Dag 1468-1470

 

“good without knowledge of evil”

(Rom. 16:19, BBE)

Laat ons net ‘n wyle nog stilstaan by die kataklismiese implikasies van die mens se keuse in die tuin van Eden, wat gelei het tot sy staat van sieklike selfbewustheid.

Toe God in Gen. 1:26 gesê het: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis,” was nie noodwendig ‘n oombliklike proses van voltooiing nie. Die inisiële skeppingsproses moes bes moontlik deur bepaalde noodwendige formeringsprosesse of voortdurende (her)skeppingsfases gaan. Die blote feit dat Mens bepaald nié die vermoë van God tot die onderskeiding van goed en kwaad gehad het nie, maak dit duidelik dat daar heel waarskynlik ook ander geesteskwaliteite, wesenseienskappe en karakteristieke is wat die mens vir baie goeie redes nie alles van die begin af volledig of ten volle ontvang het nie.

Dit lyk na ‘n beginsel in die Skrif dat God alles laat ontvou, en dat daar derhalwe altyd ‘n ontvouende vermeerdering is. ‘n Mens sal dan kan praat van die konsep van ‘n regte tyd. [Ek besef die skynbare kontradiksie in terme wat hiermee gepaard gaan, is dat God in ewigheid is en daar (dalk verkeerdelik?) geen tydsontvouing noodwendig bestaan nie, maar hier word tyd meer in die Hebreeuse denkraamwerk bedoel, naamlik dat dit nie ‘n kontinuum van abstrakte opeenvolgende tydsmarkeringe, punte op ‘n tydslyn, is nie. In verskeie boeke oor dié en aanverwante sake word dit uit velerlei hoeke belig: Irrational Man (William Barrett); Christianity With Power (Charles Kraft); Hebrew Thought Compared With Greek (Thorleif Boman); Judaism and Christianity – The Differences (Trude Weiss-Rosmarin), Our Father Abraham (Marvin Wilson), en God in Search of Man (Abraham Heschel).]

In die Hebreeuse taal is daar geen spesifieke woord om aan ons Westerse verstaan van die begrip ‘tyd’ beslag te gee nie. Die woord wat as tyd vertaal word, ‛êth, byvoorbeeld in Eks. 9:8, beteken die moment (“occurrences, occasions” – Thayer) dat iets plaasvind, of gaan plaasvind (“the time of the occurrence of some event” – The Complete WordStudy Dictionary).  Die Ancient Hebrew Lexicon of the Bible verklaar die woord dan ook as “a moment or season”. Die Hebreërs het byvoorbeeld na tyd verwys in terme van hulle landbouaktiwiteite, wanneer dit saaityd is en wanneer dit oestyd is; of volgens die viering van die godsdienstig-rituele feeste; of in verwysing na ander gebeure in die voltrekking van Israel se geskiedenis – die verstaan van tyd was noodwendig gekoppel aan prosesse van ontwikkeling of ontvouing, nooit die dwingelandy van minute, ure, maande, jare nie. Tyd is altyd gebaseer op die beginsel van volledig word, attaining a full measure. Hierdie denkmodus het tyd veral gesien as die opeenvolging van God se reddingsdade, en die fokus is nie op lineêre voltrekking nie, maar op siklisiteit.

Die Grieke se nosie van taal dra swaar aan die las van die Westerse filosofieë en “die wysbegeerte en nietige misleiding” (Kol. 2:8) wat daarmee gepaard gaan. Dat daar veel meer in die begrip ‘tyd’ setel, wat niks met die snelle opeenvolging van tydseenhede te make het nie, word mooi weerspieël in Stephen Hawking, die kosmoloog van Cambridge, se paradoksale boektitel: A Brief History of Time.

Om hierdie rede maak ons ‘n Westerse interpretasiefout as ons byvoorbeeld die uitdrukking in Ps. 90:4 – “duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ‘n nagwaak” tot ‘n streng wiskundige vergelyking wil maak. As Petrus dit aanhaal in een van sy sendingbriewe in 2 Pet. 3:8 – “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.”, dui dit nie soseer daarop dat die gemelde tydperke van een dag en duisend jaar gelyk gestel kan/moet word nie, nee! Dit dui eintlik grootliks op die relativering van tyd as ‘n konsep. Petrus span hier in sy verduideliking van die wederkoms (parousia) die Hebreeuse argument van tyd in: “Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas …” (2 Pet. 3:10-12).

Let asseblief op die logika van die argument – die dag van die Here kom → die hemele gaan met gedruis verbygaan → elemente brand en vergaan → die aarde en die werke wat daarop is, verbrand → TERWYL al hierdie dinge dan vergaan → vra jouself af hoedanig is jou heilige geloofswandel en godsvrug? As die hemele met gedruis verbygaan en die elemente brand, en ook die aarde waarop ek en jy leef en loop, is besig om te verbrand, waarom sal jy jouself dan vra hoedanig jou geestelike wandel en godsvrug is?! En jy moet jouself dit afvra, want dit verwag en VERHAAS die parousias, sê (verse 13 en 14). Jy kan dit nie letterlik verstaan nie!

Ons nuwe verstaan van die wederkoms (parousia) word absoluut bevestig deur die Hebreeuse tydskonsep, so ook ons verstaan van God: “To the Jewish mind, the understanding of God is not achieved by referring to a Greek way to timeless qualities of Supreme Being, to ideas of goodness and perfection, but rather by sensing the living acts of His concern, to His dynamic attentiveness to man. We speak not of His goodness in general but of His compassion for the individual man in a particular situation.” (Heschel, p. 21).

