Dag 1409

 

“… die saligheid van julle siele …”

(1 Pet. 1:9, OAV)

Noudat ons besef die vorige oortuiging dat Jesus die Boom van die Lewe is, hou helaas nie water nie, moet ons ‘n totale heroriëntasie ten opsigte van die paradysverhaal verkry.

Maar voor ons dit kan doen, moet ons allereers nog ‘n ander baie belangrike waarheid vasmaak. In Manna Dag 1402-1404 is met jota en tittel uit die Skrif aangetoon die siel is bepaald sterflik. Maar wat maak ons met die uitspraak wat ons baie dikwels en graag voorhou: die einddoel van jou geloof is die saligheid van jou siel. As dit waar is, is dit moontlik dat die sterflike siel salig kan word, en derhalwe onsterflik word! Dis ‘n ongelooflike waarheid. Dink daaraan – jou wil, intellek en emosies, onder andere, met jou talente en vermoëns, persoonlikheidstipe, individualistiese karakteristiek, alles wat jou ‘n unieke, eie persoon maak, gaan nie net totaal verlore met jou sterfte as jou “lewende siel” sy laaste asem uitblaas nie. Maar hóé gebeur hierdie merkwaardige verewiging van die sterflike siel?

Die tweede implikasies is dat die siel moet “saligheid” verkry, en ons verduidelik dit gewoonlik dat jou wil gelykgestel moet funksioneer met God se volmaakte wil (Mark. 14:36; Rom. 12:2), jou intellek moet die “mind of Christ” (1 Kor. 2:16, KJV) demonstreer, en jou emosies moet die vrug van die Gees (Gal. 5:22) wees. Om daarby uit te kom, het ons dikwels geredeneer, moet heiligmaking plaasvind – dit sal die siel salig maak. Heb. 12:14 word dikwels hier ingegooi – “die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie”. Inderdaad uiteraard.

Dit het my dikwels moedeloos gemaak oor die nou paadjie wat ek amper gedwing word om te loop – dikwels met ‘n gewete wat jou aanmaan: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie (Kol. 2:21). ‘n Mens dink onwillekeurig aan die afdruk van die smal weg en die breë weg.

En dan het ek dikwels gewonder as goeie vriende ontydig sterf – het hulle siel tog die cut gemaak van saligheid wat God vereis, want immers is sy standaard skrikwekkend hoog: “Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Pet. 1:16). En al kan mens nie ‘n ander een se lewenspad met God beoordeel nie, het ek al baie geloofsvriende aan die dood afgestaan wat ek voor mý onheilige siel weet baie ver van die saligheid van die siel was tydens hulle (on)tydige dood. Wat gebeur met hulle? ‘n Mens kan die Rooms-Katolieke se behoefte aan ‘n tussentoestand in die vagevuur verstaan – jy (en jou agtergeblewe geliefdes) word ten minste die geleentheid gegun om die saligheid van siele daar deur gematigde pyniging en allerlei boetedoenings te kan onderhandel met God.

Gek? Ja, bepaald, maar ons eie oorgelewerde Reformatoriese en Charismatiese denke het onteenseglik die neerslag van hierdie dwaling ten grondslag. [Uitgesluit dat die verhaal van die ryk man in die hiernamaals gevaarlik baie na ‘n tussentoestand van strafgerig lyk (Luk. 16:20-32). Ons het egter gelukkig reeds hierdie misverstane gelykenis uitvoerig in Manna Dag 584-586 behandel en weet dis nie die waarheid nie.]

In die volgende Manna kyk ons na die absoluut verrassende openbaring wat God oor die saligheid van die siel bied.

  • Sela: Bedink wat is die ewige tuiste van die onsterflike siel.
  • Lees: 91-93
  • Memoriseer: 91:1
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Pervertering van jou Hart.