Dag 1456

 

 

“wat ons gesien en gehoor het”

(1 Joh. 1:4a, OAV)

 

Ons is steeds besig met die wesenseienskappe van “die Gees van die HERE” (Jes. 11:2), in ons poging om die eerste van die sewe Geeste van God te ondersoek. In die vorige Manna is daar gepraat oor die gevaar verbonde daaraan om alles net deur die vyf sintuie van vleeslike bestaan

te beskou en te beleef. Die sintuiglike waarneming en menslike denke waarvan in 1 Kor. 2:9 gepraat word, vergelyk in géén mate met die geestelike sintuie sintuie nie.

Alhoewel daar dwarsdeur die Bybel sprake is van sodanige geestelike sintuie, is dit van groot belang om te weet hoe om dit op te skerp. Maar voor ons daarby kom, is dit regtig eers van belang om bietjie meer oor die geestelike sintuie te praat.

Die fisiese sintuie wat die vleeslike liggaam bedien, is sig (deur die oë), gehoor (deur die ore), reuk (deur die neus), proe (deur die tong) en voel (deur die vel). Ons praat ook soms van intuïsie as ‘n sogenaamde sesde sintuig (waarvoor daar nie ‘n eksterne orgaan is nie).

Dit is daarom van groot belang dat die apostel Johannes in 1 Joh. 1:1-3 sy belangwekkende brief begin met ‘n groot klem op sintuie: “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe—en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is- wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.”

Soos Johannes in die evangelie van Johannes hoofstuk 1 ‘n saak uitgemaak het vir die oorsprong van Jesus (“Wat van die begin af was …”) as ‘n uitdrukking van die lewe van die Logos van God, en dat dít Sy wesensaard omvat en legitimiteit bied, probeer Johannes hier duidelik ‘n saak uitmaak oor wat hulle as apostels se legitimiteit is om te beweer dat Hy aan hulle geopenbaar is as die Logos, maar ook dat hulle gemeenskap met Hom het, dit wil sê Hom as die vleesgeworde Logos ken. 1 Joh. 4:14  som dit op: “En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het.”

Die woordjie getuig is van groot belang in hierdie argument. Thayer verklaar hierdie woordjie soos volg: “to be a witness, to bear witness, i.e. to affirm that one has seen or heard or experienced something”. Die enigste manier waarop hulle dit uiteraard kon doen, was deur hul fisiese sintuie. Getuienis het dus met sintuiglike rekordgewing te doen. Sela hieroor.

Dit is dan baie insiggewend dat Paulus, wat Jesus nooit fisies geken het nie, Hom NOU anders ken: “Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.” (2 Kor. 5:16). In die laaste gedeelte van vers 17 spel die Mirror Bible dit uit: “The old ways of seeing yourself and everyone else are over. Acquint yourself with the new!”

In die geesrealm is dit ontsaglik nodig om met die geestelike sintuie te werk. Die volgende Manna bestudeer die geestelike sintuie.

  • Sela: Hoe ken jy Hom?
  • Lees: 25-27
  • Memoriseer: 25:7-8 (wat ‘n belofte!)
  • Delf dieper: Luister na Izak van der Merwe se cd-lering: Hoor jy die Stem van die Seun, of Leef

jy uit die Vlees en sodoende onder die Wet?