Dis ook belangrik om byvoorbeeld ons hele Westerse verstaan van profetiese sperdatums te hersien in hierdie lig. Die Hebreeuse denkmodus se denke oor “die dag van die Here” is byvoorbeeld geensins, ooit gekoppel aan ‘n voorafbepaalde dag en tyd nie, en is dus absoluut NIE profeties determineerbaar nie.

Hiermee saam moet ons ook ons wanpersepsie van die gelade begrip ewigheid hersien. Ons Westerse denke knoop óf tydloosheid, óf oneindige lang tye aan die begrip, aan-en-aan, ad infinitum; albei is per definisie totaal gebrekkig. The Parkhurst Lexicon sê dat die woord vir ewigheid “(should) be used much more for an indefinite than for an infinite time”.

Die eerste konsep “dat daar geen tyd meer sal wees nie” word so wrintiewaar gehaal uit die Bybel uit, spesifiek uit Op. 10:6! Maar dit is ‘n verkeerde vertaling! Dat die omvangryke begrip tyd met só ‘n (ge)maklike vertalingshandgreep ‘n streep deur getrek word, gaan my verstand te bowe! Die korrekte vertaling daarvan is soos die ASV dit voorhou: “there shall be delay no longer” – ‘n ongelooflike ander verstaan!

Die tweede konsep, word klakkeloos gesing, met veraf, starende oë na die hemelgewelf opgehef, deur hierdie versie van die bekende geestelike lied ‘Amazing Grace”:

When we’ve been there ten thousand years,

bright shining as the sun.

We’ve no less days to sing God’s praise,

than when we first begun.

Dit klink baie geestelik, maar dit is helaas totaal onwaar. Ewigheid is nie noodwendig tydloosheid, óf oneindige periodes van tyd nie. Selfs in die Griekse taal is dit nie die geval nie.

Ellicott’s Commentary on the Whole Bible stel kategories die volgende: “the Greek word which is rendered ‘eternal’ does not, in itself, involve endlessness, but rather, duration, whether through an age or succession of ages, and that it is therefore applied in the N.T. to periods of time that have had both a beginning and an ending (Rom. 16:25), where the Greek is ‘from aeonian times;’ our version giving since the world began.’ (Comp. 2 Tim. 1:9; Tit. 1:3)–strictly speaking, therefore, the word, as such, apart from its association with any qualifying substantive, implies a vast undefined duration, rather than one in the full sense of the word ‘infinite.’”

Hasting’s Dictionary of the New Testament (Vol. 1, p. 542) spel uit: “There is no word either in the O.T. Hebrew or in the N.T. Greek to express the abstract idea of eternity.” Dus, kortom: “The O.T. and the N.T. are not acquainted with the conception of eternity as timelessness.” (The Interpreter’s Dictionary of the Bible, Vol. IV, p. 643). Om saam te vat, hierdie sterk uitspraak van Charles H. Welch, in An Alphabetical Analysis (Vol. I, p. 52): “What we have to learn is that the Bible does not speak of eternity. It is not written to tell us of eternity. Such a consideration is entirely outside the scope of revelation.”

Jesus se eenvoudige definisie van ewige lewe in Joh. 17:3 is die basiese verklaring van wat ewigheid beteken: “En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” Om Hom te kan ken, is ewigheid – ‘n definsie totaal los van tyd.

Terug by die konsep van tyd. Pred. 3:1 stel hierdie algemeen-geldende waarheid: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd …” Dit sou eweneens kon beteken dat selfs in die voortyd, wat streng gesproke in ewigheid, dit wil sê in intimiteit met God was, daar tog ‘n sekwens van gebeure moes wees! Dit was egter nie aan horlosietyd of chronostyd onderhewig nie, maar deel van die ontvouing van alle dinge. Ef. 2:10 (KJV) sê byvoorbeeld: “For we are his workmanship, created in Christ Jesus for good works, which God prepared beforehand, that we should walk in them. Daar was dus in die voortyd ook ‘n sekwens van gebeure, ‘n ontvouing van aksie! Sela!

In hierdie bedeling waar tyd wel werklikheidsgewys ‘n noodwendigheid is van ons bestaan, is dit baie belangrik om die Hebreeuse nosie daarvan deurentyd in gedagte te hou. Kyk byvoorbeeld na die volgende Skrifte wat almal praat van ‘n spesifieke tyd:

  • “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.” (Rom. 5:6)
  • “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Gal 6:9)
  • “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd …” (1 Tim. 2:5-6)
  • “Paulus … in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het, en op die regte tyd sy woord bekend gemaak het deur die prediking wat aan my toevertrou is” (Tit. 1:1-3)
  • “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.” (1 Pet. 5:6)

Terug by die tuin van Eden. Ons het hierbo gesê: die inisiële skepping was nie noodwendig ‘n oombliklike proses van voltooiing nie. Die skeppingsproses moes bes moontlik deur bepaalde noodwendige formeringsprosesse of voortdurende (her)skeppingsfases gegaan het. God het die mens duidelik geskep sonder om volledig te wees, met die volle potensiaal van Sy wese, maar in ontvouende prosesse van besitname. Die mens moes as ‘n onskuldige, innocent, wese IN HIERDIE ONTWIKKELINGSTADIUM VAN DIE MENS gewees het, “that you may be wise in what is good without knowledge of evil” (Rom. 16:19, BBE).

  • Sela: Verduidelik die Bybelse tydbegrip aan iemand.
  • Lees: 61-66; Jer. 1-3
  • Memoriseer: 66:1
  • Delf dieper: Lees enige van die boeke hierbo genoem.