“Daar is ‘n natuurlike liggaam,
en daar is ‘n geestelike liggaam.”
(1 Kor. 15:44, OAV)
In ons huidige ontginning van die tuin van Eden en wat presies met die sondeval gebeur het, en die duidelike korrespondensie daarvan met die konsepte siel en gees, het ons in die vorige Manna baie belangrike bevindinge gemaak. Lees asseblief gou eers weer Manna Dag 1416-1418 om jou geheue te verfris, want ons gaan nie nou al die belangrikste insigte herhaal nie.
Laat ons net gou ‘n spesifieke saak oor Mens verreken – wat is sy natuurlike habitat? Ons weet reeds die mens is oorspronklik gees, dus behoort sy natuurlike habitat die hemelse of geestesrealm te wees. Maar die mens is ook stof, en derhalwe is sy natuurlike habitat noodwendigerwys ook die aarde. Kan dit enigsins albei wees? In ‘n vreemde opsig wél, maar die invloeiing van albei in mekaar is eintlik na regte die ware habitat vir Mens – God skep ‘n eie spesifieke ruimte waarbinne hierdie skepping van God moet leef. Dit is die Tuin van Eden, of dan ook die Paradys genoem. Anders as die meeste mense se oortuiging is die fisiese aardse geensins die Mens se natuurlike habitat nie. Die aarde is dikwels vyandig teenoor die mens. Daarbenewens het baie mense ‘n diep versugting na die hemel, maar dit is streng gesproke ook nie sy huis nie. Die Tuin, of die koninkryk van die hemele (ook genoem die koninkryk van God), is Mens se natuurlike habitat. Die Tuin van Eden was nie die hemel nie, maar ook nie die aarde nie. Dit was ‘n interface realm waar God kon beweeg en waar mens kon beweeg en waar daar ‘n onbevange intieme verhouding tussen hulle was.
Ons is ‘n eiesoortige kolonie van die hemele wat die aarde inhabit.
As mens dan aan die einde van die Bybel lees in Op. 22:2 – “In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies” is die groot vraag – hoe het die boom verskuif van die Tuin na die stad die Nuwe Jerusalem? Vers 14 sê oorwinnende gelowiges (“he that overcometh”) verkry die reg op die boom van die lewe as hul ingaan deur die poorte in die stad. Die waarheid is egter dat die boom nie verskuif het nie – die boom is steeds in dieselfde tydruimte. In die Nuwe Jerusalem OP DAARDIE GEPROJEKTEERDE TYD EN RUIMTE is egter géén sprake is van ‘n boom van kennis van goed en kwaad nie! Dit beteken dat in daardie habitat van Mens se funksionering is die middelmuur van skeiding tussen siel en gees verwyder. Die negatiewe gevolge van die vrug van die verbode boom het ‘n nuwe aanskyn verkry! Die KENNIS van goed en kwaad wat die mens met die eet van hierdie boom verkry het, is nou vervang met die KENNIS van die heerlikheid. Dit alles gebeur “in ons harte” (2 Kor. 4:6), wat as gevolg van die sondeval verdonker het, verhard het, onbesnede geword het. Hierdie “verborge mens van die hart” (1 Pet. 3:4) het derhalwe bedrieglik en verdorwe en onkenbaar geword (Jer. 17:9).
Maar in Eseg. 36:26 word hierdie uiters belangrike profetiese vooruitskouing gemaak: “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.” Rom. 10:9-10 sonder die hart uit as die fakulteit van die mens wat moet getuig van geloof in God: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”
Met die doping van die Gees tydens wedergeboorte geskied dan ‘n absoluut uitsonderlike gebeurtenis, volgens Gal.4:6 – “God (het) die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!” Skielik is dit nou weer moontlik vir die Gees van God om in die aandwind van die paradystuin te wandel (Gen. 3:8)! Volgens Ef. 3:17 woon Christus dán deur die geloof in ons harte!
