Dag 1460-1461

 

“… ’n ruimte van insig …”

(1 Kon. 4:29c, OAV)

‘n Laaste, en dikwels oorgesiene aspek van geestelike sien wat ‘n mens kan takseer as ‘n spirituele sintuig kan voorgehou word in die woordjie insig. Alhoewel dit nie streng gesproke te make het met fisiese sig as korrelaat nie, is dit ‘n baie belangrike manier waarop gesien kan word. Een van die inskrywings onder dié lemma in Dictionary.com verklaar dit as “penetrating mental vision or discernment; faculty of seeing into inner character or underlying truth”. Merriam-Webster hou dit voor as “the power or act of seeing into a situation: penetration; the act or result of apprehending the inner nature of things or of seeing intuitively”.

Kom ons doen allereers ‘n Woordverkenning van hierdie begrip, want dit sal ons help om hierdie bedreigde geestelike sintuig ten alle koste te probeer bekom. Salomo sê dat ons die insig moet roep (Spr. 2:3), ons moet luister om insig te leer ken (Spr. 4:1); trouens –  vers 7 spel dit aforisties: “Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit.”

Ook in die Nuwe Testament staan dié geestelike sintuig vir Paulus voorop. In Kol. 1:9 verwoord hy dit sterk: “Daarom hou ons ook nie op nie, … om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig …” Om kennis van God se wil te verkry, vra onteenseglik dat jy “verligte oë van die verstand” (Ef. 1:18) sal verkry. Derhalwe is Paulus se gebed in 2 Tim. 2:7b – “mag die Here jou insig gee in alles!”.

In The Ancient Hebrew Lexicon of the Bible word insig piktoraal voorgehou as ‘n prentjie van ‘n tent en ‘n uitspruitende saadjie “and represents continuity as the seed continues the next generation. The combined meaning of these letters mean ‘the continuing of the house’.” Hierdie Hebreeuse woordjie, bı̂ynâh, wat vir insig gebruik word, het ‘n absoluut enorme impak, veel wyer as die persoon wat die insig verkry – dit bou ‘n huis [sien Spr. 24:3-4: “Deur wysheid word ‘n huis gebou, en deur verstand word dit bevestig; en deur kennis word die kamers gevul met allerhande kosbare en lieflike goed.” Wysheid, verstand en kennis, sal ons later in ons studie van die sewevoudige Gees vn God sien, is almal geskakeerde attribute van insig, maar ook van mekaar. Hierdie huis het Jesus ook na verwys in Joh. 14:2-3, dié plek wat Hy vir ons in die geestelike realm gereedmaak. Dit is dié huis waarmee ons “uit die hemel oorklee … word” (2 Kor. 5:1-2)]. Maar dit bou nie net ‘n huis nie, dit grondves ‘n generasie! Hierdie insig is allernoodsaaklik om enigsins ‘n nageslag, fisies en geestelik, te laat voortbestaan! Sela.

Wat ‘n ongelooflike genadegeskenk het Salomo dan nie ontvang nie: “En God het aan Salomo wysheid gegee en ‘n baie groot verstand en ‘n ruimte van insig soos die sand wat aan die seestrand lê …” (1 Kon. 4:29)! Soos niks in die Bybel, is ook hierdie vergelyking nie lukraak nie. Die sand aan die seestrand is bepaald ook ‘n verwysing na Abraham se nageslag: “Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie.” (Gen. 32:12). Maar, dit is in die apokalupsis (openbaring) van ware identiteit in Christus óók ‘n ruimte waarbinne daar geprofeteer word oor die nageslag se posisie in hierdie voltrekkende kosmiese oorlog. Net na die opsienbarende gebeure van die Draak wat die Bruid probeer vernietig met vals lering, soos wat dit in Op. 12 van verslag gedoen word, begin Op. 13:1 met hierdie wonderbaarlike sin: “En ek het op die sand van die see gaan staan.” Wanneer dít gebeur, SIEN hy in die geesrealm die mees wonderbaarlike openbaringe.

