“U stuur u Gees uit, hulle word geskape;
en U maak die gelaat van die aarde nuut …”
(Ps. 104:30, OAV)
Terug by Noag en die kraai, en die duif.
Toe Noag aan die einde van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het, het hy DIE kraai uitgestuur “wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters weggedroog het van die aarde af” (Gen. 8:7). Let daarop dat die kraai nie teruggekeer het na die ark nie. Die meeste teologiese kommentare sê hieroor dat die kraai as roofvoël bes moontlik op die drywende oorskot van mens en dier gesit het, selfs daaraan gevreet het en derhalwe nie teruggekeer het nie, maar dit is soos ‘n natuurlike mens oorsaak en gevolg sou inlees. “Die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (1 Kor. 2:14). Die geestelike mens moet alle dinge geestelik beoordeel (vers 15). In die lig van ons studie tot dusver is die kraai dus duidelik die simboliese korrelaat vir die vrystelling van die sewevoudige Gees van God. Kyk hoe word die patroon van sewevoudigheid ná dit gebeur het met reëlmaat gevestig: “Daarop laat hy ‘n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor die aarde verminder het. Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan sy hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring. Daarna het hy weer [LET OP] sewe dae gewag. [Dus is die duif sewe dae ná die kraai uitgestuur.] Toe stuur hy die duif weer uit die ark. En die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was ‘n groen olyfblad in sy bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het. Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif uit. Maar hy het nie weer na hom teruggekeer nie.” (Gen. 8:6-12).
Die pragtige simboliek van die duif met die olyftakkie in sy bek dui nie op vrede soos wat dié simbool wêrelds verklaar word nie. Die duif (as simbool van die Heilige Gees) dra in sy bekkie die simbool van die Christus!
Gaan lees weer Manna Dag 405-406 wat uitwys dat die olyfboom van Rom. 11 nie dui op Israel nie (die vyeboom is hul simbool). Die Olyfboom is duidelik Christus, die Gesalfde. Hý is die Gesalfde (1 Sam 2:35; Ps 2:2; Ps 45:7 en Heb 1:9; Jes 61:1 en Luk 4:18-19: Dan 9:25). Jesus is die Wortel van die olyfboom Christus: “Ek, Jesus, … Ek is die wortel en die geslag van Dawid” (Open 22:16). Die wortel Jesus van die olyfboom Christus se takkie is in die duif se bekkie! In die Gesalfde word sy gesalfdes “olyfbome langs hom” wat “twee goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom” (Sag 4); hulle word die prototipiese getuies van Op. 11:4 wat gestuur word om alles te herskep. Ps. 104:30 – “U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut …”
- Sela: Besef dat wat met Noag gebeur het, ook met jou in die Christus gebeur.
- Lees: 3-5
- Memoriseer: 4:2
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Staan op die Skouers van Geloofshelde en sien
die Verskyning van Jesus