“Luister hierna! Staan stil en gee ag op die wonders van God. ” (Job 37:15, OAV)
God praat ook deur die geskape heelal. Maar moet dit nie net as ‘n geykte sentimentele ervaring sien van sielsdimensieverwondering nie, nee – God plaas ‘n baie groot premie op die feit dat Hy die geskape heelal gebruik as voertuig om deur te praat. Miskien een van die vroegste maar vir my mooiste voorbeelde is hoe Moses rustig sit en bokke oppas toe God aan hom verskyn in ‘n vuurvlam uit ‘n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie! “En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom … “ (Eks 3:3-4).
God gebruik dikwels ons verwondering oor ‘n natuurverskynsel om ons nuuskierig te laat naderkom; Hy lok ons nader om sodoende na ons hart te kan spreek (Hos 2:14).
Maar die natuur is nie net staties en word deur God terloops ingespan nie – dit het ‘n aktiewe stem wat praat! Duidelik was Elia gewoond daaraan dat God met hom in ‘n erg wind, ‘n aardbewing en ‘n vuur praat, daarom het hy geluister of God dié keer nie ook só met hom praat nie (1 Kon 19:11-13). Job (37:2-4) het fyn geluister na die donderweer: “Luister, luister na die gedruis van sy stem en die dreuning wat uit sy mond uitgaan.” Inderdaad: “God donder wonderbaar met sy stem” (vers 5). Die hele Job 37 is ‘n herontdekking dat God met die mens deur die natuur praat. In 12:7-8 stel hy dit onomwonde: “Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel.”
In Ps 191-4 verduidelik Dawid dat die hemele “vertel” en die uitspansel “verkondig”; die wisseling van dag en nag “stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan”: al is hul stem onhoorbaar, gaan hul woorde oor die hele aarde! Gaan lees die triomfantelike Ps 148 waarin uitgespel word hoe alles van Hom getuig: die son, maan, sterre, waters, groot seediere, “vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring” (vers 8), berge en alle heuwels, vrugtebome en alle sederbome, wilde diere en alle vee, kruipende diere en gevleuelde voëls …
As mense nog glad nie van Christus gehoor het nie, verduidelik Rom 1:19-21, kan hul steeds tot redding kom, as hulle Sy stem in die natuur hoor en Hom só as God leer ken en aanbid, want “omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word.”
Word wys soos Salomo in Spr 24:30-32 en laat die verwaarloosde wingerd vir jou preek: “I took a long look and pondered what I saw; the fields preached me a sermon and I listened.” (MSG).
- Sela: Vind uit wat is panteïsme en verduidelik aan iemand hoekom dit verkeerd is.
- Lees: 1 Sam 29; Spr 1; Gal 1
- Memoriseer: Gal 1:10
- Vir dieper delf: Luister na Neil Nugget se cd: God’s secret language of the cosmos.