Hierdie geestelike sintuig word veral ook deur ongelowiges opgemerk. Huram, die boumeester van die tempel van Salomo, wat in die Vrymesselary voorgehou word as Hiram-Abib, is in dié antichristus-organisasie ‘n spilfiguur wat met Jesus Christus gelyk gestel word. Hý spreek die volgende ongelooflike woorde in 2 Kron. 2:12 – “Geloofd sy die HERE, die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het, wat aan koning Dawid ‘n wyse seun gegee het, begaafd met insig en verstand, om ‘n huis vir die HERE en ‘n huis vir sy koninkryk te bou.” The Bible Knowledge Commentary huldig die volgende siening: “Hiram’s acknowledgment of the Lord (Yahweh), the God of Israel, as the Creator of heaven and earth (2Ch_2:12) was just a formal courtesy and tells nothing of his own personal faith.” Dit mag dalk waar wees, maar Rom. 14:11 is die deurslaggewende faktor wat die relevansie van hierdie belydenis uitwys vir wat dit in werklikheid is: “Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.” Huram het reeds gebuig!

So ook berig die goddelose bewind van die koning van Persië oor Daniël: “Daar is ‘n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is: in die dae van u vader is verligting en insig en wysheid soos die wysheid van die gode in hom gevind; daarom het u vader, koning Nebukadnésar, hom as owerste van die geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs, die waarsêers aangestel—u vader, o koning! —” (Dan. 5:11). Hierdie mense is geensins in staat om die ware gees van Daniël te peil nie, en derhalwe ken hulle daaraan die hoogste waarde aan hom toe wat hulle in hul beperkte verwysingsraamwerk ken, naamlik die gees van die heilige gode. En in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het (Dan. 1:20).

Hierdie geestelike sintuig maak die gelowige ook soos die seuns van Issaskar, “met kundige insig wat die tye betref, om te weet wat Israel moes doen” (1 Kron. 12:32), of soos die ERRB dit vertaal as ‘n geestesvermoë van “discernment of the times”.

Die vraag is nou: Hoe verkry mens hierdie insig (Dan. 9:22)? In 1 Kron. 22:12 bid Dawid hierdie sleutelgebed oor Salomo: “Mag die HERE jou net insig en verstand gee en jou aanstel oor Israel; en dit om die wet van die HERE jou God te onderhou.” Insig word nie net verwerf nie; dit kom onteenseglik van God af (Jak. 1:17); dit is ‘n voorwaarde vir heerskappy as koning; en dit is afhanklik van die navolging van die wet. Laasgenoemde, in nuweverbondsterme in die Ou Verbond (!), beteken eenvoudig: “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8). Spr. 3:3-4 benadruk dieselfde waarheid: “Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy genade vind en ‘n goeie insig in die oë van God en die mense.” ‘n Mens verwerf insig deur die goddelike natuur (2 Pet. 1:4)! Saam met insig, wat interessant genoeg ook kan verméérder (Spr. 1:5; 9:9), verleen God daarbenewens óók wysheid en kennis (Dan. 2:21).

Maar insig as ‘n produk van geestelike sintuiglikheid het nog ‘n laaste geheimenis ten grondslag. Die belangrikste oorsprong daar rondom is gesetel in God se vraag aan Job (38:4): “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het.” Hierdie is geen verwyt van God nie. Jy kry dieselfde stylfiguur in byvoorbeeld Jes. 40:14 – “Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?” God spoor ons aan, hits ons aan, om na die geheimenis te gaan soek wat verborge is van voor die grondlegging van die aarde! In Ef. 3:4 verklap Paulus dít dan: “my insig in die verborgenheid van Christus”, en in Kol. 2:2  bid Paulus dat gelowiges “saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus”! Job (11:6) het geweet dat “die verborgenhede van die wysheid [= Christus – 1 Kor. 1:24] die insig verdubbel! Daarom proklameer die gepersonifieerde Wysheid in Spr. 8:14 “ek is die insig”, en is dit dan te verstane dat hy sy Spreukeboek (1:2) open met die frase: “om woorde van insig te verstaan”. Woord, hier, is die Hebreeuse ‘êmer, oftewel: jou rhema-woord!

  • Sela: Bedink die implikasie – jou rhema-identiteit ontvou “die volle versekerdheid van insig”.
  • Lees: 37-42
  • Memoriseer: 40:14 hierbo (Wat ‘n pragtige sinchronisasie!)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Swaardvisse onderweg na die Ooste.