“Die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe …”
(Spr. 11:30, OAV)
Ons het nou al soveel keer in detail gekyk na die geskiedenis van die eerste mense in die tuin van Eden, maar hierdie geskiedenis blý ontvou. Daarom is ons tans besig om weer te kyk wat in die tuin van Eden met die sondeval gebeur het en werklik te verstaan wat die simboliese belangrikheid van byvoorbeeld die boom van die lewe en die boom van kennis van goed en kwaad is. Ons wil dit egter in verband bring met die konsepte van siel en gees, wat alles beter sal verduidelik.
Om dit te doen, kom ons kyk net interessantheidshalwe oorsigtelik na wat presies in vorige Mannas oor hierdie twee mitiese bome gesê is. Dit behoort ook vir die leser ‘n aanduiding te wees van die ontvouing van geestelike openbaring, met ander woorde hoe “insig vermeerder” (Spr. 1:5), hoe die lering en openbaring vermeerder, en hoe daar met nuwe insigte regstellings gemaak word. Onthou – almal ken ten dele (1 Kor. 13:9), en dit beteken dan ook dat daar noodwendig ‘n vermeerdering van kennis (Dan. 12:4) mettertyd moet wees. Ek is derhalwe nie ‘n voorstander van rigiede vir eeue-vasgelegde belydenisskrifte wat geen ruimte vir nuwe openbaring bied nie. Derhalwe moet ons grootmoedig en nederig genoeg wees om te erken dat niemand die volle waarheid in pag het nie.
Ons het in die vorige Manna gaan kyk na Dag 4, Dag 6 & 7 en Dag 41 & 42.
In verskeie Mannas, byvoorbeeld Dag 107, 190 en 235, word die boom van kennis van goed en kwaad gekoppel aan godsdienstigheid, wettiesheid en die dood wat dit meebring, en in Dag 280 word verduidelik hoe wyd dit die mens gekorrupteer het. Vir die eerste keer in die Manna word in Dag 251 die simboliese gelykstelling tussen die boom van die lewe en Jesus gemaak, ook later in Dag 857-859 en Dag 1110-1111, maar nie verder verken nie.
Dag 294 bied ‘n belangrike openbaring oor die twee bome – op grond van Gen 2:9 word uitgewys dat die boom van die lewe in die MIDDEL van die tuin is. Middelpunt dui op die hart, die sentrum, die mees belangrike posisie. Daarnaas word die ander boom, die boom van die kennis van goed en kwaad, gestel. Die boom van die lewe is in die middel van die tuin. In twee gevalle word van die ander boom, die boom van kennis van goed en kwaad, gepraat, en nie een keer noem God dit in die middel van die tuin nie. Iets radikaal het gebeur dat Eva alreeds in haar verstand (= manier van dink) die twee bome met mekaar begin verwar het. Sy sê eksplisiet: die boom van kennis van goed en kwaad is in die middel van die tuin, dus in die sentrum.
In Dag 296 word tot die slotsom gekom dat die slang in die tuin van Eden, daar waar die Boom van die lewe sy regmatige plek het in die middel van die tuin, ‘n aanspraak kom maak dat die boom van kennis van goed en kwaad eintlik in die middel van die tuin is. As hy jou kan verlei om dit te begin dink, word jy ‘n “double minded man” (Jam 1:8, KJV), “who is unstable in all his ways”.
Op grond van Gen. 2:8 – “Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee.” – word in Dag 1155-1156 uitgewys dat die tuin van Eden, asook die eerste twee geskape wesens, Mens en Mannin, onsienlik was omdat hulle ewig is (2 Kor. 4:18).
Met dít in gedagte, is dit baie belangrik om te besef dat Jesus aan die moordenaar aan die kruis ‘n belofte gemaak (en aan ons ‘n verstaan gegee waar Hy gaan wees direk ná sy dood, in antwoord op ‘n versoek van dié man): “En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Luk. 23:42-43). Dit is dan duidelik: paradys < in Eden < in die Ooste / voortyd / ander realiteit / buite tyd! In 2 Kor. 12:14 word Paulus “opgeruk” in die derde dimensie, wat hy ook “paradys” noem, waar hy die rhema-woorde van God hoor. En in Op. 2:7 staan: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is,” wat dan ‘n gelykskakeling maak tussen “paradys” en “tuin van Eden”. Jesus het na sy dood weer sy posisie as die Boom van die Lewe gaan inneem in die paradys < in Eden < in die Ooste/ ander realiteit buite ons tydruimte, is in dié Manna voorgehou.