Nou kan ons verstaan dat die siel én die gees met wedergeboorte salig word, en sodoende word die middelmuur van skeiding daartussen stelselmatig verwyder. Dít is wat Heb. 5:14 uitspel: “Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.” Rom. 16:19 stel dit net in ander woorde: “Want julle gehoorsaamheid het algemeen bekend geword. Daarom verbly ek my oor julle, en ek wens dat julle wys mag wees teenoor wat goed is, maar onskuldig teenoor wat sleg is.” Om hierdie rede verduidelik die Ancient Hebrew Lexicon of the Bible die antieke Hebreeuse piktograaf van die woordjie hart as “the shepherd staff representing authority”, wat gejukstaponeer word met “a picture of a tent representing what is inside”. Die verklaring daarvan is soos volg: “Combined these mean ‘authority inside’.”
Dus kan ons hierdie groot waarheid vasmaak – Mens se wesensaard, sy hart, sy state of being, word in die Génesisverhaal voorgehou as die Tuin van Eden. Ná Mens uit die Tuin uitgeval het, weliswaar uit God uit, het die lang pad terug gevolg. In die Bybelboek Eksodus word die Tuin voorgehou as die land van Kaänan, die beloofde land. Dit was ‘n konkrete land waarheen die volk Israel moes optrek, maar dit is terselfdertyd ook die simboliese ekwivalent van Eden. In die Nuwe Testament kulmineer dit in Christus Jesus – Hy woon in ons (Ef. 3:17) maar ons woon ook in Hom (Joh. 14:2). Jesus is die Ultimate Interface. Dáárom is hierdie uitspraak van Jesus in Joh. 15:4 so uiters belangrik: “Bly in My, soos Ek in julle.” (Onderstreep die woordjie bly.) Hy is van albei realms en Hy is in albei realms en Hy beliggaam albei realms – “hierdie verborgenheid is groot” (Ef. 5:32)!
Daarom is alle wedergeborenes deel van hierdie nuwe spesie op die aarde (2 Kor. 5:17) – ons lyk soos die ander mense, maar ons is van ‘n totaal ander aard! Ons is been van Sy been, en vlees van Sy vlees (Ef. 5:30). ONTHOU: vlees en bloed kan nie hierdie geestelike koninkryk beërwe nie (1 Kor. 15:50), want dis verganklik – hierdie geestelike vlees en geestelike bloed is van die innerlike mens, die opgestane, verheerlikte liggaam wat jy as iemand wat weer gebore is NOU REEDS besit! 1 Kor. 15:44 – “Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.” Hierdie geestelike, onsienlike liggaam is van dieselfde ewige vlees as in die voortyd, dit wat uit die ewige aarde van indertyd geneem is (Ps. 102:25). Hierdie geestelike, onsienlike mens kan onmoontlik ‘n gevalle sielsdimensie hê, nee! Na wedergeboorte is jou innerlike mens se wil, intellek en emosies nes jou gees – volmaak herstel. Soos vroeër beredeneer, is die siel van jou innerlike mens derhalwe nie meer sterflik soos die sielsdiemsnie wat jou natuurlike liggaam bedien nie.
Dit is van die allergrootste belang dat ek en jy besef dat met jou wedergeboorte ons die volheid van wie God is, ontvang het. Byvoorbeeld – in my onwedergebore staat is ek “sonder natuurlike liefde” (Rom. 1:31). God, daarenteen, IS liefde (1 Joh. 4:8). In 1 Joh. 2:15 leer ons dat die liefde van die Vader nie in ons is nie. Maar met die wedergeboorte gebeur hierdie wonderbaarlike ding: “die liefde van God (is) in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is”. Inderdaad – “Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het …” (1 Joh. 3:1)! Die volheid van God se liefde vir die totaliteit van alle mense, waaroor Joh. 3:16 dit het, is reeds in my en jou uitgestort! Daarom roep Paulus uit tot hulle “wat in die liefde gewortel en gegrond is” dat hulle “in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.” (Ef. 3:17-19).
