“Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.”
(Ps. 2:6, OAV)
Die tema waarmee ons tans besig is, handel oor die twee prototipiese tuine waardeur ek en jy as deel van die Bruid van Christus in ons geloofswandel óók moet gaan – soos Jesus ook gedoen het. Ons is besig om tot ‘n dieper verstaan van die tuin van Getsémané te kom en ons begryp nou die salwing van Christus in hierdie olyftuin ook al hoe beter.
Dit het voorgekom asof die salwing van die Christus eers finaal in Jesus beslag gekry het in die tuin van Getsémané, die olyfpers, maar daar is verskeie ander Skrifte wat eers verreken moet word voor hierdie heerlike geheimenis meer duidelik is.
Wat uit die studie tot dusver geblyk het, is dat Jesus reeds die roeping as die Christus gehad het van voor die grondlegging van die wêreld af, maar dat Hy dit nie publieke kennis wou maak nie, en derhalwe sy dissipels verbied het om Hom as die Christus te identifiseer.
Hand. 10:38 verduidelik met betrekking tot Jesus van Násaret “hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag” en hoe Hy die land deurgegaan het, goed gedoen het en almal genees wat onder die mag van die duiwel was. Volgens vers 37 het dit geskied “ná die doop … (van) Johannes”. Maar vroeër in Hand. 4:24 & 26 word Hy “deur die mond van u kneg Dawid” God se “Gesalfde” genoem. Vers 27 konstateer dan: “Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het …”
[Dit lyk uit hierdie vers of Jesus as kind gesalf is, wat absoluut geensins die geval is nie. Die woordjie “Kind” word bloot gemeensaam aangebied, naamlik nie as verwysende na ‘n jong persoon nie, maar na ‘n kind uit heretidêre oogpunt, met ander woorde iemand wat voortgekom het uit die ouer se geslagslyn. Dit word byvoorbeeld ook baie duidelik só gebruik in Hand. 3:13 – “Die God van Abraham en Isak en Jakob, die God van ons vaders, het sy Kind Jesus verheerlik …” Dir beteken wel dan dat Jesus as Kind reeds al gesalf was.]
Petrus en Johannes, die apostels, in hulle betoog in Hand. 4 hierbo, as hulle praat van Jesus as Gesalfde, bied ‘n verwysing van die profetiese proklamasie wat Dawid in Ps. 2 gemaak het, spesifiek in verse 2 tot 6: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.”
Wanneer het God sy Seun Jesus dus gesalf? Duidelik in die voortyd of ander realiteit. Maar die vraag is hoe? Dit kon nie met konkrete olie gewees het nie, want albei was onteenseglik gees (Joh. 4:24). Die geheimenis lê opgesluit in die vreemde voorsetsel: “Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.” Die Apostolic Bible Polyglot hou dit uit die Grieks voor as: “A primary preposition properly meaning superimposition (of time, place, order, etc.), as a relation of distribution … that is, over, upon, etc.; of rest ,…etc.” (Strong).
Na die Vader se besluit om die Seun uit Homself te gegenereer, volgens Ps. 2:7, was daar ‘n superimposition van die Vader se wesensaard oor die Seun. Die Seun is toe “die afdruksel van sy wese” (Heb. 1:3), “the express image of his person” (KJV). Die Strong verklaar hierdie frase express image as: “engraving …, the figure stamped, that is, an exact copy or representation”.
Maar steeds – nêrens in die Skrif is daar hoegenaamd sprake daarvan dat God vir sy geïnkarneerde Seun Jesus in die voortyd gesalf het nie. Wat het die salwing van die Gesalfde voor die grondlegging van die wêreld dan meegebring?