In Dag 1163 word verduidelikdat Mens en Mannin in die Tuin van Eden die reg gehad het om te kan kies – hulle het die reg om te kies tussen enersyds die boom van die lewe (tesame met die ander bome in die paradys) en andersyds die boom van kennis van goed en kwaad. Gen. 2:16-17 spel dit só uit: “En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe!” Adam het 930 jaar verder gelewe ná die sondeval, dus was hierdie sterfte nie fisies die dood van Adam se liggaam nie.
Dit kon ook nie Adam se sielsdimensie (sy wil, intellek en emosies) wees wat “op die dag” gesterf het nie, want Adam was ná die sondeval nie ‘n zombie nie – hy het ten opsigte van al die fasette van die lewe normaal gefunksioneer. Ons weet Mens is na die beeld van God geskape (Gen. 1:27), en is derhalwe primêr ‘n geeswese, want God is gees (Joh. 4:24). Ons kan dus sonder vrees vir teenspraak sê Adam en Eva se gees het gesterf of dormant geword. Hulle het die vermoë verloor om God te kan ken en met Hom te wandel in die aandwind (Gen.3:8).
Met ander woorde as Mens en Mannin nie sterflikheid deelagtig was terwyl hulle alleen van die Boom van die (ewige) lewe geëet het nie, moes hul na aanleiding van hierdie Skrif onteenseglik onsigbaar gewees het! Na die sondeval, toe hulle “sekerlik sterwe”, en hulle dus sterflike, tydelike wesens word, word hul sigbaar. Hul verkry sigbare, fisiese, “sterflike liggame”.
Aan die boom van die lewe groei ‘n eerstelingvrug, is in Dag 1159 voorgehou. Elkeen wat oorwin, sê Op. 2:17, het die reg om in te gaan in die derde dimensie en om van die boom van die lewe se vrug te eet. Hulle eet dus uiteraard van die vrug van Jesus se goddelike natuur, wat ons ook die “vrug van die Gees” (Gal. 5:22; Efes.5:9) noem, MAAR hul eet ook van die vrug van die Christus, met ander woorde hulle eet mekaar se Christus-rhema-identiteit. En as dit gebeur, word hul bome van die lewe in eie reg, soos Spr. 11:30 dit pragtig uitspel: “Die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe …”
Hierdie is in ‘n groot mate die somtotaal van die argumente wat gevoer is oor die twee bome in die tuin. In die Delf dieper-gedeelte van die laaste Manna is daar gesuggereer dat in die Mannas tot dusver daar met hierdie twee mitiese bome dalk ‘n verkeerde gelykstelling gemaak of simboliese uitleg gegee is. Het jy die foutiewe aanname wat dalk gemaak is, kon insien?
Die foutiewe aanname in die hele ontvouende diskoers oor die twee bome is dat Jesus die Boom van die Lewe is. Indien dit so is, moet die ander boom die teenstander wees van Jesus, ‘n simboliese boom van wie die kennis vir die mens dood meegebring het. Die oënskynlike teenstander sal dan uiteraard volgens hierdie argument die duiwel moet wees. Maar dit kan tog nie wees nie, want die slang is ‘n baie pertinente figuur in die Edenverhaal. Die duiwel kan nie die slang én die boom wees nie. Dus – die boom van die lewe dui nie simbolies op Jesus nie. Maar op wat dui dit dan?
- Sela: Probeer ‘n antwoord op die vraag in die laaste paragraaf bied.
- Lees: 85-90
- Memoriseer: 87:5
- Delf dieper: Luister na Briers Uys se cd: Die boom van die lewe in die middel van die tuin van Eden