Dag 1467

 

“‘n troebel fontein en ‘n vuile bron”

(Spr. 25:26, OAV)

God én slang het die waarheid gepraat oor wat sou gebeur as die mens kies om van die boom van goed en kwaad te eet. Die slang het gesê: julle oë sal oopgaan, en God het gesê: julle sal sekerlik sterwe. Waaroor die slang wel geswyg het, is dat die mens se geesdimensie wel gaan dormant word, en dat sy sielsdimensie wel die dood deelagtig gaan word.

Die eerste mense in die tuin van Eden was dus geskape sonder self-bewustheid. Dit het nie soseer gegaan oor die goed of die kwaad nie, maar oor die kennis daarvan! Die enigste kennis wat Mens en Mannin ná die sondeval verkry het, is ‘n akute selfbewusheid wat skaamte en vrees tot stand laat kom het. Dink byvoorbeeld daaraan hoe ‘n baba onbewus is van sy naaktheid en derhalwe onbevange funksioneer, en hoe met verloop van tyd daar ‘n selfbewustheid ontwikkel. Die oë wat oopgaan, word dikwels net met sig gekoppel, maar dit is ‘n metaforiese stelwyse in Hebreeus om te sê dat dit ook ‘n fontein is (The Complete WordStudy Dictionary).

Hierdie beeld verklaar die bewustheid van die self beter, want daar is nou ‘n ankerplek in die self waaruit daar allerlei dinge kan vloei, maar die bron bly net funksioneer binne die beperkinge van die self. Daarbenewens is die fontein ook ‘n plek waar ‘n mens self-refleksief in die water jou eie beeld in die weerkaatsings kan dophou. Daar is dus baie geleentheid vir distorsies, interfererende rimpelinge, skynbeelde, verkeerde persepsies, en so meer. Hierdie kennis wat nou deur die bewustheid van goed en kwaad IN die mens bewerk word, dra die vrug van die self, maar dan in die sin van selfbeheptheid, egosentrisme, eiebelang, eiesinnigheid, selfsugtigheid; letterlik is alles van-self-sprekend. Omdat mens daardeur die essensiële perspektief van sy Maker en Bron van Waarheid verloor het, het hy en sy verwronge eggo’s van verlatenheid die enigste verwysingsbron geword. En derhalwe het die mens se hart ‘n rowerspelonk (Mark. 11:17) geword, ‘n besoedelde kleed (Jes. 64:6), ‘n fontein wat bitter en brak water laat opborrel, ‘n vrugteboom wat die verkeerde vrugte dra (Jak. 3:11-12), “a refuge of lies” (Jes. 28:17, ASV). ‘n Mens sou dit mooi kon opsom as “‘n troebel fontein en ‘n vuile bron” (Spr. 25:26).

Hierdie eiesinnigheid en selfbeheptheid het die kiemsel van die dood gedra. Die slang wat gesê het: julle oë sal oopgaan, en God wat gesê het: julle sal sekerlik sterwe, het uiteindelik gelykstellend presies dieselfde gesê. Hierdie bewussyn waarin hulle geval het, het die onskuld van hul voor-gevalle staat brutaal getermineer en in hul na-sondevalstaat hul menslike toestand vervloek en beletsel.

Dusdoende kan ons beter verstaan hoe belangrik hierdie hoogspanningsdrama in die Tuin van Eden die wesensaard van die mens verander het. Dit is die verhaal van Adam, die eerste mens, en die korporatiewe vader van die mensdom (1 Kor. 15:22a). Maar dit is terselfdertyd ook die verhaal van Elkerlijck, ElkeMens, elke lewende siel op hierdie aarde, wat iewers êrens in die voortyd gestik het aan die vrug van eiesinnigheid en rebellie. En geval het.

  • Sela: Het jy enigsins ‘n bewussyn van jou val uit die voortyd?
  • Lees: 58-60
  • Memoriseer: 58:12
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Vals Konstrukte – Leef jy in ‘n Geestelike

Illusiewêreld?