Dit is eers in 1 Sam.12:5 dat die geheimenis van die salwing vir ons duidelik word. Maar voor ons daarby kom – die boek 1 Samuel is die eerste dokumentering in die Bybel van God se voorneme om náás die “koninkryk van priesters” (Eks. 19:6), oftewel Israel, ‘n ander groepering te gebruik om gestalte te gee aan sy “sons of oil” (Sag. 4:14, RV):
- In Hannah se profetiese lied in 1 Sam. 2, ‘n oproep van die nuwe generasie Samuels wat die dekadente godsdienstige sisteem van Eli en sy seuns moes vervang, eindig haar proklamasie met die volgende uitspraak: “Hy gee sterkte aan sy koning en verhef die horing van sy gesalfde.” (vers 10).
- In 1 Sam. 2:35 maak God hierdie belofte: “En Ek sal vir My ‘n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom ‘n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel.”
- As Samuel in 1 Sam.12:3 & 5 oor Saul (as gesalfde koning) praat, maak hy die volgende belangrike uitspraak: “Hier is ek; getuig teen my voor die HERE en voor sy gesalfde: wie se bees ek geneem het, en wie se esel ek geneem het, en wie ek verdruk of hard behandel het; en uit wie se hand ek omkoopgeld aangeneem het om my oë daarmee toe te maak—dan sal ek dit aan julle teruggee … Daarop sê hy vir hulle: Die HERE is getuie teen julle, en getuie is sy gesalfde vandag, dat julle niks in my hand gevind het nie. En hulle roep: Hy is getuie.” Ons kom netnou terug na hierdie gedeelte.
- In ten minste sewe ander Skrifte in hierdie historiese boek word die term “gesalfde” gebruik om dit as begrip deeglik te vestig.
Maar dit is 1 Sam. 12:5 hierbo wat vir ons doel op die oomblik geweldig belangrik is. Samuel benadruk baie pertinent die woordjie getuie, en dit word deeglik gejukstaponeer met die woordjie gesalfde. Nié net is die Here hier ‘n getuie nie, en nie net is Saul as gesalfde koning ‘n getuie nie; die vers word afgesluit met God se wesensaard as Getuie – die YLT vertaal die vers die naaste aan korrek: “And he saith unto them, `A witness is Jehovah against you: and a witness is His anointed this day, that ye have not found anything in my hand;’ and they say, `A witness.‘”
Voor die grondlegging van die wêreld, toe God nog enkeld en alleen was, the “only God” (Deut. 6:4), kon daar geen getuie wees nie, want getuienis vra altyd ten minste twee persone. In God se gestaltegewing van die Seun, Jesus (Ps. 2:7), was daar ‘n “superimposition (of time, place, order, etc.), as a relation of distribution”, het ons hierbo gesê. In hierdie getuienis was die salwing. Trouens – die getuienis IS die salwing. Wanneer het God sy Seun, Jesus, dus gesalf? Toe Hy Hom as Getuie geskep het. Op. 3:14 noem Hom dan tereg: “die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God”! Jesus Christus, sê Op. 1:5, is “die getroue getuie”. En in Jer. 29:23 word geproklameer: “Ek is die Een wat weet en getuie is, spreek die HERE.”
Terug by Ps. 2:6, ‘n vers wat dikwels geringgeskat word, maar in werklikheid ‘n geweldige betekenis omsluit – “Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.” Onthou nou – oor is ‘n vreemde voorsetsel in hierdie konteks, en beteken superimposition. Jesus as Koning word superimpose oor Sion, die Bruid van Christus! Daar was in die voortyd eweneens ‘n “superimposition (of time, place, order, etc.), as a relation of distribution” van die wesensaard van Jesus na sy Liggaam toe, “the express image of his person” (Heb. 1:3, KJV), “engraving …, the figure stamped, that is, an exact copy or representation”. DIT IS WAT DIE SALWING IN ESSENSIE IS. Chrisus die Gesalfde is die beeld van God, maar Christus die Gesalfde is ook die heerlikheid van God (2 Kor. 4:4). Die gesalfde Bruid/Liggaam van die Gesalfde Hoof, Jesus, het met die sondeval nie net die Beeld van God verloor nie, maar ook die Heerlikheid Van God – Rom. 3:23 stel dit duidelik: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”. Die nuwe mens moet derhalwe weer beklee word en vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper (Kol. 3:10). In Joh. 12:41 verduidelik die apostel byvoorbeeld dat Jesaja dít bedoel het toe hy gesê het dat die profeet Sy heerlikheid gesien en van Hom gespreek het (vergelyk Jes. 6:1-5).
