“En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie?”
(Luk. 12:57, OAV)
In hierdie Manna lig ons steeds die wesenseienskappe van “die Gees van die HERE” (Jes. 11:2) toe in ons poging om die eerste van die sewe Geeste van God te ondersoek.
Die vorige Manna het ons uitgebring by die gees van die antichristus wat in alle mense in die wêreld werksaam is, totdat hulle wedergebore is en “die Gees van die lewe in Christus Jesus” (Rom. 8:2, OAV) ontvang.
Weliswaar die grootste bydraer tot die vestiging van die gees van die antichristus is die welbekende lering van (veral die preverdrukkingwegraping-) charismate wat die Antichris as een enkele persoon in die eindtyd sien. 1 Joh. 2:18 spreek homself baie adamant hierteenoor uit: “daar ook nou baie antichriste”, ‘n uitspraak wat reeds in 85 – 95 v.C. geskryf is! The Message stel dit só: “You heard that Antichrist is coming. Well, they’re all over the place, antichrists everywhere you look.” [Gaan lees weer Manna Dag 752 – 754 wat oor hierdie onderwerp handel.]
Hierdie gees van die antichristus word oorgedra deur vals godsdienste, ideologieë wat spruit uit politieke en kulturele denkwyses, soos byvoorbeeld Naziïsme, die mistisisme en die okkult, sekulêre humanisme, paganisme, bepaalde filosofieë en waardesisteme, en veel meer. Selfs Christelike godsdienstigheid kan ‘n poort bied tot die gees van die antichristus. Baie ander blootstellings, soos byvoorbeeld geperverteerde seksualiteit, sekere tipes musiek, kwasi-sielkundige praktyke, immoraliteit, bloedvergieting, vals verbonde, word deur toegewyde bedienaars van die ongeregtigheid as aanvaarbare gedrag voorgehou en sodoende word miljoene mense gevul met die onheilige gees, en word hulle poorte wat ander ook infekteer.
Om hierdie rede vermaan die apostel ons in 1 Joh. 4:1 – “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is …” Die spesifieke genadegawe hier ter sprake, die “onderskeiding van die geeste” (1 Kor. 12:10), is tot beskikbaarheid van alle wedergeborenes. Dis egter nie ‘n gawe wat jy besit nie, maar waarvoor jy God kan vra, Hy “wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt” (Jak. 1:5). Jesus vra pertinent in Luk. 12:57 – “En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie?” Ten grondslag hiervan is die beginsel om te alle tye die Skrif reg te sny (2 Tim. 2:15), maar definitief om “elke dag die Skrifte (te) ondersoek of hierdie dinge so was” (Hand. 17:11). In ons algemene lewenswandel “gee aan die duiwel geen plek nie” (Ef. 4:27) – wees “wys … teenoor wat goed is, maar onskuldig teenoor wat sleg is” (Rom. 16:19).
Ons moet nie vergeet nie dat die gees van die antichristus nie soseer teen die Christus is nie, maar homself voorhou as in die plek van die Christus – dit is in Grieks die betekenis van die voorvoegsel anti-. Dus is die gees van die antichris die instigerende faktor teen almal wat bely dat Christus in die vlees gekom het (d.w.s. nie net in Jesus nie, maar ook in die Christus), soos 2 Joh. 1:7 dit dan ook uitspel: “Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris.”
- Sela: Het jy perdalks die gees van die antichristus?
- Lees: 19-21
- Memoriseer: 19:3 (die “gees van Egipte” is ‘n Ou-Testamentiese ekwivalent van die gees van
die antichristus! – sien asb God se sinchronisasie met die Leesdissipline van elke Manna!)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se lering: Die Gees van Atalia vernietig “the seed of royalty”