Dag 1402-1403

 

“soek die ewige lewe”

(Rom. 2:7)

Die geheimenis wat ons in die vorige Manna by uitgekom het, noop ons om die gesprek te begin oor die onderskeid en skeiding tussen siel en gees, want dit sal ‘n klomp vrae wat ons moontlik het oor ons wedergeboorte, die hiernamaals en die ewigheid, en bepaald die voortyd, in groter en duideliker perspektief stel.

Allereers – liggaam én siel is aan die verganklikheid gekoppel. Dit is duidelik te siene aan die geleidelike degenerasie van die liggaam met die ouderdom saam, en ook aan die byvoorbeeld die agteruitgaan van die denke as mens ouer word. As 2 Kor. 4:16 dus sê: “al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe”, is die innerlike mens net die gees, en sluit dit nie die siel in nie.

Anders as wat die godsdienstige oorlewering dit wil hê, is die sielsdimensie nie ewig nie. Hierdie valse nosie van die teendeel is gegrondves deur veral die Griekse filosowe soos Sokrates, Plato en Aristoteles, lank voor die Christelike era ‘n aanvang geneem het. Plato (428-348 v.C.) het voorgehou dat die mens se bestaan gewortel is in die materiële wêreld en die geestelike of ideale realm. Hy het geredeneer dat omdat die siel ewig is, moes die siel ‘n sogenaamde “pre-existence” gehad het waar dit die ideale van die geestelike realm deelagtig was. Deur wat hy noem die transmigrasie van die siel, ‘n aanleer op die fisiese realm van daardie geestelike ideale, word die siel weer soos hy oorspronklik was. Die doel van die lewe is om deur hierdie transmigrasieproses die oorspronklike goedheid te herwin (William S. Sahakian, in sy History of Philosophy, p. 56). Dit is ongelukkig glad nie waar nie, maar dit het ‘n geweldige impak op die Westerse denke gehad. Om hierdie rede word is daar deur die eeue in die teologie ‘n hardnekkige denkmodus oor die siel ingespan om Plato se sekulêre denke te substansieer.

Een van die Katolieke Kerk se belangrikste teologiese grondleggers, Origen Adamantius (185-254 n.C.), was ‘n stoere navolger van Plato en het onomwonde die onsterflikheid van die siel gepropageer, en verkondig dat die siel na die dood óf ewige heerlikheid as beloning sal ontvang, of ewige straf. In Origen De Principiis skryf hy: “The soul, having a substance and life of its own, shall after its departure from the world, be rewarded according to its deserts, being destined to obtain either an inheritance of eternal life and blessedness, if its actions shall have procured this for it, or to be delivered up to eternal fire and punishments, if the guilt of its crimes shall have brought it down to this …” (Ante-Nicene Fathers, Vol. 4, p. 240). Hy het voorts geleer dat die menslike siel bestaan het voor die liggaam tot stand gekom het, maar as ‘n soort straf gevange in die menslike liggaam is. Die fisiese lewe is ‘n suiweringsproses om gevalle mense tot ‘n geestelike staat te laat terugkeer.

Met sy sistematisering van die Platoniaanse ideaal het Augistinus (354-430) voortgebou op hierdie dwaallering. Die ontsaglike invloed van hierdie sekulêre filosowe het die Christelike denke amper onherroepelik gestalte gegee. Richard Tarnas, in sy uitstekende boek The Passion of the Western Mind, wys die invloed uit: “It was Augustine’s formulation of Christian Platonism that was to permeate virtually all of medieval Christian thought in the West. So enthusiastic was the Christian integration of the Greek spirit that Socrates and Plato were frequently regarded as divinely inspired pre-Christian saints.” (p. 103). Sela asseblief hieroor.

Hierdie denkraamwerk is later verder gevestig deur Thomas van Aquino (1225-1274 n.C.)  in sy The Summa Theologica.

