“Ek het die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien neerdaal.”
(Joh. 1:32, OAV)
Ons ondersoek tans die twee prototipiese tuine waardeur ek en jy as deel van die Bruid van Christus in ons geloofswandel, soos Jesus gedoen het, óók moet gaan. Die tuin van Getsémané leer ons verstaan wat die salwing van Christus in hierdie olyftuin dan ook dieperliggend vir ons beteken.
In Ps. 2:6 het ons in die vorige Manna veel openbaring kon vind: “Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.” Hieruit het ‘n verkenning van die begrip getuie die fokus van die gesprek geword. Ons verstaan nou beter wat Jesus bedoel het in Hand. 1:8 toe Hy gesê het: “julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde”. Getuie-wees is nie net om die goeie nuus van Jesus te gaan verkondig nie – dit beteken veral om “‘n medewerker in die evangelie van Christus” (1 Thes. 3:2) te wees.
Die salwing van Jesus wat plaasgevind het voor die grondlegging van die aarde is as ‘t ware ‘n komplement van die fisiese doop van Jesus deur Johannes die Doper in die Jordaanrivier – daardeur het die geestelike doop dan in die fisiese werklikheid ook gerealiseer. Daar was geen legitieme rede waarom Johannes vir Jesus moes doop nie, kan ‘n mens aflei uit die gesprek tussen die twee, soos dit opgeteken is in Matt. 3:13-15: “Toe het Jesus van Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat.”
‘n Mens verstaan Johannes die Doper se terughoudendheid om die doop aan Jesus te bedien – hy het immers mense gedoop as ‘n soort kultiese ritueel tot reiniging. Die doop waarvoor hý bekend was, was daarop gerig om mense te begelei tot bekering (Matt. 3:2 & 11), met gepaardgaande belydenis van sonde (Matt. 3:6), iets wat Jesus uiteraard glad nie nodig gehad het nie (Heb. 4:15; ). Jesus was “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” (Heb. 7:26); Hy het “geen onreg gedoen … nie en geen bedrog (was) in sy mond gewees … nie” (Jes. 53:9; 1 Pet. 2:22); “en geen sonde is in Hom nie” (1 Joh. 3:5).
Maar wat beteken Jesus se uitspraak: “om alle geregtigheid te vervul” (Matt. 3:15)? Die leser moet in ag neem dat Jesus Johannes die Doper antwoord vanuit die beswaar wat Johannes aangeteken het toe Jesus sê hy moet Hom doop. Sy beswaar, weer, kan ‘n mens beter verstaan as jy in gedagte hou dat Johannes bekend was vir sy streng klem op geregtigheid (soos later byvoorbeeld die beweegrede was dat koning Herodus sy kop afgekap het – Matt. 14:3-4). W. Robertson Nicoll se Expositor’s Greek Testament verduidelik dit raak: “The Baptist had a passion for righteousness, yet his conception of righteousness was narrow, severe, legal. Their ideas of righteousness separated the two men by a wide gulf which is covered over by this general, almost evasive, phrase: all righteousness or every form of it. The special form meant is not the mere compliance with the ordinance of baptism as administered by an accredited servant of God, but something far deeper, which the new era will unfold. John did not understand that love is the fulfilling of the law. But he saw that under the mild words of Jesus a very earnest purpose was hid. So at length he yielded.”
Meyer’s NT Commentary vertaal hierdie vers meer toeligtend as volg: “all which as duty it is obligatory on us to do”.
Tog moet ons ook groter betekenisreliëf aan Jesus se spesifieke verwysing na geregtigheid gee, veral in die lig van 2 Kor. 5:21 – “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” Dít sou ‘n baie mooi definisie kon word van om alle geregtigheid te vervul. Met ander woorde – Om alles prototipies tot die volheid te laat kom, moet ek en jy hierdie doop doen. [Dit maak dan ook sin dat verskeie apostoliese vaders in hul skrywe oor hierdie gebeurtenis noem dat Johnnes ná die doop van Jesus deur Jesus gedoop is (volgens Meyer’s NT Commentary). Dit maak Johannes die Doper dus die eerste gedoopte in die Christelike tradisie van die doop.]
