Dag 1427-1428

 

“omdat Hy My gesalf het”

(Luk. 4:18b)

Ons is besig om te kyk na die twee prototipiese tuine waardeur ek en jy as deel van die Bruid van Christus in ons geloofswandel, soos Jesus, óók moet gaan. In die vorige Manna het ons stil gestaan by die tuin van Getsémané en ons verstaan nou die salwing van Christus in hierdie olyftuin ook beter.

In hierdie volgende Mannas wil ons die Skrif bietjie fynkam om te sien hoe hierdie tema in die Woord voorgehou word, en dat dit ons verstaan van hierdie allerbelangrike saak kan verruim. Dit het gelyk asof die salwing van die Christus eers finaal beslag in Jesus gekry in die tuin van Getsémané, die olyfpers, maar daar is verskeie ander Skrifte wat eers verreken moet word voor hierdie heerlike geheimenis meer duidelik is.

Lank voor Jesus se ontredderende ervarings in die tuin van Getsémané was Hy elders in gesprek met sy dissipels, en sy spesifieke diskoers met Simon Petrus oor die vraag:: “Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?” (Matt. 16:13), is hier van groot belang. Hierdie gesprek is bes moontlik die belangrikste onthulling daarvan dat Jesus ook die Christus is, spesifiek verse 14-20: “En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees. Daarop het Hy sy dissipels bevel gegee dat hulle vir niemand moes sê dat Hy Jesus die Christus is nie.”

Nie alle gelowiges ontvang die openbaring van die feit dat Jesus ook die Christus of Gesalfde is nie – hierdie apokaluptō is God se prerogatief. Sela hieroor, asseblief.

Wat uit dié perikoop hierbo blyk, is dat Jesus reeds die roeping as die Christus gehad het van voor die grondlegging van die wêreld af, maar dat Hy nie dit bekend eou maak nie, en derhalwe sy dissipels verbied het om Hom as die Christus te identifiseer.

In Luk. 4:18 reeds haal Hy die profeet Jesaja aan wat geprofeteer het oor die Messias wat sou kom: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het …” Hierdie aanhaling – wat meer uitvoerig aangebied word in Jes. 61, is daardie dag toe Jesus die boekrol neem en daaruit voorlees (uit Jes. 61) IN HUL ORE VERVUL (Luk. 4:21).

Wat baie interessant is, is dat Jesus se woorde in Luk. 4 grootliks handel oor Sý handelende rol as die Verlosser, terwyl Jes. 61 se profesie dít grootliks (of vervangend) dek, maar eintlik die klem in ‘n groter mate laat val oor Jesus die Christus en derhalwe oor sy gesalfde Liggaam. In die kolom wat nou volg, word die twee parallelle gedeeltes teenoor mekaar gestel sodat dit makliker vergelyk kan word:

  JES. 61   LUK. 4
1a Die Gees van die Here HERE is op My 18a Die Gees van die Here is op My,
1b omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges 18b omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring.
1c Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, 18c Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;
1d om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep 19a om aan gevangenes vrylating te verkondig
    19b en aan blindes herstel van gesig;
    19c om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur;
1e en vir die geboeides opening van die gevangenis;    
2a om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE 19d om die aangename jaar van die Here aan te kondig.
2b en ‘n dag van die wraak van onse -God;    
2c om al die treurendes te troos;    
3a om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word    
3b sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees;    
3c sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid,    
3d ‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking.    
4 En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag.    

Luk. 4:19b & c kan wel logieserwys vervangend geplaas word as Jes. 61:1e, wat dit dan soos volg sal maak:

1e en vir die geboeides opening van die gevangenis; 19b+c en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur;

Maar alles, vanaf Jes. 2b-4 in die Ou Testament, is in Jesus vervul (Matt. 1;22; 3:15; 5:17; 26:54), en dusdoende word byvoorbeeld die wraak van God uitgekanselleer (lees Joh. 5:22 en Joh. 12:47b)! Vir ons belangrik – IN Jesus was ook die Christus weggesteek, en derhalwe kan Sion as die Bruid van Christus in die heerlikheid van die restorasie leef wat Jesaja oor ons  geprofeteer het. Omdat die Christus in die tyd van Jesaja nog nie vrygestel is nie, kon dit genoegsaam net in Jesus voorgehou (of beter: contain) word, sodat hulle later op die gepaste tyd vrygestel kon word!

  • Sela: Bedink die weglatings van Jes. 2b-4 in die lig van die paragraaf hierbo.
  • Lees: 139 – 144
  • Memoriseer: 139
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Geheimenis van die Inkarnasie