‘n Paar eeue later het die voorlopers van die Protestantse reformasie hierdie beskouing as ‘n tradisionele waarheid omhels en het dit deel van die Protestantse leer geword en met die loop van jare het dit deurgesuur na die algemene Pinkster- en Charismatiese denke.

Kom ons kyk net na wat die Skrifte oor die saak sê – immers: “Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie …” (Matt. 22:29).

Die Hebreeus vir “siel” in die Ou Testament is nephesh. Die BDB verklaar dit eenvoudig as: “that which breathes, the breathing substance or being, soul, the inner being of man, living being”. Vine’s Complete Expository Dictionary of Old and New Testament Words vertaal dit eweneens as  “the essence of life, the act of breathing, taking breath”, maar spel onomwonde die probleem uit rondom die vertaling van die woord: “The problem with the English term ‘soul’ is that no actual equivalent of the term or the idea behind it is represented in the Hebrew language. The Hebrew system of thought does not include the combination or opposition of the ‘body’ and ‘soul’ which are really Greek and Latin in origin.” (pp. 237-238).

In The Interpreter’s Dictionary of the Bible vind ons die volgende inskrywing onder die lemma “Soul” oor die woordjie nephesh: “The word ‘soul’ in English, though it has to some extent naturalized the Hebrew idiom, frequently carries with it overtones, ultimately coming from philosophical Greek (Platonism) and from Orphism and Gnosticism which are absent in ‘nephesh.’ In the OT it never means the immortal soul, but it is essentially the life principle, or the living being, or the self as the subject of appetite, and emotion, occasionally of volition.” (Vol. 4).

Dat nephesh nie verwys na ‘n onsterflike siel nie, is duidelik in hoe die woord in die Ou Testament gebruik word. Die mens ontvang volgens Gen. 2:7 die asem van die lewe (nephesh), maar eweneens word die diere wat asem kry ook nephesh genoem in Gen. 1:24. Nephesh word vertaal as “liggaam” in Lev. 21:11 (KJV), maar met die byvoeglikenaamwoord-kwalifisering van dooie liggaam – “Neither shall he go in to any dead body …”, in verwysing na ‘n kadawer.

Die duidelikste Skrif oor die sterflikheid van die siel is bepaald Eseg. 18:4b – “die siel wat sondig, dié moet sterwe”. Die Ou Testament beskryf dit dat die siel wat sterwe, keer na ‘n bestaanstoestand wat as she’ôl bekend staan [in ons vertalings vertaal as doderyk, hel of graf (“pit”)]. Pred. 9:5b-6 verduidelik mooi wat hierdie staat van vergetelheid is: “die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.” Dawid stel dit eweneens direk: “Want in die dood word aan U nie gedink nie …” (Ps. 6:5). Let ook op wat Pred. 3:19-20 voorhou oor die wesensaard van die siel: “Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot: soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en ‘n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie …. Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.”

Duidelik was die konsep van ‘n onsterflike siel geensins deel van die Ou-Testamentiese denkraamwerk nie, maar dit het in die Nuwe-Testamentiese tyd – veral as gevolg van die Hellenistiese (Griekse) kultuur waarbinne die nuwe verbond ingebed is – ‘n dwingende filosofie geword wat heeltyd aangevlerk het tot die evangelie. In die eerste eeu het die Joodse filosoof  Philo – wat in dieselfde tyd as Jesus geleef het – die oorgelewerde konsep van Plato weer deeglik vasgemaak, en die volgende gesê: “The death of a man is the separation of his soul from his body …” ( The Works of Philo, p. 37). Philo maak dit duidelik dat die siel bevry word met die dood en dan óf ‘n ewige lewe óf die ewige verdoemenis beërwe. Gelukkig het die Nuwe-Testamentiese skrywers onbeïnvloed hiervan gebly.

Ons vervolg met die verduideliking in die volgende Manna.

  • Sela: Gee aan iemand ‘n verduideliking van wat die Ou Testament van die siel sê.
  • Lees: 70-75
  • Memoriseer: 72:19
  • Delf dieper: Lees Richard Tarnas se The Passion of the Western Mind