“…wie se hart God geroer het …”
(1 Sam. 10:26, OAV)
Die derde geestelike sintuig waarna ons kyk, is die geestelike tas-sintuig. Laat ons begin deur te sê wat hierdie sintuig nié is nie – dit is nie vleeslike reaksies soos hoendervleis oor iets kry nie; ook nie dat ‘n mens ‘n sekere “geestelike gevoel” kry oor ‘n plek of ‘n mens of ‘n situasie nie; ook nie dat ‘n mens onwillekeurige “geestelike gevoelens” en voorgevoelens ervaar nie. Baie van hierdie tipe gevoelenthede is kwasi-geestelik en eintlik streng gesproke net gefiksionaliseerde geestelike belewenisse. Sommige fisiese tas-ervarings van geestelike aard, byvoorbeeld dat mense se hande warm word as daar gebid word, het ‘n demoniese oorsprong (sien Manna Dag 788-790).
Dit is belangrik om te onthou dat die geestelike sintuig van tas het nie ‘n vleeslike of fisiese korrelaat nie, en ons soek dikwels dit en word derhalwe só mislei.
Daar is twee spesifieke wyses waarop hierdie geestelike sintuig funksioneer. Allereers gebeur dit omdat God of die Heilige Gees jou aanraak. ‘n Mooi voorbeeld daarvan kry ons in 1 Sam. 10:26 – “die helde wie se hart God geroer het, het met hom (Samuel) saamgegaan”, “whose hearts God had touched” (ACV). ‘n Mens kry dieselfde konsep net in ‘n ander verwoording in Esra 1:5 – “Toe het die familiehoofde van Juda en Benjamin klaargemaak, en die priesters en die Leviete—elkeen wie se gees God opgewek het om op te trek, om die huis van die HERE wat in Jerusalem is, te bou.” Vir Nehemia (2:11-12) was dit die volgende belewenis: “En toe ek in Jerusalem kom en daar drie dae was, het ek my in die nag gereedgemaak, ek en enkele manne saam met my; maar ek het aan geen mens meegedeel wat my God in my hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie …”
Paulus sê in 2 Kor. 8:16-17 die volgende oor Titus – kyk net mooi na die sinergie van gebeure wat ontvou nádat God Titus op ‘n spesifieke wyse aangeraak het: “Maar God sy dank, wat dieselfde ywer vir julle in die hart van Titus gegee het; want hy het my aansporing wel ontvang, maar omdat hy baie ywerig was, het hy uit eie beweging na julle toe vertrek.” Ook in Op. 17:17 word dit só uitgespel: “Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer …”
Interessant word daar in Hand. 17:27 oor die ongelowige nasies presies die teenoorgestelde gesê, naamlik dat God ook aangeraak kan word: “sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie”.
Onteenseglik is hierdie ‘n geestelike proses van vat en voel dat God ook vat!
Tweedens – as die Skrif praat dat ons die teenwoordigheid van die Here voel, is dit die ander wyse waarop hierdie geestelike sintuig werksaam is. Vanaf die boek Génesis (3:2) lees ons van “the presence of Jehovah God” (ASV). So belowe God byvoorbeeld aan Moses: “My presence shall go with thee, and I will give thee rest.” (Eks. 33:14, ASV), maar van Kaïn word gesê: “And Cain went out from the presence of Jehovah …” (Gen. 4:16, ASV).
Uit Ps. 51:11 leer ons dat die teenwoordigheid van God deur die Heilige Gees se aanraking geskied.
Paulus noem dit in 2 Kor. 2:17 – om “in die teenwoordigheid van God” te wees. ‘n Paar hoofstukke verder brei hy dit uit deur te praat van “in die teenwoordigheid van God in Christus”. Sela asseblief hieroor, veral in die lig van jou nuwe verstaan van Christus, want dit bevestig onteenseglik Jesus se uitspraak in Matt. 18:20 – “Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.”
