Dag 1416-1418

 

“die verborge mens van die hart”

(1 Pet. 3:4, OAV)

 

Ons is besig met die ontvouende openbaring van die tuin van Eden en wat presies met die sondeval gebeur het, te verbind aan die konsepte siel en gees.

Die paradysverhaal is ‘n gelykenis of ‘n tipologie, waar sekere elemente deur ‘n simbolisering ondersteun word om dit meer universeel van toepassing te maak én filosofiese of abstrakte konsepte meer prakties verstaanbaar vir lesers deur die eeue. Maar anders as byvoorbeeld die allegorie het elke element in die verhaal nie ‘n simboliese ekwivalent nie. Hierdie oernarratief is van groot belang, want dit verduidelik vir ons die werklike stand van sake hier op aarde; dit leer die mens oor sy wesensaard; en bepaald spel dit onomwonde uit wat “the vain glory of life” (1 Joh. 2:16, ASV) meebring. Dit is bepaald die bloudruk van die mens se ervaring op aarde, en sy skeppingsdoel in God.

As ons die skeppingsverhaal ‘n gelykenis of parabel (Jesus se gunsteling vertelstyl) noem, beteken dit nie dit is nét fiksie nie. Die woordjie parabel verduidelik alreeds wat die vertelstrategie is – ‘n parallelle verhaal. (Die voorvoegsel para- beteken “by the side of”.) Dus het die parabel ‘n storielyn asóók ‘n parallelle lyn – ‘n nuwe idee, konsep of betekenis wat agterhaal moet word. Die natuurlike en uiterlike korrespondeer [vandaar die ander benaming: gelykenis] in prinsiep met die geestelike en die innerlike – die een parrallel aan die ander. Onthou – die Bybel is nie primêr ‘n dokumentering van ‘n enkel historiese verhaal of biografie nie, nee. Dit is geskryf met die primêre doel om deur verskeie genres (nie net die epiek nie) die doel van God en die geestelike realiteite geskakeerd oor te dra.

In hierdie lig gesien – daar is vroeër uitgewys dat die twee pertinente bome in die tuin van Eden duidelik nie fisiese bome was nie, maar elkeen iets simbolies verteenwoordig. Uit ‘n vorige Manna is dit duidelik dat die boom van die lewe ook nie Jesus is (soos lank aangeneem is) nie, en ook nie die koninkryk van God voorstel  (soos vroeër gemeen) is nie.

Elk van die hoofkarakters in die Bybel verteenwoordig ‘n tipe van die menslike natuur, karakter, menswees of roeping wat enige ander (eietydse) mens homself mee kan identifiseer, goed of sleg. Party Bybelse figure, soos byvoorbeeld Moses, Elia en Paulus was inderdaad werklike historiese figure, maar hulle verteenwoordig as wondertekens (Sag. 3:8) of eksemplare of voorbeelde (1 Kor. 10:6 & 11; 1 Thes. 1:7) gestaltes waarmee mense kan identifiseer en deur wie se lewens ons kan leer. Ander Bybelse karakters, soos byvoorbeeld Lasarus en die ryk man (Luk. 16:19-31), of die groot hoer van Openbaring (Op. 17:2), is bloot fiksie, en het nooit fisies gelewe nie, maar hulle dien eweneens as rolmodelle wat God gebruik in en deur die Skrifte “tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim. 3:16), dikwels op ‘n besonder grafiese wyse. “I’m going to use these historical events as an illustration,” sê Paulus in Gal. 4:24 (GW).

Adam en Eva in die tuin van Eden verteenwoordig die ganse mensdom van verskiet tot in die verre toekoms in wat 1 Kor. 15:45 die eerste Adam noem. Wat met hulle gebeur het, het met ek en jy gebeur. Wat hy en sy was, ís ons. Hulle ervaringe is ons ervaringe, Hulle ontvouende lewenspad is absoluut ook my en jou pad. Die gelykenis behels die begin, die onskuld, die skuld, die verlossing, en die vervolmaking (“perfection” – 2 Kor. 13:9, KJV) van elkeen van ons. Adam en  Eva verteenwoordig in alle opsigte die mens, hoe mens is, waarom mens is wat hy is, van totale onskuld na verlossing en herstel na die Beeld van God (2 Kor. 4:4; Kol. 1:15). Ek en jy kan – soos dit onvergeetlik mooi in N.P. van Wyk Louw se versdrama Germanicus staan – steeds verwonderd bly oor die misterie van die kort sillabe: mens, waaraan ons nog altyd moeilik spel.

