Dag 144

 

“en die skape volg Hom, omdat hulle sy stem ken” (Joh 10:4, OAV)

Baie mense is bang om na die stem van die Here te luister, want hulle is bang hulle hoor verkeerd, of hulle versin eintlik self dat God met hulle praat (‘n soort sense-making fiction), met ander woorde: dit is maar hulle eie gedagtes, of dat dit Satan of bose geeste is wat in hulle gees gefluister het en hulle dit verkeerdelik vat as die stem van God. Dis alles legitieme vrese waaroor ons alreeds geskryf het in Dag 81 en 82 oor die onderskeiding van die wil van God (gaan lees dit weer, asb). 

As jy in ‘n handelsbank gaan werk, is dit belangrik dat jy leer hoe om vervalsde banknote uit te ken. Dis interessant dat as jy geleer word om geld te hanteer, jy in daardie opleidingstydperk miljoene egte banknote gegee word waaroor jou vingers gly. Na ‘n tydperk glip hulle een enkele vals noot tussen die egte note in, en onmiddellik kan die teller voel dit is vals. 

Dieselfde is die geval met die stem van die vyand: hoe meer jy die pad loop met God, hoe duideliker onderskei jy dit is die stem van die vyand wat nou iets influister. Joh 10:5 sê van gelowiges: “Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.” Sy skape volg Hom, omdat hulle sy stem ken. 

Onthou: die Heilige Gees sal jou in alle waarheid lei (Joh 16:13) en word streng gesproke ook jou gewete (Rom 9:1). Daarom kan ‘n mens iets doen omdat jy dink dit is wat God gesê het, soos Dawid in 2 Sam 24, maar daarna onder die oortuiging kom dat dit jou eiesinnigheid was wat jou die besluit laat maak het. “Maar Dawid se gewete het hom gekwel …” (vers 10).  

Die Heilige Gees oortuig van sonde (om jou merk te mis), sê Joh 16:8, veral deur die mens se gewete wat hom bestraf (Joh 8:9). Jou “gewete (gee) saam getuienis … en die gedagtes (beskuldig of ook verontskuldig) mekaar onderling (Rom 2:15). Dit behoort jou as gelowige wat God se wil soek baie gemoedsrus te gee, mits jy nie jou gewete besoedel (1 Kor 8:7) of gebrandmerk (1 Tim 4:2) het nie. Brandmerk beteken hier: “(to have your) own consciences seared as with a hot iron” (WNT), of soos die Message dit stel: “they’ve lost their capacity for truth”. Letterlik toegeskroei.

Paulus stel dit eksplisiet in Tit 1:15: “Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel.” Daarom moet ons deurgaans bid: “[asking] that you may be filled with the full (deep and clear) knowledge of His will in all spiritual wisdom [in comprehensive insight into the ways and purposes of God] and in understanding and discernment of spiritual things” (Col 1:9, AMP).

  • Sela:  Heb 9:14 sê dat on sons gewete moet reinig. Vra die Heilige Gees hoe dit moet gebeur en doen dit.
  • Lees: 1 Sam 30; Spr 2; Gal 2
  • Memoriseer:  Gal 2:20
  • Vir dieper delf: Lees Andrew Murray se uitstekende artikel: The Holy Spirit and conscience op http://www.worldinvisible.com/library/murray/7764/776421.htm.