Dag 1438

 

“die hele aarde is myne”

(Eks. 19:5, OAV)

 

Ons huidige verkenning van die onpeilbare diepgang van die Woord van God moet ons ongetwyfeld Luk. 24:45 laat bid: “Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.”

Vir die argument oor die tipe salwing wat Jesus met sy doop deur die Heilige Gees ontvang het, is dit belangrik dat ons let daarop dat die manifestasie van die Heilige Gees deur Johannes die Doper beskryf word as “soos ‘n duif”. In die vorige Manna het ons begin om die Bybelse simboliek van die duif in die verhaal van Noag (Gen. 8:1-14) as eerste tipologiese sleutel te ondersoek. Dit is belangrik om deurgaans as agtergrond te onthou dat die duif verteenwoordig die openbaarmaking van die Christus. Hierbinne, het ons gesê, is die ark onteenseglik ‘n teëbeeld van Jesus die Christus. Met die ark is “the curse reversed”!

In Gen 8:5-7 staan daar: “ En die waters het geleidelik afgeneem tot die tiende maand. In die tiende maand, op die eerste van die maand, het die toppe van die berge sigbaar geword. Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het,

en ‘n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters weggedroog het van die aarde af.”

Dít is die eerste aksie in die omkering van die vloek, dit wat Hab. 3:10 so mooi poëties voorhou: “die wêreldvloed verhef sy stem, steek sy hande omhoog”. Nie net is dit ‘n gebaar van oorgawe nie, maar soos die NLT dit ook voorhou as aanbidding: “The mighty deep cried out, lifting its hands to the LORD.” Berge het simbolies die allure van ewigheid en van die voortyd (sien Hab. 3:6), en derhalwe is dit ‘n belangrike heenwysing dat die omkering van die vloed eerstens sigbaar word aan dié merkers van die voortyd. Die frase “die toppe van die berge” kom net op een ander plek in die Bybel voor, en wel in Ps. 95:3-4, en hierdie Skrif dui op God se magtige, handelende hand: “Want die HERE is ‘n grote God, ja, ‘n groot Koning bo al die gode. In wie se hand die diepste plekke van die aarde is, en die toppe van die berge is syne.” In hierdie verwoording word ook God se reclaiming van die aarde vooropgestel. Inderdaad is dit soos ‘n Ou-Testamentiese Dawid (Ps. 24:1) én ‘n Nuwe-Testamentiese Paulus (1 Kor. 10:26 & 28) dit uitspel: “Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.” Sela asseblief ‘n oomblik oor hierdie fantastiese uitspraak. Ons is so geneig om die aarde te minag omdat ons dit verkeerdelik assosieer met dit wat alles sal vergaan. Maar onthou – met die skepping was dit onteenseglik alles goed! Onthou God se sterk uitspraak in Eks. 19:5 – “die hele aarde is myne”. Dit is hierdie “lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet” (1 Tim. 6:17)! As die hemel dan Sy troon is, en die aarde die voetbank van Sy voete (Jes. 66:1; Hand. 7:49), kies Hy om “die plek van my voete (vol) heerlik(heid) te maak” (Jes. 60:13)!

  • Sela: Maak seker jou hart en verstand is akkoord met God se perspektief op die aarde.
  • Lees: 22-24
  • Memoriseer: 22:20-21 (onthou jy nog wat is “kernagtige spreuke”?)
  • Delf dieper: Luister na Gideon van Eeden se cd-lering: Die Sewevoudige Gees van God kom tot

Rus op die Aarde