword. Daarom verander sy naam van Mens na Adam, wat beteken “rooi”, en kom van die woordjie vir grond, wat ‘ădâmâh is! In die gevalle staat was die lewe in die bloed (Lev. 17:11, ACV), vroeër was die lewe in die lig (Joh. 1:4). Met die koms van Jesus het dit weer moontlik geword dat die bloed “van heerlikheid tot heerlikheid” (2 Kor. 3:18) in die Bruid vervang word met lig.

Volgens Gen. 2:1 se recap-insetsin was meer as net die onsigbare hemel en die onsigbare aarde egter geskep: “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag.” Die hemel en die aarde het dus IN HULLE weggesluit gehad ‘n ganse onsigbare weermag! Dit is belangrik om die identiteit van hierdie weermagte te vind, want hulle identiteit kwalifiseer byvoorbeeld een van die name/identiteite van God, naamlik Jehova Sebaot (“the Lord of Hosts”), die God van die leërskare/weermagte, soos dit in die Hebreeus gevind word in byvoorbeeld 1 Sam. 1:3, Ps. 80:19; Amos. 5:27; Rom. 9:29; en Jak. 5:4. Girdlestone, in sy bekende Old Testament Synonyms, sê oor hierdie titelnaam van God: “Probably the name would indicate to a Jew that God was a Being who had many material and spiritual agencies at his command, and that the universe of matter and the world of mind were not only created, but also ordered and marshalled by Him.”

Bykans alle kommentare wat geraadpleeg is oor hierdie karakternaam van God assosieer hierdie “weermagte” uitsluitlik as “heavenly powers …, angelic and starry hosts” (byvoorbeeld Fausset’s Bible Dictionary). Die International Standard Bible Encyclopedia lê nét klem op die sterre “as witnesses in their number, order and splendor”, bes moontlik op grond van Dan. 8:10 – “En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.” Maar die kommentators neem glad nie in ag dat sterre in die ou verbond konsekwent gemetaforiseer word as die Bruid van Christus nie. [Sien byvoorbeeld Dan 12:3 – “En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.” Vergelyk ook God se belofte aan Abraham dat ‘n deel van sy nageslag soos sterre sal wees (Gen. 26:4).]

Geen Bybel-kommentaar of verwysingswoordeboek van die menigte wat ek geraadpleeg het, het egter enige voorstelle gemaak van wat “die aarde met (sy) ganse leërmag” dan sou mag beteken nie. In die volgende Manna verdiep hierdie heerlike geheimenis!

  • Sela: Wat dink jy sou “die aarde met (sy) ganse leërmag” dan beteken?
  • Lees: 61-66
  • Memoriseer: 65:13 – is “hulle juig, ook sing hulle” net blote personifikasie?
  • Delf dieper: Sien in Ps. 62 hoe dikwels die woordjie “rots” voorkom – en sien die verband dat dit strek van verlossing tot heerlikheid!