Dag 1459

 

“Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken …”

(Luk. 24:31, OAV)

Ons kyk tans na Num. 22 waarin die bykans lagwekkende verhaal van Bíleam weergegee word.

In verse 28-29, lees ons, maak die HERE die bek van die esel oop “en sy sê vir Bíleam: Wat het ek jou gedoen, dat jy my nou al drie maal geslaan het? Daarop antwoord Bíleam die esel: Omdat jy die spot met my drywe. Was daar net ‘n swaard in my hand—dan het ek jou sekerlik doodgeslaan.” Nie net sien die esel die Engel van die Here nie, maar God beskik dit ook bonatuurlik dat sy kan praat, en die esel sê vir Bíleam: “Is ek nie jou esel waar jy jou lewe lank op gery het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen?” Vreemd genoeg, praat Bíleam terug met sy rydier, en “hy antwoord: Nee.” (vers 30). Dan lees ons in die volgende vers: “Toe open die HERE die oë van Bíleam, sodat hy die Engel van die HERE in die pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand, en hy het gebuig en op sy aangesig neergeval.” (vers 31).

Wat ‘n merkwaardige gebeurtenis, en een wat ons veel leer oor die geestelike realm. Duidelik is dit soms moontlik dat God jou geestelike oë oopmaak om die ongesiene dinge in daardie onsienlike realm te kan sien. In ‘n groot mate is die boek Openbaring en dele van die boeke Daniël en Esegiël verslagdoenings van mense wat onsienlike dinge van profetiese aard gesien het.

Ons geestelike boekemark het ook ‘n goeie dosis boeke oor mense wat sekere belewenissse in die geestelike realm gehad het, byvoorbeeld Rick Joyner en Frank Peretti, om net twee te noem, al is laasgenoemde outeur s’n grootliks fiksionalisering. Daar is teenstrydige kommentaar van geloofwaardige kenners van die Bybel aan albei kante van die spektrum. Miskien moet ‘n mens dalk net benadruk dat daar ‘n bepaalde goeie rede is waarom God verkies om die meeste van die tyd die meeste gelowiges se geestelike oë NIE te open nie, want dit sal net té oorweldigend wees. Ek moes op ‘n stadium ‘n klompie kinders bedien vir wie in ‘n bekende Charismatiese kerk gebid is dat hulle geestelike oë geopen moet word, en wat hulle geestelik gesien het, het by baie van hulle ‘n absolute gees van vrees geskep.

Daarmee saam – ons geestelike wandel wentel grootliks om geloof, en geloof is per definisie “‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Heb. 11:1). Moet dít nie vergeet nie! In vers 6 word dit uitgespel: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”

Dit is en blý God se prerogatief om jou geestelike oë oop te maak, en Hy sal dit bes moontlik nié doen nét ter wille van die ervaring nie. Geloof moet jou laat sien; immers – glo IS sien! Daar is bepaald dinge wat “sienlik en onsienlik” (Kol. 1:17) is en dit is hoe God dit geskape het. Die realiteit hiervan is die mooiste sigbaar as ons kyk na die verheerlikte liggaam van Jesus, wat vir sommige onsigbaar was, en vir ander wél sigbaar (Joh. 20:14; 1 Kor. 15:5; Matt. 28:17). Of, soos met dié Émmaüs-dissipels wat met Hom onderweg was, maar Hom nie herken het nie, omdat aan die begin “hulle oë weerhou” is, totdat “hulle oë geopen” is en Hy uit hul gesigsveld verdwyn het (Luk. 24:16 & 31).

  • Sela: Was jou geestelike oë al met ‘n geleentheid geopen?
  • Lees: 34-36
  • Memoriseer: 34:14 (is hierdie diere realiteit? Wonderlike illustrasiemateriaal by dié lering.)
  • Delf dieper: Luister hiermee saam na Philip Degenaar se lering: Inception – die

Verbeeldingswêreld as Demoniese Ruimte