“be renewed in the spirit of your mind”
(Ef. 7:4, ACV)
Uit die vorige Manna het ons geleer dat alle gees energie is en ‘n werking in ons lewens en in die wêreld veroorsaak. Geen wonder nie die wetenskaplike Nikola Tesla het gesê: “If you want to know the secrets of the universe, think in terms of energy.”
Oorsigtelik gesien – God is die absolute bron of oorsprong van die krag; Jesus is die noodsaaklike geleier van die krag; en die Heilige Gees is die manifestasie, uitdrukking of werking van daardie krag. Dus – God is ‘n Geeswese (in Homself – Joh. 4:24), Hy vertoon Geeskarakteristieke (Luk. 4:18), en bewerk Geesinvloede (Hand. 4:31). Dit is in hierdie lig dan dat God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees definitief één is, en nié drie nie (Deut. 6:4; Mark. 12:29; 1 Joh. 5:7).
As die Skrif sê “God is liefde” (1 Joh. 4:8), sê dit nie: God besit/het liefde nie, nee; dit maak die daadkragtige stelling dat God die substans liefde IS. Dit is sy natuur! En weet jy dat die kwantumfisika wetenskaplik bepaal het dat liefde bepaald ook energie is? Liefde is ‘n krag wat die dinge in sy kragveld verander en beïnvloed. Liefde word onsigbaar oorgedra van een persoon tot ‘n ander. Ons sou kon sê: Liefde IS God.
Ons lees in Rom. 14:17: “Die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.” Eweneens soos met liefde hierbo – die koninkryk het nie geregtigheid, vrede en blydskap nie. Geregtigheid IS die koninkryk. Vrede IS die koninkryk. Blydskap in die Heilige Gees IS die koninkryk! Hierdie geregtigheid, vrede en vreugde IS energie. Waar dit uitvloei, verander dit die omstandighede. Geregtigheid, vrede en vreugde IS Gees. Sela hieroor.
‘n Baie belangrike sleutel in die regulering van hierdie energie is Ef. 4:23 (ACV) – “be renewed in the spirit of your mind”. Let mooi op – dit is nie breingimnastiek of positiewe denke wat die transformasie meebring nie. Dit is die energie-oordrag van God se Gees op jou wedergebore gees (“to and fro”) wat jou denkfakulteit onderdanig maak aan die Gees van die Waarheid (Joh. 14:17; 15:26; 16:13).
Vir my is Spr. 16:3 (AMP) nog my lewe lank ‘n belangrike riglyn in hierdie reguleringsproses: “Roll your works upon the Lord [commit and trust them wholly to Him; He will cause your thoughts to become agreeable to His will, and] so shall your plans be established and succeed.” Dit kan nét deur Heilige Gees-energie geskied. Waarmee jy jou gedagtes vul, sal die energie wees waarmee jou lewe gerig word. Daarom benadruk Paulus in Rom. 12:17 – “bedink wat goed is voor alle mense”, en Fil. 4:8 – “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” Die Mirror Bible stel dit heerlik só: “Live overwhelmed by God’s opinion of you.”
- Sela: “Live overwhelmed by God’s opinion of you.” Bedink dit.
- Lees: 13-15
- Memoriseer: 14:7
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Verruiming van jou Denke