Daar is geen openbaring van die Skrifte deur óf die profete óf die apostels, “heilige mense”, “deur die Heilige Gees gedrywe”, wat “van God gespreek” het (2 Pet. 1:21), wat nie reeds in saadvorm in die boek van Génesis voorkom nie! God se totale plan van die eeue is reeds hier op velerlei vernuftige wyses ingeweef deur tipe, skadubeeld, parabel of allegorie – weliswaar ‘n “gesig (wat) sien … op die verre toekoms” (Dan. 10:14).

Die tuin van Eden was nooit ‘n fisiese plek wat in die Midde-Ooste bestaan het nie – dit is ‘n state of being. Dit is ‘n hoër bewussyn- en bestaanstaat as wat ons onsself in hierdie gevalle werklikheid in bevind. Op die keper beskou – die mens is die tuin (of dan sy essensie, sy hart), maar ook – mens was ook in die tuin. Interessant genoeg praat die Bybel derhalwe van ‘n tuin in die tuin (Gen. 2:8)!

Daar is uitgewys dat die boom van die lewe pertinent in die MIDDEL van die tuin is. Middelpunt dui op die hart, die sentrum, die mees belangrike posisie. Daarnaas word die ander boom, die boom van die kennis van goed en kwaad, gestel, wat ook in die middel kan wees, afhangende van hoe die mens-prototipe sy keuses maak. Ons kom agter daar is net eintlik een boom, maar in die gevalle mens moet daar met oorleg en onderskeiding bepaal word watter boom is in die sentrum van die hart.

Al die toestande en voorwaardes wat Mens in Eden mee te doene gehad het, was duidelik ook die toestande en voorwaardes wat Mens in sy hart moes hanteer. Die oorspronklike Mens met sy natuur, karakteristiek, vermoëns en potensiaal is wat ons alles in die tuin van Eden vind. Die uiterlike toestande van Mens se paradys-omgewing korrespondeer haarfyn met die mens se “innerlike mens” (Rom. 7:22).

In Gene Edwards se merkwaardige boek, The Beginning (Chronicles of Heaven), probeer hy verbeeldingryk verduidelik wat gebeur het toe God die tuin van Eden vir die mens in die voortyd geplant het. God was tussen hemel en aarde en het by wyse van spreke sy skeppende hande gebruik en die aarde, wat opgehang is oor ‘n niks (Job 26:7), met die ewige geestelike realm van die hemele laat inbeweeg in mekaar, amper soos twee groot sirkels wat met mekaar interfereer. Daar waar hemel en aarde intiem een geword het, het Hy die uitsonderlike ruimte die tuin van Eden genoem. Hierdie misterieuse ruimte was nóg hemel nóg aarde – dit had geen gelyke nie. ‘n Mens sou dit gemaklik die koninkryk van God kon noem, of in ons tabernakelterminologie: die derde dimensie. Die naaste vergelyking wat ons ten opsigte van die aard van hierdie nuwe skepping kan tref, is die opstandingsliggaam van Jesus. Hy kon gesien word, maar Hy was terselfdertyd totaal geestelik (en derhalwe vir ander onsienlik). Sy aanskyn het herinner aan hoe Hy gelyk het, selfs met die wonde in sy hande en sy (Joh. 25 & 27), maar duidelik ‘n heerlik getransfigureerde liggaam, ongebonde aan tyd en ruimte. As jy die heerlikheid van die geestelike realm van die hemele en die heerlikheid van die aarde neem, is hul intieme vereniging meer heerlik as albei!

Eden word in die skeppingsverhaal duidelik die metafoor vir die hart.

