Dag 145

 

“maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg,  sodat Hy nie hoor nie” (Jes 59:2, OAV)

Die laaste bydrae ten opsigte van hierdie tema oor hoe om die stem van God te hoor, gaan ons wy aan dit wat jou verhoed om die stem van die Here te hoor. Dis as ‘t ware asof die Heilige Gees van jou weggeneem word (Ps 51:11). Streng gesproke word Hy nie weggeneem nie (behalwe as jy aanhoudend en moedswillig sondig – Ps 19:13; Eks 21:14; Num 15:30-31; Heb 6:6), maar die Heilige Gees word bedroef (Jes 63:10), weerstaan (Hand 7:51) of geblus (1 Thes 5:19).

Allereers: ongehoorsaamheid.  As jy op ‘n stadium sukkel om die stem van die Here te hoor, is die belangrikste rede hiervoor gewoonlik ongehoorsaamheid. God plaas ‘n groot premie op gehoorsaamheid. Ongehoorsaamheid is eiesinnigheid, verduidelik Paulus in Rom 8:2, en ons weet  “wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens” (1 Sam 15:23). Die ongehoorsaamheid van gelowiges moet verander word tot ‘n gesindheid van regverdigheid (Luk 1:17) – inderdaad: “Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.” (Tit 1:16). Daarom is die meeste kinders van God OOK “kinders van die ongehoorsaamheid” en kom die toorn van God oor hulle (Efes 5:6). In hierdie “kinders van die ongehoorsaamheid” werk nou ‘n ander gees as die Gees van God (Efes 2:2). Daar is volgens Heb 2:2 en 1 Pet 4:17 regverdige vergelding vir ongehoorsaamheid, en een belangrike uitvloeisel hiervan is dat die Heilige Gees uitgedoof word  Ons gehoorsaamheid moet dus eers weer volkome word (2 Kor 10:6) voordat ons weer die stem van God sal kan hoor.

Tweedens: sonde, ongeregtighede en oortredinge kan ‘n skeidsmuur tussen jou en God word. Jy kan net in die teenwoordigheid van God kom met skoon hande en ‘n suiwer hart (Ps 124:4); those “who do not worship idols or make false promises” (GNB). Die oorsprong hiervan lê dikwels nie net by wat jy gedoen het nie, maar veral by dit wat jy gesê het (Spr 4:24; Jak 3:6). Daardeur bedroef ons die Heilige Gees en Hy onttrek (Ef 4:30).

In die derde plek is daar wat ek noem dit wat ons onwetend uit die wil van God laat uitbeweeg: verdrukking, die uitsteek van die vinger (om judgemental te wees), die leuenagtige woord (Jes 58:9); trots (Jak 4:6), verontregting, bitterheid, woede en laster (Efes 4:31), maar ook dit wat ons nalaat om te doen (Jes 58:6, 7 & 10); hoe ons teenoor huweliksmaats is (1 Pet 3:1 & 7; Mal 2:14), emosionele geweld (Mal 2:16), selfs iets wat iemand teen jou het (Mat 5:23). “Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ‘n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry.” (Jes 63:10). Laat die Heilige Gees jou lei om dit wat haper op te spoor. 

  • Sela:  Vra God op ‘n deurlopende basis (maar nou ook) wat daar is wat ‘n skeidsmuur tussen julle vorm.
  • Lees: 1 Sam 31; Spr 3; Gal 3
  • Memoriseer:  Gal 3:28-29
  • Vir dieper delf:  Luister na Matzie Lee se cd-lering: Satan’s secret language of offence & apostasy.