“die hoogte van die olywe”
(2 Sam. 15:30)
Om te kan meebring dat die mens wat uit die tuin van Eden gedryf en verban is sy weg na die tuin kan terugvind, moes Jesus as voorloper (Heb. 6:20) deur twee prototipiese tuine gaan.
Allereers moes Jesus deur die tuin van Getsémané gaan – lees weer hierdie dramatiese geskiedenis: “Toe kom Jesus met hulle in ‘n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid. En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word. Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. Toe kom Hy en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar. En Hy het hulle met rus gelaat en weer vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê. Daarop kom Hy by sy dissipels en sê vir hulle: Slaap maar voort en rus. Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.” (Matt. 26:36-46).
Dit is geweldig belangrik om te verstaan dat alhoewel hierdie gedeelte streng gesproke as Nuwe Testament geklassifiseer kan word, en dit ook in ons Bybels as deel van die nuwe verbond voorgehou word, dit eintlik streng gesproke die volvoering van die Ou Testament is. Derhalwe is die geskiedenis van Jesus in die tuin van Getsémané ook vir ons ‘n tipologie van die pad wat ons moet stap (Rom. 15:4; Rom. 4:23-24; 1 Kor. 9:9-10; 1 Kor. 10:11; 2 Tim. 3:16-17). Van die tuin in Génesis tot die tuin in Openbaring is daar twee ander tuine waardeur ek en jy ook moet gaan op ons ontvouende pad van geloof, en die eerste hiervan is die tuin van Getsémané.
In Joh. 18:1 lees ons: “Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor die spruit Kedron gegaan waar daar ‘n tuin was, waarin Hy self gegaan het en sy dissipels.” Op hierdie pad onderweg na Getsémané het Jesus die allerbelangrike lering van Joh. 14 aan sy disspels gebied (oor die feit dat Hy weggaan en wat hulle moet verwag in die tyd wat voorlê); met hulle gepraat oor die geheimenis van die Christus, voorgestel as ‘n wingerd met lote (Joh. 15); in groot detail die verborgenheid van sy verskyning/koms as die Heilige Gees verduidelik (Joh. 16); en sy hoëpriesterlike gebed – die volvoeringsluitsteen van sy roeping – in Joh. 17 gebid. Wat ‘n reis moes dit nie gewees het nie!
Hierdie reis na Getsémané, wat net buite Jerusalem geleë was, het plaasgevind deur die kronkelpaadjie en ravyne van die vallei van Jehoshaphat. ‘n Spruit, “wat dwarsdeur die land stroom” (2 Kron. 32:4), is hier baie prominent. Jesus het bes moontlik dikwels hierdie tuin gekies om te rus en perspektief te verkry (Luk. 22:39). Op hierdie spesifieke tyd van die jaar was die Kidron ‘n redelik sterk stroom. Easton’s Bible Dictionary gee die volgende inligting: “Turbid, the winter torrent which flows through the Valley of Jehoshaphat, on the eastern side of Jerusalem, between the city and the Mount of Olives. This valley is known in Scripture only by the name ‘the brook Kidron.’” Die woordjie turbid wat Easton gebruik is veelseggend, en volgens Webster beteken dit die volgende: “TUR’BID, a. [L. turbidus, from turbo, to disturb, that is, to stir, to turn.] Properly, having the lees disturbed; but in a more general sense, muddy; foul with extraneous matter; thick; not clear …” Die turbulensie van die waters is duidelik ‘n natuurlike heenwysing na die geestelike aard van Jesus se gemoed – profeties moes Hy immers amper “sy siel uitstort … in die dood” (Jes. 53:12).
In hierdie lig is dit ook belangrik om te weet dat die rivier Kidron ook gebruik is om al die afval van die offers van die tempel weg te voer. Al die bloed van die offerdiere is byvoorbeeld in die Kidron gestort. Hierdie nag, toe Jesus en sy dissipels die tog onderneem het, was die rivier onteenseglik vol bloed. Die neerslag van die bloed het op die duur veroorsaak dat die rivier swart geword het, en bes moontlik is dit dat dit as gevolg hiervan sy naam, wat “dark” beteken, verkry het, met al die moontlike simboliese assosiasies van dood en sterfte wat daaraan kleef. Dit toon aan dat elke gelowige êrens op die pad gekonfronteer word met die spreekwoordelike dark night of the soul (die frase gemunt deur St. Johannes van die Kruis) waarbinne jy jou eie wil aflê en God se wil bo alles soek in ‘n tyd van groot onrus. [Lees byvoorbeeld Ps. 120, waar in vers 5 verwys word na die “tente van Kedar”, wat dieselfde basiswoord het as Kidron, en sien duidelik die skrikwekkende agonie.]
Die geskiedenis van hierdie omgewing is ook vir ons verwysing belangrik. Dit is die gebied waar Dawid wenend en kaalvoet van Absalom gevlug het (2 Sam. 15:23 & 30). Hier het Asa die obsene afgode van sy moeder verbrand (1 Kon. 15:13), en hier is Athalia, wat koninklike saad aborteer, oorwin en doodgemaak (2 Kon. 11:16). Dit het later die afvoerplek van alle onreinhede geword (2 Kron. 29:16; 30:14), en sedertdien is die vallei die algemene begraafplaas van die stad (2 Kon. 23:6; vergelyk Jer. 26:23). Al hierdie inligting verskaf belangrike prototipiese toeligting tot die emosionele ruimte waarbinne Jesus (en ek en jy) verkeer onderweg na die tuin van Getsémané.
Jehoshaphat beteken: Jehovah has judged en is simbolies die plek van finale oordeel (Rom. 8:1). NET in Christus is daar geen oordeel nie! Joël 3:1-2 lig dit profeties soos volg toe: “Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.” Joël 3:14 benoem dit derhalwe ook as “die dal van beslissing”.
In 2 Sam. 15:23-25 & 30 lees ons dat hierdie ruimte, die plek was waar koning Dawid, en die hele land se mense saam met hom, in ‘n profetiese voorloop – wat herinner aan die kruisvaart van Jesus – “deurgetrek” het: “En kyk, Sadok was ook daar, en al die Leviete by hom wat die verbondsark van God dra, en hulle het die ark van God neergesit—Abjatar het ook opgetrek—totdat al die mense uit die stad tot die laaste toe deurgetrek het.” Vers 25 spel uit wat die koning vir Sadok, die prototipe van die koninklike priesterdom (1 Pet. 1:23) simbolies voorhou: “Bring die ark van God terug in die stad. As ek genade vind in die oë van die HERE, sal Hy my terugbring, en Hy sal my dit en sy woning laat sien.”
Jesus moes as ark van God en ewige woning (Deut. 33:27) voorberei word, soos Hy in Joh. 14 verduidelik het. Om dít te kon word, moes die Gesalfde, gaan na “die hoogte van die olywe” (2 Sam. 15:30), Getsémané, wat beteken: Olive Press. Hier sou Hy as die Messias gepars word, en dit is ook hier waar ek en jy die salwing van/in die Christus ontvang.
- Sela: Wat verstaan jy onder die salwing van/in Christus?
- Lees: 136 – 144
- Memoriseer: 139
- Delf dieper: Lees St. Johannes van die Kruis se Dark Night of the Soul