Dag 1442-1443

 

“die sewe Geeste van God … uitgestuur … oor die hele aarde”

(Op. 5:6, OAV)

Die opmerksame leser sal dadelik snap waarom Sag. 4:10 ingebring word as ons die tipologiese betekenis van die kraai se heen en weer gevliegery ondersoek. Die proses wat hierdie korporatiewe gees of mantel van Serubbábel fasiliteer, het juis volgens hierdie Skrif te doen met “die oë van die HERE wat die ganse aarde deurloop” én “die skietlood … in die hand van Serubbábel”.

As die Afrikaanse woordjie “skietlood” vertaal word, het dit in verskillende vertalings ‘n verskeidenheid moontlikhede: “stone plummet” (ABP), “weighted measuring-line” (BBE), “stone of tynne” (Bishops), “plummet of tin” (Brenton), “the plumb line” (ESV), “the plummet tin weight” (ERRB), “the last stone” (MSG), “the chosen stone” (NJB) en “the plummet-stone” (Rotherham).

Hierdie wydlopige verklarings kom van die feit dat die woordjie in Hebreeus eintlik ‘n samegestelde woord is, uit twee bronwoorde, naamlik die woordjie ‘eben (“steen”) en die woordjie bedı̂yl (“tin”). Tin kom etlike male in die Ou Testament voor, byvoorbeeld as handel-dryfkommoditeit (Eseg. 27:12). Maar dit word ook gespesifiseer as een van die metale, halfmetale en allooie wat deur die vuur moet gaan om gereinig te word (Num. 21:32-33). In Jes. 1:25 word die suiweringsproses van tin gepersonifieer om die sonde, oortredinge en ongeregtighede van Israel mee te beskryf: “En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog uitsuiwer en al jou looddele wegneem.” (Lood is ongelukkig ‘n verkeerde vertaling – dit moet tin wees. Indertyd is tin egter wit lood genoem.) In Eseg. 22:18-20 word tin, onder andere, genoem as een van die simboliese elemente wat bestem is om in die vuuroond van toetsing te gaan.

Interessant genoeg vertaal die ABP die Griekse ekwivalent van die Hebreeuse woord as “splinter”, in die gedeeltes oor die splinter/balk in jou oog (Matt. 7:3-5; Luk. 6:41-42). Die basiswoord daarvan in Grieks is eienaardig genoeg die werkwoord: “to wither” (Thayer). Uit die alchemie verstaan ons die element tin se betekenis as die asem van die lewe, maar in die sin soos wat 1 Pet. 1:24 dit voorhou: “Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af …” Die woordjie “tin” dra dus dan reeds die onderliggende betekenis van gebrokenheid en sterflikheid (“dissolution” – Alchemy Electronic Dictionary). [Vergelyk byvoorbeeld met die Tin Man in The Wizard of Oz wat “a hollow man of metal” genoem word.]

In hierdie lig gesien, is dit ‘n baie vreemde woord om in kombinasie te sit met ‘eben (“steen”), wat karakteristiek as hard en sterk vertoon, maar in die Skrif word dié woordjie dikwels gebruik in die frase “lewende stene”, soos wat die apostel dit verduidelik in 1 Pet. 2:5 –“ en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus”. Die samevoeging van die twee woordjies wat saam “skietlood” vorm, is met ander woorde absoluut menslik gedetermineerd. Die antieke Hebreeuse piktogram van die woord is ‘n tent en ‘n saadjie: “The pictograph b is a picture of the tent. The n is a picture of a sprouting seed and represents continuity as the seed continues the next generation. The combined meaning of these letters mean ‘the continuing of the house’.” (Ancient Hebrew Lexicon of the Bible). Duidelik dan is hierdie “lewende stene” steeds broos en breekbaar, maar hulle het ‘n ander kwaliteit wat die toets van die vuur deurstaan. Uit die antieke Hebreeus leer ons dat hierdie kwaliteit is dat hulle gevader is (“sprouting seed” = semen) en dat daardeur vir die Vader ‘n geestelike huis gebou word waarin Hy tot in ewigheid (dit wil sê ten spyte van die tydelikheid van asem) kan woon.

Martin Manser se Dictionary of Bible Themes verklaar die begrip skietlood as kommoditeit helder soos volg: “A cord weighted with lead that is used in building to check that vertical structures are true. It is used symbolically to refer to the divine standard against which God, the builder of his people, tests and judges them. It also symbolises the standards by which God will rebuild his people.”

Hierdie lewende stene se baie spesifieke karakter dui dan allereers daarop dat hulle geestelik gevader is.

In Sag. 4:10 lees ons van die sewe oë van die HERE “wat die ganse aarde deurloop”. Hierdie eienaardige verwysing word verklaar deur Op. 5:6, waarin Johannes die volgende sien: “En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.” Die Lam wat geslag is, is duidelik Jesus (Joh. 1:29; Op. 5:9; Hand. 8:32; 1 Pet. 1:19-20), maar met sewe oë, met sewe horings? Duidelik is dit simbolies van aard om iets van die Lam Jesus uit te wys, maar dit is nie ‘n misterie nie – die Skrif maak dit duidelik: die sewe oë IS metafories die sewe Geeste van die Lam. Dit is daardie Geeste wat uitgestuur word “oor die hele aarde”. [Ons kom later in detail terug op hierdie sewe Geeste.]

Maar wat doen hierdie sewe oë? In 2 Kron. 16:9  word dit uitgespel: “want die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is”. Die KJV vertaal dit soos volg: “For the eyes of the LORD run to and fro throughout the whole earth, to shew himself strong in the behalf of them whose heart is perfect toward him.”

Ons het hierbo gesê hierdie lewende stene se baie spesifieke karakter dui allereers daarop dat hulle geestelik gevader is, maar hieruit blyk ‘n tweede karakteristiek: hulle harte is ook onverdeeld gerig op Hom (“perfect toward him”). Die woordjie “perfect” is in Hebreeus die woordjie shâlêm, volgens BDB: “complete, safe, peaceful, perfect, whole, full, at peace” (dieselfde basiswoord as shalom).

Dus, een van die kenmerke van die ware seuns van God, die skietlode, is dat hul gevader is én hul beweeg in die vrede van God. Trouens – hulle bevind hulle in die duisendjarige vrederyk, soos ons dit vroeër verduidelik het. Aan hulle gee God die belofte – nie net sy oë nie, maar sy sewe Geeste beweeg to and fro om ‘n kragveld van volkome outoriteit (= horing; sewe horings =  volmaakte/volkome outoriteit) tot stand te bring vir hulle.

Terug dan by die kraaie. In 1 Kon. 17:4-6 gee God opdrag aan die kraaie om vir Elia (dié simbool van vaderskap) brood en vleis te bring by die spruitjie Krit (Cherith – plek van verbondsluiting). Na die spruitjie opdroog, beveel God hom om Sarfat (refinery) toe te gaan. Die kraaie was dus begeleiers tot  Elia se verbondsluiting, en van daar af moes hy refine word! Die kraai van Noag kan derhalwe ook gesien word as ‘n korporatiewe simbool van die sewevoudige Gees van God wat op grond van sy refined shalem-hart vrygestel is om prototipies die aarde volgens God se nuwe verbondsluiting te karteer.

  • Sela: Is jy geestelik gevader en is jou hart onverdeeld gerig op Hom?
  • Lees: 3-8
  • Memoriseer: 3:11 (uit die Amplified Bible)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Menorah as Tipologie van Salwing en Lig

in jou