Hierdie uitspraak: “want só pas dit ons” uit Matt. 3:15 waarna ons hierbo verwys het, wys ook dat in doper en Dopeling se gesamentlike getuienis (“to witness together”) ALLE geregtigheid vervul word. As ‘n prototipiese eerste doop is die getuienis tussen die twee figurante van baie groot belang om dit as waarheid daaroor te vestig. Die getuienis wat Johannes van God in Joh. 1:31-34 oor Johannes die Doper ontvang het, maak ook ‘n nuwe betekenisraam vir ons in die nuwe verbond oop oor die baie belangrike rol van die Heilige Gees in dié bedeling: “En ek het Hom nie geken nie; maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop. En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly. En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.”
Vir ons argument oor die doping wat Jesus hier deur die Heilige Gees ontvang het, is dit belangrik dat ons let daarop dat Johannes die Doper die manifestasie van die Heilige Gees hier beskryf as “soos ‘n duif”. Hierdie beskrywing was nog altyd vir my vreemd én interessant, want duidelik is die Heilige Gees onsigbaar – die sigbare dinge is immers tydelik, maar die onsigbare ewig, soos 2 Kor. 4:18 dit voorhou. Jesus maak die uitspraak dat “wat uit die Gees gebore is, is gees” (Joh. 3:6), en in reliëf daarmee word die Geesgeborenes vergelyk met die onsienlike wind: “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie.” (vers 8). As die Heilige Gees per definisie dan onsigbaar is, waarom word dit beskryf as dat dit soos ‘n duif sou lyk?
Ongelukkig word hierdie gegewe dikwels in boeke of in kerke voorgestel as ‘n letterlike duif – dis geensins die geval nie, want uiteraard kan dit nie ‘n letterlike duif wees wat Hy ontvang het nie. Luk. 3:22 se formulering is dalk meer korrek: “en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos ‘n duif op Hom neergedaal”. Die Gees was SOOS ‘n duif se uiterlike gestalte. Dat die Heilige Gees nie heeltyd in ‘n duifformaat gebly het nie, blyk duidelik uit Joh. 1:32 – “En Johannes het getuig en gesê: Ek het die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly.” Kortom: die Heilige Gees het in die gestalte van wat na ‘n duif gelyk het op Jesus neergedaal. Hierdie gebeurtenis is – soos ook Jesus se doop in water was – enersyds ter wille van ‘n getuienis, en andersyds om as ‘n prototipe te dien – om alle geregtigheid te vervul. Soos Meyer hierbo dit raak gesê het – “all which as duty it is obligatory on us to do”.
By ‘n ander geleentheid het die Heilige Gees ook gemanifsteer in sigbare items –“tonge … soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit” (Hand. 2:3). Daar word in vers 33 gesê die getuies het dit gehoor én gesien (Hand. 2:33). Maar dit was nie letterlike vuurtonge nie, maar die ware apokalips van vuur wat in Jesus Christus as Gees na die aarde en sy bewoners gekom het.
Die volgende vraag wat ons sal moet kan beantwoord, is hoekom die Gees juis spesifiek in die gestalte van ‘n duif gekom het. Waarom nie ‘n arend nie (so mooi soos byvoorbeeld Deut. 32:11 dit voorhou), of die mossie wat by God se altare sy nes maak (Ps. 84:3), of die swaweltjie wat die tye kan onderskei (Jer. 8:7) nie? [Uiteraard moet ons ook vra hoekom dan ‘n spesifiek ‘n voël, en nie byvoorbeeld weerlig, of sneeu, of wat ook al, nie. In sy boek The Poetry of Birds wys Simon Armitage in sy voorwoord daarop dat die voëls van die hemele deur die geskiedenis gebruik word om hemelse wesens te simboliseer.]
