Dag 1474

 

“But he that is joined unto the Lord is one spirit.”

(1 Kor. 6:17, ASV)

Ons is besig om die wesenseienskappe van “die Gees van die HERE” (Jes. 11:2) te ondersoek en probeer bepaal hoe dié eerste van die sewe Geeste van God distinktiewe funksies het.

Een van die heel belangrikste Skrifte oor die misterie van ons as vleeslike mense se verbintenis met die Gees van die lewende God (2 Kor. 3:3) is in die Skrif van 1 Kor. 6:17 (ASV) opgeneem: “But he that is joined unto the Lord is one spirit.” Bedink net vir ‘n oomblik hierdie ontsaglike groot geheimenis – één gees met die Gees van God. Dit beteken nie dat die wedergebore gees van my innerlike mens IS nou ipso facto die Heilige Gees nie, nee – daar is steeds twee entiteite: my gees en die Heilige Gees, maar dit funksioneer as een gees. [Analogies sou ‘n mens kon verduidelik ek en my vrou is een vlees, en een gees, soos Gen. 2:24 en Mal. 2:14-16 dit voorhou, maar ons funksioneer steeds apart.]

Om hierdie geheimenis te snap, kan ons die voorbeeld van gewone water gebruik. Water se chemiese simbool is H2O, wat beteken dat die substans van water uit ‘n fusie van twee ander onverwante elemente bestaan. Daar is waterstof en daar is suurstof, wat elk aparte entiteite is, maar wanneer hulle in spesifieke verhouding en met spesifieke eenheidshoeveelhede saamgevoeg word, word hulle ‘n totale nuwe entiteit, water! Iets nuut, iets anders, iets van ‘n ander aard of dinglikheid. Twee gasse word wonderbaarlik ‘n vloeistof, ‘n totaal ander kwaliteit substans met ‘n gans ander aard. Hoe ongelooflik is dit nie! As ek water drink, ‘drink’ ek nie waterstof en suurstof nie – ek drink ‘n totaal nuwe skepping (“a new creation” – 2 Kor. 5:17, LITV).

‘n Ander voorbeeld: 1 Kor. 12:12  sê: “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.” Die een Liggaam, wat die Bruid van Christus is, is byvoorbeeld nie die somtotaal van al die individuele gelowiges wat dit sou vorm nie – dit is ‘n totaal ander entiteit met ‘n totaal eie aard. Die somtotaal is veel meer as die onderdele.

God gebruik hierdie eenvoudige beginsel van samevoeging om alles wat in die fisiese werklikheid bestaan, substans te gee – dit is ‘n duiselingwekkende geestelike krag.

Dit is belangrik dat ons die woordjie “joined” in die Skrif hierbo reg sal verstaan. Die betekenis van die woordjie in Grieks is volgens Thayer: “to glue, to glue together, cement, fasten together”. In Hebreeus dra die woordjie “Levi”, die naam van die priestergroep van God, hulle wat hulself ge-separate vir God, aan wie hulle hulself onverdeeld ge-join het, dieselfde betekenis. Die priesterskap van God deur die eeue se wesenskenmerk is dat hulle aan hul Bruidegom gegom is, derhalwe hierdie uitspraak van Paulus in 2 Kor.11:2 – “Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel.”

  • Sela: Is jy vir die Bruidegom afgesonder?
  • Lees: 13-15
  • Memoriseer: 13:17
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Part of God’s new Priesthood redeeming all

things unto Him