“die verborge mens van die hart”
(1 Pet. 3:4, OAV)
Oorkoepelend gesien, is ons steeds besig om die wesenseienskappe van “die Gees van die HERE” (Jes. 11:2) te ondersoek en te probeer bepaal hoe dié eerste van die sewe Geeste van God distinktiewe funksies het.
Soos wat ons met die vorige Manna gevorder het, is dit nou moontlik om by ‘n belangrike deel van ons verstaan van die innerlike mens wat deur die Gees herskep word, uit te kom.
Met wedergeboorte vind daar ‘n ongelooflike geheimenis plaas – die totstandkoming van “die verborge mens van die hart” (1 Pet. 3:4). Dus, soos 1 Kor. 15:44b dit eenvoudig uitspel: “Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.” Hierdie onderskeid is van die allergrootste belang, en die bron van baie verwarring. Vir baie lank het ons die twee liggame beskou as net een mens/liggaam.
Die natuurlike mens, het ons altyd gesê, is vandat Adam in sonde geval het, die dood deelagtig geword het, en sy gees het gesterf of dormant geword. Deur die die eeue is elke mens dus met net ‘n fisiese liggaam en ‘n sielsdimensie, en dan ‘n dormante gees, gebore. Ons het dus die natuurlike mens simplisties só takseer.
Maar – met die skepping van Mens het God lewe of asem in hom geblaas, en daardie asem is definitief ook die woordjie gees – só het hy dan ‘n “lewende siel” geword (Gen. 2:7). Alle diere het eweneens ook hierdie asem/gees van die natuurlike lewe (Gen. 1:30), anders sou hul nie kon asemhaal en leef nie. Dus is alle lewende diere ook lewende siele! Besef dan nou – die natuurlike mens het ‘n natuurlike, tydelike liggaam, ‘n lewende siel én ‘n lewende gees. Hierdie gees laat hom, soos die diere, bloot bestaan, dit is nie volgens ons vorige definisie van gees die vermoë om met God gemeenskap te hê nie.
Die geestelike liggaam kom tot stand met jou wedergeboorte. Duidelik is hierdie enigmatiese, ewige liggaam nou deel van die Liggaam van Christus! Dis ‘n distinktiewe verheerlikte liggaam, dit wil sê ‘n liggaam vol heerlikheid, met ander woorde: ‘n liggaam vol genade en waarheid (Joh. 1:17), maar die liggaam funksioneer as ‘n eenheid binne die Liggaam van Christus (Joël 2:7-8). Hierdie “nuwe skepping” (2 Kor. 5:17) ontvang dus ‘n lewende gees (wat met die sondeval dormant geword het), en besit ‘n korporatiewe siel (waaroor uitvoerig geskryf is in Manna Dag 1416-1421). Nou kan my wedergebore gees ook gemeenskap hê met die Heilige Gees, wat ek deur handoplegging ontvang het. 1 Kor. 12:13 spel dit soos volg uit: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam … en ons is almal van een Gees deurdronge.” En dan hierdie geheimenis: “But he that is joined to the Lord is one Spirit.” (1 Kor. 6:17, Darby).
Maak hierdie absolute kernlering vir jouself vas – elke wedergeborene het ‘n aardse tentwoning, soos alle mense (met liggaam, siel en gees) EN ‘n gebou van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele (2 Kor.5:1), met liggaam, siel en gees.
- Sela: Verduidelik hierdie openbaring aan iemand.
- Lees: 10-12
- Memoriseer: 10:12
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die einddoel van jou geloof, die saligheid
van jou siel?