Dag 1462

 

“Vandag as julle sy stem hoor …”

(Heb. 4:7a, OAV)

Die tweede geestelike sintuig waarna ons nou kyk, is die geestelike gehoor. Hierdie geestelike sintuig is een van die heel belangrikste in ons funksionering in die Gees, want baie dinge is afhanklik daarvan om God se stem te hoor. In Joh. 10:27 spel Jesus dit onomwonde uit: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.”

Dwarsdeur die Skrif word daar baie groot klem gelê op die allerbelangrikheid vir ‘n gelowige om die stem van die Here te hoor. ‘n Vers soos Eks. 15:26 dui aan watter premie God plaas daarom om Sy stem te hoor en gehoorsaam te wees: “As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.”

Interessante genoeg wou die volk eerder deur wette en insettinge gereguleer word eerder as om gehoorsaam te wees aan wat hulle gehoor het God sê, bes moontlik omdat laasgenoemde ‘n groter onsekerheidsfaktor daar rondom het. In Deut. 5:25 stel hulle dit só: “Maar waarom moet ons nou sterwe? Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As ons die stem van die HERE onse God nog langer hoor, sal ons sterwe.” Maar ‘n Skrif soos Deut. 8:20 wys juis uit dat die tééndeel waar is: “soos die nasies wat die HERE voor julle vernietig, so sal julle omkom, omdat julle na die stem van die Here julle God nie geluister het nie”.

As God in Deut. 28 aan die volk die seëninge en die vloeke voorhou, word albei baie duidelik gekoppel daaraan om die stem van die Here te hoor. Vers 2 stel dit só: “En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God.” Vers 45 weer: “En al hierdie vloeke sal oor jou kom en jou agtervolg en jou inhaal totdat jy verdelg is, omdat jy nie geluister het na die stem van die HERE … nie.”

Vir my som 1 Sam. 15:22 die Ou-Testamentiese vooropstelling van hierdie saak die duidelikste: “Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.”

In die Nuwe Testament is dit nog van groter belang as vroeër, maar bepaald ook makliker om die stem van die Here te hoor, want ons het nou die Gees in ons wat ons in die hele waarheid lei (Joh. 16:13). Daarom, as refrein, word dit herhaal in Heb. 3:7, 15 en  4:7 – “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.”

Maar, “omdat julle traag geword het om te hoor” (Heb. 5:11), het hierdie baie belangrike geestelike sintuig vir baie gelowiges verlore gegaan. In Manna Dag 112-146 is uitvoerig behandel hoe ‘n mens die stem van die Here hoor. Gaan werk weer daardie Manna deur!

  • Sela: Hoor jy die stem van die Here, en is jy gehoorsaam daaraan?
  • Lees: 43-45
  • Memoriseer: 43:18-19
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Hoe hoor ek die stem van die Here?

[Die lering is ook op dvd beskikbaar.]