“Nothing was wanting … for the ministry of the tabernacle, and for the roof of the covenant.” (Ex 39:40, DRB)
Die tabernakel het in die veld gestaan, ‘n konstruksie van honderd el lank en vyftig el breed. Hierdie konstruksie het bestaan uit ‘n totaal van sestig pale (bes moontlik van akasiehout): 20 elk aan die suide en die noorde, en 10 elk aan die ooste en die weste. Dit is behang met fyn binnedraadlinne wat ‘n binneruimte soos ‘n reghoek tot stand gebring het wat dit afgesonder het van die woestyn daarbuite. Aan die oostekant was ‘n poort of opening wat in dieselfde kleure geweef is as die kleure van die voorhangsel, m.a.w dit gee reeds ‘n voorsmakie van wat voorlê!
Die hele grondgedeelte van die tabernakel is nie geplavei nie en was derhalwe direk in kontak met die woestynsand (in sterk teenstelling byvoorbeeld met Salomo se tempel – sien 1 Kon 6:30). Rondom die tabernakel was die tente van die Leviete, maar in sirkels daaromheen was die twaalf stamme gegroepeer, drie aan elke kant, ‘n duidelike argitektoniese formasie van enorme omvang, met duidelike strategiese orde en presisie. Die tabernakel het duidelik die hart van die Israeliete in die woestyn gevorm. In die woestyn spruit “‘n wortel uit droë grond” (Jes 53:2)!
Die wit tabernakel moes ‘n sterk kontras gewees het met die swart bokhaartente (Hoogl 1:5) daarnaas, ‘n verdere anders-heid tussen dit wat in die wêreld was en dit wat die koninkryk van God verteenwoordig het. Die wit linne, verduidelik Open 19:8, dui op geregtigheid, dit wat “wit soos wol” (Jes 1:18) is. Dis nie vreemd dat die Oue van Dae (wat beter in Engels klink as the Ancient of Days), Jesus, se kleed en hare soortgelyk beskryf word (Dan 7:9; Open 1:14). ‘n Mens verstaan dat Dawid in Ps 84:2 kon uitroep: “My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God.” Dis die begeerte om in Christus opgeneem te word, wat uitgespreek word. Binne Hom, die Tabernakel (Heb 9:11; Open 21:3), word jy wit (Gen 49:12; Ps 51:7) en afgesonder, letterlik geheilig! Die beeldspraak is duidelik. Buiten Christus is daar geen moontlikheid om rein te kan word nie. “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” (1 Joh 3:3).
In Hoogl 3:6-8 word die sestig pilare gepersonifieer as ‘n weermag (Joël 2:7) van 60 man wat die “draagstoel” (‘n draagbare hemelbed is ‘n beter vertaling) van Salomo (hier verteenwoordigend van die Koning!) as valiant men beskerm (‘n pilaar is sinoniem met krag en sterkte – Jer 1:18 en 1 Kon 7:21). Die tabernakel is dus God se bed, sy rusplek (Num 10:33 & 35), waarbinne sy verlostes tot rus kom (Mat 11:29)! Dus, die teenwoordigheid van God “dwelleth within the curtains” (2 Sam 7:2).
Nothing was wanting … Hy was, en is, vandag steeds, genoeg. “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Hand 4:12). Én: HY alleen, geen mense nie, vorm die covering (“the roof of the covenant”).
- Sela: Die beeld van die weermag uit Joël 2 het veel wyer implikasies. Bedink.
- Lees: 2 Sam 1; Spr 4; Gal 4
- Memoriseer: Gal 4: 6-7
- Vir dieper delf: Lees hfst 1 van Kelly Varner se The more excellent ministry.