“Julle sal gewis nie sterwe nie”
(Gen. 3:4)
Duidelik was die konsep van ‘n onsterflike siel geensins deel van die Ou-Testamentiese denkraamwerk nie. In die Nuwe-Testamentiese tyd het die belangrike Joodse filosoof Philo in sterk navolging van Plato dit duidelik gemaak dat die siel bevry word met die dood en dan óf ‘n ewige lewe óf die ewige verdoemenis beërwe. Let wel – dis ‘n sekulêre beskouing, en geensins ‘n Joodse perspektief nie.
In Grieks word die woordjie “siel” vertaal as psuchē. Laasgnoemde word ook soms vertaal as “lewe” (bv. in Matt. 10:39 – “Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.”). Om seker te maak die Hebreeuse woord nephesh korrespondeer volledig met die Griekse woord psuchē, kan ons Ps. 16:10 gebruik. Hier span Dawid die woordjie nephesh in om te profeteer dat die doderyk geen mag oor die Messias sal hê nie. Paulus haal in Hand. 2:27 hierdie spesifieke profesie aan en gebruik dan die Griekse psuchē vir die Hebreeuse nephesh. Die twee woorde korrespondeer dus met mekaar.
Soos nephesh verwys psuchē ook na beide menslike siele (Hand. 2:41) én dierlike siele (Op. 16:3). Daarbenewens, en dit is van groot belang vir ons argument tot dusver – Jesus verklaar onomwonde in Matt. 10:28 (YLT) dat God by magte is om die siel te laat sterwe: “And be not afraid of those killing the body, and are not able to kill the soul, but fear rather Him who is able both soul and body to destroy in gehenna.” [Ons het in vorige Mannas 735-736 uitvoerig oor hierdie woord gehenna geskryf en aangedui dat die woordjies “hel” en “doderyk” ongelukkig in die meeste vertalings uitruilbaar gebruik word.]
Dus – ook die Nuwe Testament praat nie van ‘n konsep soos ‘n ewige siel nie. Paulus beveel die Romeine eksplisiet aan: “soek die ewige lewe” (Rom. 2:7), met ander woorde dit is nie iets wat elkeen noodwendig het nie. Vir die Korinthiërs spel hy uit: “Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.” (1 Kor. 15:53-54). Die siel is dus nie uit sy ontologiese aard onsterflik en ewig nie. Dit is nét God en sy Seun (en uiteraard die Heilige Gees wat hul gees is) – maak 1 Tim. 6:16 dié klinkklaar stelling – “wat alleen onsterflikheid besit”. Derhalwe sê Rom. 3:23 die ewige lewe is ‘n genadegawe, ‘n geskenk.
Dit alles maak dit duidelik dat ook die Nuwe Testament die siel as sterflik voorhou.
Op die keper beskou, was die leuen oor die onsterflike siel die eerste en grootste leuen wat aan die begin van tyd aan die mens verkwansel is deur die slang.
In die volgende Manna begin ons hierdie oerwaarheid uitpluis binne groter verband.
- Sela: Gee aan iemand ‘n verduideliking van wat die Nuwe Testament van die siel sê.
- Lees: 76-78
- Memoriseer: 78:2
- Delf dieper: Luister na Philip Degenaar se cd-lering: ‘n Ander kyk na Vaste Opvattings oor Siel en Gees