Dag 1451

 

“en op Hom sal die Gees van die HERE rus”

(Jes. 11:2, OAV)

 

In Jes. 11:1-2 word die sewe manifestasies van die sewevoudige Gees van God gelys. Die absoluut interessante is dat die heel eerste een wat genoem word, is “die Gees van die HERE”. ‘n Mens verwag so ‘n benoeming nie as onderdeel van dié geheel nie, want ons stel die Heilige Gees en die Sewevoudige Gees van God nog altyd gemaklik gelyk aan mekaar. Tog het ons uit die voorafgaande Mannas ‘n duidelike onderskeid tussen hulle gesien. Hier nou blyk dit duidelik – die Heilige Gees is ongetwyfeld een onderdeel of faset van die sewevoudige Gees van God!

Die Engelse woordjie spirit kom uit die Latyn, en beteken om asem te haal. Die woorde respiration, expiration, en inspiration kom byvoorbeeld uit dieselfde woordwortel. In Grieks is dit die woord pneuma, wat van die woordjie pneō (“to breathe, to blow” – Thayer) afkomstig is. Die Hebreeuse vorm is die welbekende rûach, wat volgens Strong beteken: “wind; by resemblance breath”. Die basiese analogie van die woord is eenvoudig – net soos die natuurlike mens nie sonder asem kan leef nie, kan die geestelike mens nie sonder die Gees van God leef nie. Die Heilige Gees is die energiekrag waardeur God sy ewige voornemens verwesenlik en sy volmaakte wil laat gebeur.

Die Gees, verduidelik Jesus in Joh. 3:8 aan Nikodémus, is ‘n onsigbare krag, maar het duidelik sigbare manifestasie. ‘n Mens kan nie die wind sien nie, maar aan die ritsel van die boomblare kan jy sien die wind waai. Weliswaar: “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie.” Die naaste hoe dit vir my beskryf kan word, is dat dit ‘n energiepotensiaal het. Dit kan in verskeie vorme manifesteer, maar dit kan nie konkreet in die hand vasgehou word nie.

Uit die fisika weet ons dat energie is die kapasiteit om werk te kan verrig. In Grieks is dit die woordjie energeia en omdat energie en werk die meeste van die tyd saam gebruik word, word die woord meestal vertaal (in Engels) as “working”, soos byvoorbeeld in Ef. 1:18 waar daar oor die funksionering van die Gees gepraat word as: “na die werking van die krag van sy sterkte”. Twee verse later sê Paulus dit is dieselfde krag “wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele”. Later skryf Paulus in Ef. 3:7 dat hy “ooreenkomstig die werking van sy krag” ‘n bedienaar van die evangelie geword het. In die volgende hoofstuk verduidelik hy dat ook die liggaam van Christus “volgens die werking van elke afsonderlike deel” (Ef. 4:6) groei en funksioneer. Daarbenewens – volgens Fil. 3:21 – is dit hierdie werking (energie) “wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam”.

  • Sela: Verduidelik die prentjie hierbo aan die hand van die lering.
  • Lees: 10-12
  • Memoriseer: 11:1-2 (God se heerlike sinchronisiteit!)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die mens as geestelike wese