Dag 1441

 

“‘n kraai … wat gedurig heen en weer gevlieg het …”

(Gen. 8:7b, OAV)

In die vorige Elektroniese Manna het ons dieper begin delf oor die kraai wat Noag na veertig dae uitgestuur het totdat die waters weggedroog het van die aarde af. Gen. 8:6-7 stel dit só: “Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het, en ‘n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het …”

Oor die tipologiese betekenis van die “veertig dae” hier, het ons gesien dit is ‘n tydperk wat die duur van die vloek presies numeries omkeer. Uit Nuwe Testamentiese perspektief dui die getal op die gestaltegewing van die realiteit van die opgestane Jesus Christus, en sy direkte ingrype en insprake rondom “die dinge van die koninkryk van God” (Hand. 1:3). Veertig dae hier dui dus tipologies op die tydperk tussen die opstanding uit die dood en die hemelvaart, dit wil sê die tydperk waar die geesmens as deel van ‘n Liggaam vol heerlikheid aan die nuwe aarde beslag gee.

Ons het in die vorige Manna begin ontrafel aan die belangrike frase “back and forth”/”to and fro”/”heen en weer”, maar dit vra ‘n groter fokusverdieping.

In Sag. 4:10 is hierdie belangrike profetiese heenwyser: “Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe—die oë van die HERE wat die ganse aarde deurloop—met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbábel?”

[Ons lesers moet nou ook kophou met die groter samehang van die Manna – onthou, ons is steeds besig met die oorkoepelende tema ter tafel, naamlik die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel. Dit word primêr gehaal uit Sag. 4:1-5 en handel oor die twee olyfbome of twee getuies of twee gesalfdes, waarvan Serubbábel duidelik een is. Ons het uitvoerig tot dusver aangetoon dat God besig is om ‘n korporatiewe tempel in die Gees te bou, en dit is bepaald nie gemaak deur mensehande nie. Ef. 2:21-22 (TLV) beskryf dit soos volg: “In Him the whole building, being fitted together, is growing into a holy temple for the Lord. In Him, you also are being built together into God’s dwelling place in the Ruach.” Of soos die KJV dit stel: “an habitation of God in the Spirit”. Hier rondom Dag 1361 het ons uitgekom by byvoorbeeld Op. 11:1 waar die opdrag gegee word: “Staan op en meet die tempel van God …”. Hierdie simboliese meting is van elke gelowige as individuele tempel, maar ook van die korporatiewe tempel,  die geestelike huis “met baie wonings” waarvan Jesus die Boumeester en Oprigter is (Joh. 14:2-3; Heb. 11:10). ‘n Belangrike faset van die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel is derhalwe om die omvang van hierdie bouproses in die Gees te verstaan, want daarin setel ons individuele én korporatiewe bemagtiging. Die ondersoek is gerig daarop om die salwing van die Christus-lewe in jou as tempel te bestudeer, die maatstaf van  hoe jy ‘n Christus-bevatter word, te probeer peil.]

  • Sela: Is jy ‘n Christus-bevatter?
  • Lees: 31 en Pred. 1-2
  • Memoriseer: 2:24-25
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Korporatiewe Salwing ‘As it is in Heaven’