Duidelik moet ons die Bybelse simboliek van die duif gaan ondersoek om uit te vind waarom die manifestasie spesifiek in die gestalte van ‘n duif moes geskied.
Die enigste verwysing na duiwe in Jesus se eie woorde vind ons in Matt. 10:16 – “Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.” Hierdie woordjie opreg word in die Engels vertaal as “innocent” (ACV), “harmless” (ASV), “gentle” (BBE), “guileless” (Darbey), “simple” (Douay-Rheims), “don’t hurt anyone” (ERV), “unadulterated” (ERRB), “pure” (Lamsa), “inoffensive” (MSG) en “blameless” (TCNT). Al hierdie begrippe sou deel kon wees van die karakteristieke van die Christusgesindheid – immers: “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.” (Fil. 2:5).
Belangriker as hierdie “onberispelik(e) en opreg(te)” (Fil. 2:15) Geeskarakteristieke – waaroor Jesus uiteraard nietemin reeds beskik het (Hy hoef dit dus nie van die Heilige Gees te onvang het nie, want Hy was reeds volledig God – Joh. 1:1) – is die feit dat Strong die oorsprong van hierdie woordjie “opreg” aangee as “unmixed”! Dit is suiwer, onverdunde, ongekontamineerde Gees. Bes moontlik om hierdie rede vertaal die ABP die woordjie opreg absoluut korrek as “unmixed”. Dwarsdeur die ou verbond het God dit teen bykans alle vorme van vermenging (druifsoorte in ‘n wingerd, gewigte of geldstukke in ‘n broeksak, Israel met ander volkere, en so meer), bloot omdat die suiwer saad daardeur besoedel word. Die Gees as unmixed dui daarop dat God jaloers is op sy “uitverkore geslag” (1 Pet. 2:9), dat Hy die Bruid, “(die Nuwe) Jerusalem (sal) bevestig en (sal) maak tot ‘n lof op aarde” (Jes. 62:7). Die opdrag staan immers: “Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Pet. 1:16).
Die duif is in die Ou-Testamentiese offervoorskrifte ‘n opsie vir arm gelowige vroue wat aan bloedvloeiing ly, of onrein is nadat hul geboorte geskenk het, volgens Lev. 12:8. Die lam en die duif is albei offergestaltes, wat daarop dui dat die dienaarsleierskap tot die dood toe getrou is daaraan omdat hulle “tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad” (Op. 12:11) het nie. Simbolies beteken dit bloot om offerbereid te wees, soos ons Voorganger Jesus: “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is …” (Fil. 2:6-9).
In Jes. 60:7 profeteer God deur die profeet oor die tyd eendag wanneer die volgende sal gebeur: “Ek sal my heerlike huis heerlik maak”. Dit is die komende tydperk van die evangelie van die heerlikheid (1 Tim. 1:11). Om dit te illustreer, sien die profeet Jesaja ‘n baie interessante beeld wat hy in vraagvorm aanbied in vers 8: “Wie is dit wat daar aangevlieg kom soos ‘n wolk en soos duiwe na hulle vensters?” Die duif is dus allereers die teken van die bedeling waar die heerlikheid die huis sal vul, maar ook die aarde (Hab. 2:14). Dit is die eerste aanduiding van die bedeling waarin Jesus as gesalfde Christus Homself deur die Gees van God (soos vuurtonge) sal vermeerder. In hierdie opsig is dit allerbelangrik dat die duif spesifiek dui op die getuienis rondom die begin van die openbaarmaking van die Christus.
In die volgende Manna hervat ons hierdie heerlike geheimenis.
- Sela: Watter ander geskiedenis van die duif in die Ou Testament moet nog ingeweef word?
- Lees: 4-12
- Memoriseer: 4:11 (wat ‘n mooi sinchronisasie!)
- Delf dieper: Luister na Gerhardus Kotzee se cd-lering: Nederigheid en die Nuwe Seisoen