Die geskiedenis van Salomo dra veel by tot die verstaan van hierdie simboliese opset, en ons sal dit in die latere loop van die argument duidelik uitwys. In 1 Kon. 3:9 bid hy: “Gee dus aan u kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei …” Die woordjie opmerksaam word in die Ancient Hebrew Lexicon of the Bible verklaar as: “A careful hearing of someone or something as well as responding appropriately in obedience or action.” Strong hou dit voor as “to hear intelligently (often with implication of attention, obedience)”. In Dawid se laaste gebed in 1 Kron. 29:17-19, in sy oorgee van die koningskap aan Salomo, is dit opmerklik hoedat hy telkemale verwys na die kondisie van die hart: “En ek weet, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid; ek het in die opregtheid van my hart al hierdie dinge vrywillig gegee; en nou het ek met blydskap gesien hoe u volk, hier aanwesig, vrywillig aan U gegee het. HERE, God van Abraham, Isak en Israel, ons vaders, bewaar dit vir ewig, so ‘n gesindheid in die gedagtes van die hart van u volk, en rig hulle hart tot U; en gee aan my seun Salomo ‘n volkome hart om u gebooie, u getuienisse en u insettinge te hou, en om alles te doen en om die paleis te bou wat ek voorberei het.”

As die Skrifte praat van die hart, weet ons dat dit nie die fisiese bloedpompende orgaan in die borskas van elke mens is nie. Maar daar word oor die eeue heen erg kleigetrap oor presies wat die simboliese betekenis van hart is. Dit begin al duideliker lyk uit die res van die Skrifte dat die hart nie net die belangrikste middelpunt van die mens is nie, maar ook die simboliese ruimte van die mens se totale funksionering. ‘n Baie belangrike sleutel hiervan word gevind in 1 Pet. 3:4 waar die apostel die volgende baie insiggewende frase gebruik: “die verborge mens van die hart”. Die kwalifisering van hart hier, naamlik “verborge”, dui op iets “inwardly” (KJV), soos dit byvoorbeeld mooi uitgewys word in Rom 2:28-29: “Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, …”

‘n Mens sou die hart gemaklik ook kon metaforiseer met die koninkryk van God, wat ‘n kollektiewe begrip is, maar wat volgens Jesus se woorde nou binne-in jou is (“die koninkryk van God is binne-in julle” – Luk. 17:21).

Om hierdie mentale sprong te maak, is dit nodig om te besef dat die Nuwe Testament meer afhanklik van die boek Génesis is as al die boeke van die Ou Testament. Daar is ten minste 164 passasies in die Nuwe Testament wat direk aangehaal word uit hierdie beginboek van die Bybel, of waarna daar ‘n duidelike verwysing is deur Jesus en die apostels. Die verwysings word hoofsaaklik ingespan om te verduidelik wat die verlossingsplan van God en wat die grondslae van sy koninkryk is. Trouens, die volle verstaan van God se doel met alles (Ef. 1:10) is totaal en al afhanklik van die verstaan wat Génesis oor die mens se beginne (spesifiek in die meervoud – sien byvoorbeeld Heb. 1:10, ASV) bied. Later meer hieroor.

Paulus, byvoorbeeld, gebruik in 2 Kor. 4:6 ‘n verwysing uit Gen. 1:3 en 14-15 om ‘n ontsaglik belangrike parallel te trek wat vir ons gesprek op die oomblik besonder veelseggend is: “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” [Knoop “die kennis van die heerlikheid” aan jou oor. Waarteenoor staan dit duidelik? Ons kom later hierna terug.]

Maar voor ons daarby uitkom, maak dan nou eers hierdie mentale assosiasie – die hart in die mens simboliseer die paradys, die koninkryk van God waarin Hy heers. Daarbinne is oënskoulik twee bome, die boom van die lewe, wat ons kan gelykstel aan die mens se geesdimensie, en die boom van kennis van goed en kwaad, wat ons kan gelykstel met die mens se sielsdimensie. Eintlik, in ‘n ongevalle toestand, oorspronklik in die Ooste waar die tuin van Eden was, was daar net één geïntegreerde boom wat gewortel was in God.

Die enigste vers in die Bybel waar die begrippe siel, gees en hart saam voorkom, is Heb. 4:12 – “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” Hier word pertinent gepraat van ‘n skeiding tussen siel en gees wat verwyder moet word (“making a division even of the soul and the spirit” – BBE), ‘n skeiding wat duidelik NIE daar moet wees nie!

  • Sela: Verduidelik aan iemand die simboliek van die tuin van Eden.
  • Lees: 115-123
  • Memoriseer: 115:16 – “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die

mensekinders gegee.” (Wat ‘n heerlik bevestigende Skrif is hierdie nie!)

  • Delf dieper: Lees die boek van Gene Edwards: The Beginning (Chronicles of Heaven)