“Give me some time; I’ll find out what GOD says in your circumstances.” (Num 9:8, MSG)
God praat ook deur omstandighede. Uiteraard is hierdie ‘n baie subjektiewe maatstaf waarin ons die stem van God kan onderskei, want hoe onderskei ‘n mens nou of dit wat met jou gebeur noodwendig is omdat God daarmee iets aan jou wil kommunikeer. Henry & Richard Blackaby gooi die betekenisnet van die begrip omstandighede baie wyd: “Omstandighede is gebeure wat God gebruik om oor Hom en sy wil te praat.” Ongelowiges sal gebeure as toevallig beskou, maar gelowiges sal dit raaksien en dink: en toe val Lig!
Uit die Woord sal jy duisende voorbeelde kry van omstandighede wat God gebruik het om met mense te praat. Die groot soektog om vir sy seun Isak die regte vrou te kry, was vir Abraham geweldig belangrik. In Gen 24 word in detail vertel hoe Abraham sy dienskneg ge-coach het oor wat hy soek. Hy voer allerhande rituele uit (vers 2), laat die matchmaker sweer (vers 3), gee voorskrifte uit watter land en gebied sy moet kom, en gooi toe hierdie stunner in: God sal ‘n engel voor jou uitstuur sodat jy nie miskien, toevallig, die verkeerde keuse maak nie (vers 7)!
Nou waar begin jy met so ‘n onderneming? In vers 11 lees ons dat die dienskneg op een laatmiddag moeg en moedeloos gaan sit het by ‘n put om sy kamele te laat suip, aan die buitewyke van ‘n stad. Maar dan doen hy ‘n vreemde ding – hy bid, en sê: praat met my deur omstandighede. “Laat ek haar tog vandag ontmoet,” bid hy in vers 12, en in vers 14: “laat dit nou tog gebeur”. En hy gooi ‘n velletjie uit van hoe hy sal weet as dit nou werklik sy is. Vers 15 sê dan: “Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka …” Lo and behold ☺. En sy is baie mooi en sy is ‘n maagd. Toevallig? Vers 21 sê dit dan mooi: “En die man het haar stilswyend betrag om te weet of die HERE sy weg voorspoedig gemaak het of nie.” In vers 27 kom hy tot die besef: “Wat my aangaan, die HERE het my op die weg gelei …”
Het hy ‘n stem gehoor wat bulderend die pad aandui? Nee. Het die vrou met ‘n stralekrans aangestap gekom? Nee. Daar was baie toevallighede, maar die dienskneg was deurgaans in counsel met God, en inderdaad: die wil van God gebeur, selfs in die oënskynlike mogge troffe van gebeure. Inderdaad is dit soos Spr 16:9 dit uitspel: “Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die HERE rig sy voetstappe.” Daarom bely Jeremia (in 10:23): “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”
Vir die gelowige is niks toevallig nie. As jy biddend bly loop, sal Hy jou paaie rig en word die hele wêreld ‘n bron van Goddelike inligting. Word bedag hoe Hy enigiets kan gebruik om met jou te praat. ’n Werksaanbod, ‘n retrenchment, ‘n natuurramp, ‘n skielike dood, ‘n motorongeluk, ‘n onverwagse geskenk, ‘n buitengewone gesprek, ’n muntstuk wat jy optel, ‘n advertensiebord langs die pad, ‘n formasie van voëls, ‘n registrasienommer, ‘n kind wat jou aankyk en iets heeltemal buite orde sê … toe val Lig en jy wéét dat jy weet in jou gees God het gepraat.
- Sela: Jan Swanepoel het ‘n gedig wat sê: “Die ganse dag is pure God …” Begin dit oefen om onder die leiding van die Heilige Gees te sela oor God se stem in (alle) omstandighede.
- Lees: 1 Sam 28; Ps 150; Luk 24
- Memoriseer: Luk 24:34 – dit was ook die NT-groet: Die Here het waarlik opgestaan!
- Vir dieper delf: Lees hfst 7 in die Blackaby’s se boek: Hoor God se stem.