Dag 1465

 

“… vir die wat geestesvermoëns besit …”

(Heb. 5:14, OAV)

Ons het in die vorige Manna klaargemaak met die vyf geestelike sintuie. Dit was ‘n onderafdeling van die groter tema waarmee ons tans besig is, naamlik ‘n ondersoek na “die Gees van die Here”, een van die sewe Geeste van God wat in Jes. 11:2 só gespesifiseer word.

Alvorens ons egter van die onderwerp van sintuie wegstap, is dit belangrik om een spesifieke Skrif wat eksplisiet handel oor ons sintuie te verreken, en dit is Heb. 5:14 – “Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.” Die Afrikaanse vertaling gebruik redelik digterlike vryheid rondom die begrip “geestesvermoë” (‘n pragtige woord maar ‘n onjuiste vertaling). Die ASV vertaal dit meer korrek soos volg: “But solid food is for fullgrown men, even those who by reason of use have their senses exercised to discern good and evil.” Ander vertalings kontekstualiseer “fullgrown men” nog beter met die begrip “mature people” (CEV). Ek verkies die KJV-vertaling se “strong meat belongeth to them that are of full age”.

Interessant genoeg is die begrip “full age” in Grieks die woordjie teleios, waarvan die basiswoord telos is, wat presies dieselfde woord is wat in 1 Pet. 1:9 gebruik word: “en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele …”. Volgens Thayer word dit ook vertaal as “the end to which all things relate, the aim, purpose”, en daarom word dit ook voorgehou as “eternal”! In hierdie lig bekyk, is dit baie duidelik dat dit nie ‘n einddoel is in die sin van aan die einde van ‘n periode nie (wat dit NIE kan wees nie – gaan lees weer Manna Dag 1410 – 1412). In laasgenoemde Manna word uitgespel: Die woordjie einddoel, in Grieks die woordjie telos, beteken “end … termination, the limit at which a thing ceases to be (always of the end of some act or state, but not of the end of a period of time)”. Die woordjie einddoel mag geensins verstaan word as die toekomstige voltooiing van die heiligmaking van die siel nie!

Maar wat kenmerk diegene wat volwasse is? Wie is hierdie “mature people”, “them that are of full age”, “the perfect” (Douay-Rheims), the “complete” (ANT), “full men” (NLV)? Dit is baie duidelik hulle wat die sintuiglike vermoëns besit, deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

Die vraag is egter – is dit fisiese sintuie of geestelike sintuie? My verstaan is dat dit noodwendig albei moet wees. Om te onderskei (“to discern”) is ‘n natuurlike vermoë van alle mense, maar dit is duidelik ook ‘n geestelike gawe –  1 Kor. 2:15 spel dit uit: “die geestelike mens beoordeel wel alle dinge”. Hierdie “alle dinge” is dan uiteraard natuurlike én geestelike dinge, alle dinge. Om hierdie rede bid Paulus vir die gelowiges in Fil. 1:9 (ACV) – “And this I pray, that your love may abound still more and more in knowledge and all discernment …” Hierdie woordjie in Grieks vir “discernment”, aisthēsis, is egter ook die woord wat vertaal word as “perception”, wat gelyk gestel word aan die begrippe: gewaarwording, insig en begrip. Hieruit is dit absoluut duidelik dat natuurlike én geestelike sintuie goefen moet word om goed en kwaad van mekaar te onderskei.

  • Sela: Is jou sintuie geoefen om goed en kwaad te onderskei?
  • Lees: 52-54
  • Memoriseer: 53:5
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Onderskei die Gees van Waarheid en die Gees

van Dwaling