Catherine de Hueck Doherty sê in haar boek The Gospel Without Compromise: “The Gospel can be summed up by saying that it is the tremendous, tender, compassionate, gentle, extraordinary, explosive, revolutionary revelation of Christ’s love.” Al daardie vurige liefde van God is reeds IN jou gedeponeer, niks minder nie as die totaliteit daarvan. Daarom lewer Brennan Manning in sy The Furious Longing of God hierdie vurige pleidooi: “The gospel is absurd and the life of Jesus is meaningless unless we believe that He lived, died, and rose again with but one purpose in mind: to make brand-new creations. Not to make people with better morals, but to create a community of prophets and professional lovers, men and women who would surrender to the mystery of the fire of the Spirit that burns within, who would live in ever greater fidelity to the omnipresent Word of God, who would enter into the center of it all, the very heart and mystery of Christ, into the center of the flame that consumes, purifies, and sets everything aglow with peace, joy, boldness, and extravagant, furious love. This, my friends, is what it really means to be a Christian. Our religion never begins with what we do for God. It always starts with what God has done for us, the great and wondrous things that God dreamed of and achieved for us in Christ Jesus.”
Dink dan nou verder – dit is nie net waar vir die liefde van God nie. God se geregtigheid is ook reeds ten volle in ons uitgestort. Immers – ons het die geregtigheid van God ontvang sonder enige werke (Rom. 4:6). Paulus skryf in ‘n eietydse tongval in Rom. 5:17 (MSG) só daaroor: “can you imagine the breathtaking recovery life makes, sovereign life, in those who grasp with both hands this wildly extravagant life-gift, this grand setting-everything-right”? Ons word “geregtigheid van God in Hom” (2 Kor. 5:21). Die nuwe mens is “na God geskape … in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:24). Die skrywer van The Mirror Bible se kommentaar in vers 23 vat dit pragtig vas: “rediscover his image and likeness fully redeemed in us”!
Dit is dus ook waar dat die volheid van die shalom wat in God is, ook in jou is: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle …” (Joh. 14:27), “dat julle in My vrede kan hê” (Joh. 16:33). Dit is dieselfde met al die karakteristieke wesenseienskappe van God: goedheid, getrouheid, wysheid, genade, en so meer.
Nou moet jou volgende vraag noodwendig wees: hoekom dan is ek liefdeloos, ongeregtig, leuenagtig, bedink ek slegte dinge? Saam met Paulus in Rom. 7:24 roep ons desperaat uit: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” As al hierdie persoonlikheidskartakteristieke van God dan IN ons is, hoekom manifesteer ons ooglopend steeds ‘n gebrek daarvan?
Ons degenererende fisiese liggame, en ons onbetroubare en gebroke sielsdimensie, maak egter nou nie meer saak nie. In 2 Kor. 5:1 (in The Mirror Bible) word dit pragtig in eietydse taal soos volg voorgehou: “Our skin-bodies have a sell by date; our spirit-bodies are eternal. The same God who fashioned these skin-bodies in our mother’s womb, engineered our spirit-bodies to be our permanent dwelling.” Verse 2 tot 4 verduidelik dit verder pragtig: “Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word, as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie. Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word.”
Die huis wat Jesus vir ons gaan voorberei het, wat Hy in Joh. 14:1 belowe het, dié kundige Timmerman (soos Sheila Cussons Hom genoem het), was toe nou nooit ‘n herehuis in die hemel soos Choo Thomas in haar verbeeldingryke boek Heaven is so real! ons wou laat glo nie. Hy het ‘n geestelike huis (letterlik tabernakel) vir elke wedergeborene IN DIE GEES gaan moontlik maak, ‘n uitspanplek in die land van melk en heuning verkry, ‘n deel van die Nuwe Jerusalem as jou kaart en transport bekom, jou uitspanruimte in die tuin van Eden onder die Boom van die Lewe verseker. Dit is jou inwoon (soos klein Samuel) “in die tempel van die HERE waar die ark van God” (1 Sam. 3:3) is; dit is uiteraard ook die derde dimensie – “in die (durende) teenwoordigheid van God in Christus” (2 Kor. 12:19). Bedink dit!
- Sela: Het jou innerlike mens dan ‘n volmaakte siel?
- Lees: 124-132
- Memoriseer: 124:7 – ‘n kernskrif vir hierdie lering.
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Bruid as nuwe spesie op aarde.