Dag 1425-1426

 

“dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel”

(Jes. 53:10)

In die vorige Manna is verduidelik dat die mens wat uit die tuin van Eden gedryf en verban is eventueel sy weg na die tuin moet terugvind. Om dit moontlik te kan maak, moes Jesus as voorloper (Heb. 6:20) deur twee prototipiese tuine gaan waardeur ek en jy as deel van die Bruid van Christus in ons geloofswandel óók moet gaan.

Om dit te kon moontlik maak, moes die Messias, die Gesalfde, gaan na “die hoogte van die olywe” (2 Sam. 15:30), Getsémané, wat in Hebreeus beteken: Olive Press. Hier sou Hy as die Messias gepars word, en dit is ook hier waar ek en jy die salwing van/in die Christus ontvang.

Hierdie kulminasie is een van die sametrekkingspunte van ‘n ontvouende argument wat verskeie afdraaie gehad het om die voller konteks te probeer byhaal. Maar moet nie vergeet nie dat ons deurgaans nog besig is met die manifestasie van die korporatiewe gees van of mantel van Serubbábel. Ons het laas in Manna Dag 1377-1378 gepraat van die twee-en-twintigste kenmerk van die korporatiewe gees van Serubbábel, en dit het gehandel oor Sag. 4:1-3 en spesifiek oor die twee gesalfdes wat ‘n getuienis dra. Binne hierdie omvangryke onderwerp het ons lang paaie geloop, en miskien moet ons net jou geheue verfris sodat jy nie die groter samehang mis nie. Dit is ook belangrik dat jy sal insien dat hierdie “twee olyftakkies aan die kant van die twee goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom” in Sagaria se visioen (Sag. 4:12) uiteindelik “opgebou” het “tot op ‘n Gesalfde” (Dan. 9:25), die Christus. Met sy doop in water – bloot “om alle geregtigheid te vervul (Matt. 3:15) – is Jesus ook deur die Gees van God in Seunskap gedoop en bevestig: “En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” (Matt. 3:16-17).

Maar dit is eers in Getsémané dat Hy die Christus geword het! Hy moes hier, “al was Hy die Seun, … gehoorsaamheid geleer (het) uit wat Hy gely het” (Heb. 5:8). Hier moes Hy gepars word soos die olyf, sodat Hy die Christus kon word. In die tuin van Getsémané moes Hy – met die oog op die profesie van Jes. 53 – besluit om sy eie wil neer te lê ter wille van die wil van God – “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Luk. 22:42). Daarom het dit “; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien” (Jes. 53:10). Die nakroos is die seuns van God wat in Christus die Gesalfde leef.

Om hierdie rede is Jesus se uitspraak in Luk. 24:26 so absoluut belangrik: “Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?” Die Living Oracles New Testament stel dit raak só: “Ought not the Messiah thus to suffer, and so to enter into his glory?”

Dit is van die allergrootste belang dat ons tot die besef moet kom dat om heerlikheid te kan beërwe, moet elkeen van ons – soos Hy – óók deur lyding moet gaan. Rom. 8:17 spel dit onteenseglik uit: “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word”. In Fil. 1:29 verduidelik Paulus dit soos volg: “omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly”. Immers: “dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly—dit is genade by God. ”  (1 Pet. 2:19-20).

Verder aan in die sendbrief van Petrus bied hy die volgende belangrike perspektief: “Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie … Want dit is beter, as die wil van God dit eis, dat julle ly wanneer julle goed doen as wanneer julle kwaad doen.” (1Pet. 3:14 & 17). Dit is dus absoluut moontlik om “volgens die wil van God (te) ly” (1 Pet. 4:19). Om hierdie rede maak die apostel Johannes dit baie duidelik: “Vrees vir niks wat jy sal ly nie.” (Op. 2:10).

Die skrywer van die Hebreërboek verduidelik die doel van lyding klinkklaar in die volgende uitgebreide gedeelte. Dit het te doen met die verkryging van egte seunskap (om nie ‘n “bastard son” te wees nie), die noodsaaklikheid om gesnoei te word sodat ons meer vrug kan dra, en dit is sodat ons Sy heiligheid kan deelagtig word: “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” (Heb. 12:5-13).

‘n Baie belangrike beginsel wat die doel van lyding vir ons onderstreep, is 2 Kor. 4:17 – “Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid …” Thayer omskryf “verdrukking” as a pressing, pressing together, pressure, metaphorically oppression, affliction, tribulation, distress, straits”. Strong voeg daarby: “anguish, burdened, persecution, trouble”, terwyl The WordStudy Dictionary dit herlei na die kernwoord waaruit die begrip afgelei is: “to crush”. Ons sou al hierdie terme oorkoepelend sien as lyding, veral byvoorbeeld uit byvoorbeeld die die perspektief van Job. Interessant genoeg – die woordjies ly of lyding kom glad nie eens een keer voor in hierdie boek van die opgetekende lydingsgeskiedenis van Job nie! Die hoofrede hiervoor is dat Job ten spyte van al die verskriklike lyding wat hy moes beleef en dra, één grondwaarheid nooit vergeet het nie – “Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.” (Job 19:25)!

Hierdie onteenseglike wete dat Jesus as Redder en Verlosser die laaste sê het oor die vernietigende en dwingende stoflike aard van die mens, en dat Hy IN hierdie droewige stand van vergetelheid, dood en nietigheid uit die stofbeginsel ‘n opstandingskrag en –lewe te voorskyn sal bring, was Job se lewensdraad om te bly glo en hoop. Hy het die allerverskriklike lyding kon hanteer as ‘n “ligte verdrukking”, wat aan hom volgens God se belofte “’n ewige gewig van heerlikheid” sou besorg!

  • Sela: Was jy al in jou tuin van Getsémané?
  • Lees: 145 – 147
  • Memoriseer: 145:13 (Hoe gepas!)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Korporatiewe Salwing ‘As it is in Heaven’