“die aarde met hulle ganse leërmag”
(Gen. 2:1)
Na ons ekskursie om te sien dat die rotse wat Moses in die woestyn geslaan het (Eks. 17:6; Num. 20:1), fisies was, maar veral óók geestelik en onsienlik was, en derhalwe as geestelike entiteit saam met die volk beweeg het en derhalwe onsigbaar maar reël was, en dat laasgenomede Rots Christus is, het daar ‘n opwindende nuwe perspektief na vore gekom. In die fisiese realm was daar dus ‘n fisiese rots waaruit fisiese water gekom het, maar in die geesrealiteitsrealm was dit die Christus uit wie die geestelike water gekom het.
Ons is tans besig om te ondersoek wat presies gebeur met die wonderbaarlike proses van wedergeboorte en die geheimenis soos verwoord in 1 Kor. 10 oor hierdie saak. Maar voor ons daarby uitkom, was daar teen die vorige Manna ‘n vraag wat nog verduidelik moes word, naamlik oor die oënskynlike paralelle bestaan en funksionering van die fisiese en die geestelike realm.
Volgens Gen. 2:1 se recap-insetsin was meer as net die onsigbare hemel en die onsigbare aarde egter geskep: “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag.” Die hemel en die aarde het dus IN HULLE weggesluit gehad ‘n ganse onsigbare weermag!
Interessant is dat Eks. 12:41 na Israel verwys as die leërskare van die HERE, dus gewone mense: “En ná verloop van vier honderd en dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek.” Tipologies kan dit in die nuwe verbond dui op alle wedergeborenes. God identifiseer homself as die God van hierdie spesifieke groepering, soos byvoorbeeld in 2 Sam. 7:26 – “Die HERE van die leërskare is God oor Israel …”
As hierdie aardse leërmag dan wedergeborenes is waarvan party steeds “in die stof van die aarde slaap” (Dan. 12:2), maak dit dit baie duidelik dat daar menslike vleesgestalte in die aarde is, noem dit die realiteitsmens, wat op hierdie stadium nog ewig is en derhalwe onsienlik. Hierdie ewige aardse mens uit die aardse Goddelike weermag korrespondeer met ‘n geestelike hemelse mens uit die hemelse Goddelike weermag wat dien as sy komplement – ‘n mooi voorbeeld van “soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:10).
Hierdie hemelse gestalte wat deel vorm van die geestelike weermag van God word in die Bybel genoem “nuwe mens” (Ef. 2:15; 4:24; Kol. 3:10), of “innerlike mens” (Ef. 3:16; Rom. 7:22; 2 Kor. 4:16). Hierdie wese is nie ‘n tasbare wese of entiteit nie (Heb. 12:18), maar kry duidelik reëel beslag wanneer daar ‘n wedergeboorte is!
Hierdie wedergeboorte, het ons al telkemale uitgewys, het te doen met ‘n ritualistiese doping. Maar met die inligting wat ons tot dusver ingewin het, word dit duidelik dat die eksterne (fisiese/aardse) en sienlike handeling ‘n interne (metafisiese/hemelse) en dus onsienlike komplement het! Volgens 1 Kor. 10:2 is jy toe jy individueel in die Naam van Jesus gedoop is, ook korporatief in die primordiale waters gedoop, en toe jy individueel met die Heilige Gees gedoop is deur handoplegging, is jy korporatief in die wolk van getuies gedoop. [Later substansieer ons hierdie stelling.] Sódoende het jy as wedergeborene jou uitverkore posisie in “die ganse geestelike leërmag van God” waarvan Gen. 2:1 praat, ingeneem!
- Sela: Deurgrond die geheimenis van die laaste sin in die lig van Dan. 12:2
- Lees: 67-69
- Memoriseer: 68:6
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Ryk Neethling: Die Realiteit van Tyd in die Ooste