Dag 1458

 

“… open tog sy oë …”

(2 Kon. 6:17a, OAV)

Baie gelowiges dink dat om in die gees te sien, beteken dat jy duidelik afgeëts in die geesrealm

soortgelyke beelde moet sien soos wat Elisa byvoorbeeld vir God gevra het om sy dienskneg in die gees te laat sien. Let op die spesifieke formulering in 2 Kon. 6:17 – “En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy , dat hy kan sien. En die HERE het die van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.” Uiteraard kon Elísa dit ook sien, want vroeër in vers 16 sê hy: “Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is.” Is dit ook moontlik vir ander gelowiges om dit só te sien?

En die antwoord is eenvoudig – ja, dit is moontlik, maar dit is (on)gelukkig nie die norm nie. Ons lees van sodanige gevalle in die Ou Testament – net ‘n paar voorbeelde ter illustrasie. In Rigt. 13:3 word die verhaal vertel van Manóag se vrou (Simson se ma) wat op ‘n gevorderde leeftyd hierdie ervaring gehad het: “Maar die Engel van die HERE het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: Kyk, jy is onvrugbaar en het geen kinders gehad nie, maar jy sal swanger word en ‘n seun baar.” In vers 6 word soos volg gerapporteer: “Daarop kom die vrou in en spreek met haar man en sê: ‘n Man van God het na my gekom, en sy voorkoms was soos die voorkoms van die Engel van God, baie vreeslik; maar ek het Hom nie gevra waar Hy vandaan was nie, en sy naam het hy my nie meegedeel nie.” Sy kon Hom dus duidelik in die geesrealm sien én sy voorkoms beskryf.

Dieselfde tipe ervaring het gebeur met Dawid, in 1 Kron. 21:16 – “Toe Dawid sy oë opslaan, sien hy die engel van die HERE staan tussen die aarde en die hemel met sy ontblote swaard in sy hand oor Jerusalem uitgestrek. Daarop val Dawid en die oudstes, met rouklere bedek, op hulle aangesig.”

In Num. 22 word die bykans lagwekkende verhaal vertel van Bíleam, en hoe die toorn van God teenoor hom ontvlam het omdat hy weggetrek het; en die Engel van die HERE het gaan staan in die pad as sy teëparty, terwyl hy op sy esel ry en sy twee dienaars by hom was. Wat interessant is, is dat hier ‘n geval is waar dit ‘n dier is wat in die geestelike realm insien, en nie die mens nie: “En die esel het die Engel van die HERE in die pad sien staan, met sy ontblote swaard in sy hand; daarom het die esel uit die pad uitgedraai en die veld ingeloop. Maar Bíleam het die esel geslaan om haar na die pad te stuur.” (vers 23). Die storie vervolg dramaties: “Daarop gaan die Engel van die HERE in ‘n hol pad tussen die wingerde staan—’n muur duskant en ‘n muur anderkant. En toe die esel die Engel van die HERE sien, druk sy haarself teen die muur en druk ook Bíleam se voet teen die muur; daarom het hy haar weer geslaan. En die Engel van die HERE het weer verder gegaan en bly staan op ‘n nou plek waar geen pad was om regs of links uit te draai nie. Toe die esel die Engel van die HERE sien, gaan sy onder Bíleam lê. Daarop het Bíleam baie kwaad geword en die esel met ‘n stok geslaan.” (vers 24-27).  In volgende week se Manna vervolg ons hierdie fassinerende verhaal.

  • Sela: Het jy al iets in die geestelike realm gesien? Dink mooi.
  • Lees: 31-33
  • Memoriseer: 31:1 (watter waarskuwing ten opsigte van hierdie lering is in hierdie vers?)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Natuurlike Gaan die Geestelike vooruit