Om hierdie rede is die herstel van die heerlikheid die kernfokus van die Laaste Reformasie. Ons het ‘n belofte: “die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Hab. 2:14). Ons totale roeping is gegrondves daarin om “die heerlikheid van onse Here Jesus Christus te verkry” (2 Thes. 2:14). Hierdie “evangelie van die heerlikheid van die salige God” is, soos aan Paulus, so ook aan ons “toevertrou” (1 Tim. 1:11); derhalwe is ons absolute fokus ‘n vestiging van “die evangelie van die heerlikheid van Christus” (2 Kor. 4:4). Die “God van die heerlikheid” (Hand. 7:2) het ‘n soeke na getuies van die heerlikheid. In Joh. 8:54 antwoord Jesus: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is.” Salwing is die substans van heerlikheid, en kan net tot wording kom tussen getuies. Sela.
Derhalwe kom die baie belangrike woordjie salwing interessant genoeg nét vier keer in ‘n totaal van net drie Skrifte in die ganse Bybel voor, en elke keer (Eks. 40:15; 1 Joh. 2:20 & 27) word dit eksplisiet korporatief voorgehou – nooit gesetel in ‘n enkele individu nie.
In Eks. 16:34 lees ons hierdie interessante gegewe toe daar manna in die woestyn geval het: “Soos die HERE Moses beveel het, so het Aäron dit voor die Getuienis neergesit om bewaar te word.” Adam Clarke, in sy Commentary on the Bible, sê hieroor die volgende: “The עדות eduth or testimony belonged properly to the tabernacle, but that was not yet built … The word signifies reference to something beyond itself; thus the tabernacle, the manna, the tables of stone, Aaron’s rod, etc., all bore reference and testimony to that spiritual good which was yet to come, viz., Jesus Christ and his salvation.”
In vorige Elektroniese Mannas het ons uitvoerig beredeneer waarom die manna in die woestyn (volgens Joh. 6) beskou kan word as tipologies van die Gesalfde Christus- of rhemawoorde. Met hierdie uitspraak in Eksodus is dit duidelik dat die Liggaam van Christus in hul Christusidentiteite ook duidelik manifestasies van die Getuie Jesus is. Dán kan ons beter verstaan waarom Jesus oor ons in Luk. 24:48 gesê het ons is “getuies van hierdie dinge”. Die direkte opdrag na die opstanding uit die dood en die opvaart na die hemel, toe die Heilige Gees uitgestort is, is: “julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).
Getuie-wees is nie net om die goeie nuus van Jesus te gaan verkondig nie – dit beteken veral om saam te stem hoe alle dinge versoen word in Christus. Die twee spilpunte waar rondom die getuienis gedra word, een in die Ou Testament en een in die Nuwe Testament, is enersyds die ark van die getuienis (Eks. 25:22) en andersyds die wolk van getuies (Heb. 12:1). Ons gaan nie nou in detail hierop in nie, wel effe later in detail.
Op. 12:11 bied hierdie sleutel om die belangrikheid van getuienis: “En hulle het … oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis …” In die volgende Manna sal ons die los lyne meer saamtrek.
- Sela: Bedink die weglatings van Jes. 2b-4 in die lig van die paragraaf hierbo.
- Lees: 145-150; Spr. 1-3
- Memoriseer: 145:12 (mooi sinchronisasie!)
- Delf dieper: Luister na Briers Uys se cd-lering: Die Sameul wat vra om gebore te word in jou
lewe.