In 1 Thes. 2:19 maak Paulus hierdie belangrike opemerking: “Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms?” Op hierdie stadium weet ons al uit vorige Mannas dat die begrip “wederkoms” streng gesproke ‘n misleidende vertaling van die oorspronklike Griekse woord is, en dat dié woord parousía éérder vertaal moet word as koms of manifestasie! Ons gaan eersdaags in die Manna op sistematiese wyse hierdie verskillende parousias of komste of verskynings van Jesus bespreek (byvoorbeeld: Hy kom as ‘n bruidegom; Hy kom as ‘n dief in die nag; Hy kom as die laatreën; Hy kom as die verterende vuur; en so meer). Maar belangrik nou is dat elke parousia van Jesus in jou lewe vandag ‘n manifestasie van Sy teenwoordigheid is – letterlik ‘n geleentheid waarin Hy aan jou raak! Onthou jy die koorgedeelte van Elvis Presley se ou bekende gospelliedjie?
He touched me,
Oh, He touched me
And Oh the joy that floods my soul
Something happened and now I know
He touched me and made me whole.
Dit is boonop so ‘n absolute voorreg om te weet dat dít wat Heb. 4:15 (ASV) van Jesus sê, is ‘n onteenseglike waarheid: “For we have not a high priest that cannot be touched with the feeling of our infirmities …” Hy is ‘n hoëpriester wat met ons swakhede medelye het.
Die vierde geestelike sintuig is die geestelike reuk. Dit gebeur soms dat mense in die natuurlike ‘n fisies aangename geur ruik, sonder dat die oorsprong daarvan gevind kan word, maar dit is nie noodwendig dit nie. Ek het al in ‘n toe vertrek gesit en bid en is totaal omgewe met ‘n soet groenappelreuk, en toe ek vra waar dit vandaan kom, kry ek Hoogl. 7:8 – “die geur van u asem (is) soos dié van appels”! 2 Kor. 2:15 stel dit só: “Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan …” Dit begin lyk na ‘n tendens dat die geestelike sintuie veral in en deur die Christus gestalte kry! Dit beteken dat jy as ’t ware die Christus-identiteit van die Bruid kan ruik! Ps. 45:8 verklaar kwansuis dat die klere van die Bruid se geur “is mirre en alewee en kassie”. As jy nou Hoogl. 1:3 hiermee saam lees, word dit veelseggend: “U salf is aangenaam van geur, u naam is soos salf wat uitgegiet is …” Salwing en identiteit in Christus dra ‘n bepaalde geestelike geur wat geruik kan word! Dit is “‘n reuk van die lewe tot die lewe” (2 Kor. 2:16), met ander woorde die geestelike ruik van die identiteite in Christus laat jou lééf! (Die woordjie vir “lewe” hier is zōē, wat nie net gewone lewe is nie, maar die lewe in die allerheiligste!) Hierdie lewens dra die waarmerk van die naelstring van Christus, tipologies weerspieël in Ragab se rooi toutjie wat sy vir Josua in Jerigo uitgehang het (Jos. 2:18 & 21; Matt. 1:5). Die stadsnaam Jerigo beteken dan ook “fragrance”. Paulus verwys op baie plekke in die Nuwe Testament dat gelowiges se geestelike offers ook ‘n aangename geur versprei, spesifiek dan vir God (2 Kor. 2:14; Ef. 5:2; Fil. 4:18) om te geniet.
Vyfdens, ten laaste – die geestelike smaaksintuig. Die Woord daag ons uit: “Smaak en sien dat die HERE goed is …” (Ps. 34:8). Heb. 6:4 wys uit dat gelowiges “die hemelse gawe (kan) smaak”, maar ook “die goeie woord van God”. Hierdie woord is rhema!
Dit is absoluut duidelik dat ons geestelike sintuie direk te make het met die ontvouende geheimenisse in Christus!
- Sela: Begin besef hoe belangrik is jou identiteit in Christus vir jou totale funksionering.
- Lees: 46-51
- Memoriseer: 46:9-10
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Ontmoet die Salfmenger, die Gesalfde, die
Parfuummeester