“Nou het die mens geword soos een van Ons
deur goed en kwaad te ken …”
(Gen. 3:22a, OAV)
Die Skrifgedeelte wat onder die loep is, is Heb. 5:14 (KJV) – “But solid food is for fullgrown men, even those who by reason of use have their senses exercised to discern good and evil.” Ons het afgesluit in die vorige Manna deur te sê dit is absoluut duidelik dat natuurlike én geestelike sintuie goefen moet word om goed en kwaad van mekaar te onderskei. Maar wat sou dit in die praktyk vir my en jou beteken?
Om tussen goed en kwaad te onderskei, kan onmoontlik losgemaak word van die eerste twee mense in die tuin van Eden en God se eksplisiete opdrag aan hulle in Gen. 2:16-17: “En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” In Gen. 3:4-5 word God se opdrag deur die slang geïnterpreteer, en sit hy iets by wat God nié eksplisiet gesê het nie: “Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.”
Dit is ontsaglik belangrik dat die implikasie van die eet van die boom van kennis van goed en kwaad is dat die mens ‘n geestesvermoë verkry het wat God nie oorspronklik vir hulle wou toebedeel nie! Dat die slang dus die waarheid gepraat het toe hy dit vir Mannin gesê het (oor die feit dat hul oë sal oopgaan én dat hulle nie fisies sou sterf nie), is onteenseglik so. Daarom lees ons in vers 7 wat gebeur het nadat hulle van hierdie boom geëet het: “Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.”
In vers 22a bevestig God dat dit wat die slang gesê het, wel die waarheid is: “Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken.”
Die implikasie hiervan is dat alhoewel die mens na die beeld en die gelykenis van God gemaak is (Gen. 1:26), die mens desnieteenstaande sonder hierdie eienskap van God, naamlik om goed en kwaad te ken en te onderskei, geskape is, en dat God hom doelbewus sonder hierdie fakulteit geskep het. Die verdere implikasie is dat die oorspronklik geskape mens se siel en geesdimensie nié geskei was nie, maar as ‘n eenheid gefunksioneer het, derhalwe was hy “’n lewende siel” (Gen. 2:7). Streng gesproke beteken dit ook ‘n ewige siel, wat tóé moontlik was, maar na hul ongehoorsaamheid het dit ‘n siel geword wat moes sterf – “die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eseg. 18:4). [Toegegee – ook diere was lewende siele (Gen. 1:30), maar niks lewend op aarde was tóé aan die verganklikheid onderworpe nie (Rom. 8:21).]
Maar wat presies behels hierdie vermoë of wesensaard waarmee die mens NIE geskape is nie, en wat is die implikasies vir die mens wat dit wél na die sondeval toe ontvang het?
- Sela: Besef dit is allernoodsaaklik om goed en kwaad van mekaar te onderskei.
- Lees: 55-57
- Memoriseer: 55:10-11
- Delf dieper: Luister na Izak van der Merwe se cd-lering: Die Boom van die Kennis van Goed
en Kwaad