“as julle nie verander en soos die kindertjies word nie”
(Matt. 18:3, OAV)
In die Manna waarmee ons tans besig is, staan ons net ‘n wyle nog stil by die kataklismiese implikasies van die mens se keuse in die tuin van Eden, wat gelei het tot sy staat van sieklike selfbewustheid. ‘n Belangrike bevinding van die vorige Manna is dat God beplan het dat die inisiële skeppingsproses bes moontlik deur bepaalde noodwendige formeringsprosesse of voortdurende (her)skeppingsfases moes gaan. Die blote feit dat Mens bepaald nié die vermoë van God tot die onderskeiding van goed en kwaad gehad het nie, maak dit duidelik dat daar heel waarskynlik ook ander geesteskwaliteite, wesenseienskappe en karakteristieke is wat die mens vir baie goeie redes nie alles van die begin af in volledig of ten volle ontvang het nie. Die skeppingsproses sou onbeperkte ontvouende prosesse neem om te voltooi. Derhalwe noem die Skrif hierdie staat toe hulle naak was, maar hulle hul nie geskaam nie (Gen 2:25), in piktorale Hebreeus: “child drawn in”, “the bringing in and holding close of an infant to the breast” (AHLB). Dit word verder toegelig as: “A state of innocence as an infant … innocent, guiltless, … blameless”.
Alhoewel die mens dus byvoorbeeld intelligent en denkend was, was hy salig onbewus van lewe en dood, goed en kwaad, reg en verkeerd, wysheid en dwaasheid. Ten opsigte van hierdie gewigtige sake was hy maar bloot net soos ‘n kind, onvolwasse, onervare en onvoorbereid. Op grond van God se wesensaard, liefde (1 Joh. 4:8), moes elke geskape wese die reg tot keuse gehad het, want liefde is onmoontlik sonder keuse – niemand kan op liefde aanspraak maak sonder dat daar keuse is nie. ‘n Mens kies om iemand lief te hê.
Die oorspronklike mens se verstaan van dinge was ongekontamineer, en – soos ‘n kind – moes hy in onskuld gehoorsaamheid leer deur wat hy gely het (soos wat ook van Jesus in ‘n ander konteks gesê word – Heb. 5:8). Verder in die Hebreërboek word die belangrikheid van en rasionaal agter hierdie opvoedingsproses uitgespel: “En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.” (Heb. 12:5-8).
Mens is dus in onskuld geskape, maar met ‘n duidelike opdrag om die lewe te kies (Deut. 30:19), maar hy het die teenoorgestelde gekies. Dit het resulteer in ses millenia waarin die mensdom onder God se doelgerigte korreksie moes leef. Alle hartseer, pyn, teleurstelling, gebrokenheid, siekte en stoet deur die eeue het die mens aan hierdie verkeerde keuse herinner en het hy swaar onder die teer hand van God se genadestraf geleef. Dit het ten doel gehad om die mens tot volwassenheid te laat kom, in die gestalte van die beeld van God, in wie se gelykenis hy geskape is. Daarom dat Jesus voorhou in Matt. 18:2-3: “Toe roep Jesus ‘n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!”
- Sela: Hoe word mens soos ‘n kind?
- Lees: 4-6
- Memoriseer: 6:29 (bedink ook die reikwydte van hierdie paslike vers)
- Delf dieper: Luister na Karin Reynolds se lering: Van Koningskroon tot
Doringkroon